POSTED BY Steven Sass on 19:55 under
Peto se begrafnis 9 Augustus 2013 Kwagga
Hebreërs 12:1-3
Met hierdie Skrifgedeelte word ons meegevoer met ‘n bepaalde beeld oor iets wat voor ons oë sou afspeel. Die beeld word geskets deur te verwys na die skare geloofsgetuies rondom ons...

 Met ander woorde ons moenie verwar word met die gedagte dat die beeld dalk verwys na onsself nie. Ons moenie byvoorbeeld dink dat ons wat deel is van vandag se kerkgangers hier in die kerk die skare van geloofsgetuies is nie. Dit verwys eerder na die engele rondom ons wat reeds die goeie wedloop van die lewe suksesvol voltooi het...hulle wat nou in die arena van die hemele sit en afkyk op ons wat besig is met die lewe, tans besig is met die wedloop van die lewe.

Hulle is nie hier om dowe neute nie. Een kommentaar stel dit so mooi: “ They are to be distinguished from the fickle approach of those whose only desire is to be entertained...” Hulle is dus nie hier in ons midde om na ons as spektakels neer te kyk nie. Hulle doel hier is veral nie om dalk hulself te wil vermaak met ons hartseer, of dalk ons onsuksesvolle pogings om ons hartseer te beheer, of ons onsuksesvolle pogings om sin te maak uit hierdie week se hartseer gebeure nie. Hulle is eerder hier om vir ons ‘n voorbeeld te wees van die vreugde van die oorwinning van Jesus wat in hulle is, en verder ook om vir ons tot aanmoediging te wees!

 Hulle blote teenwoordigheid moet ons dus aanmoedig om deur te druk, aan te hou en uit te hou...veral onder bittere moeilike omstandighede soos vandag en veral sedert vroeer die week toe ons die hartseer nuus ontvang het van die heengaan van ons wonderlike vriend, broer, seun Daniël....Dis asof mens die groot skare geloofsgetuies kan hoor hande klap en sing om ons aan te moedig, om ons te bemoedig...

 Ons word dus aangemoedig om ook ons lewenswedloop soos die groot skare geloofsgetuies rondom ons suskesvol te voltooi....

 Maar die groot vraag bly dan steeds: “Hoe doen ‘n mens dit? Hoe voltooi jy die wedloop met suskes?” Eerstens is daar ‘n gewigtige kwessie, ‘n fokus op die negatiewe... die gewig van alles wat ons terughou in die lewe moet afgegooi word. Netsoos ‘n atleet moet sorg neem met sy of haar liggaam, deur ontslae te raak van oortollige vetjies, netso moet ons met ons lewens maak. Ons moet ontslae raak van die dinge, of veral sondes wat ons terughou van die wenstreep. Alles wat ons oog van die oorwinning wat daar aan die kruis op Golgota gemaak is moet uit ons lewens verwyder word....Is daar sulke dinge dalk op die oomblik waarvan jy bewus is in jou lewe? Maak dan ‘n plan....onmiddelik sommer nou hier in die kerk!

 Ons het veral hierdie week weer opnuut besef hoe vreeslik kosbaar tyd is....Ons het dit aan ons velle kom voel dat dit nie ons self is wat bepaal hoeveel tyd ons op hierdie aarde, in hierdie pragtige vallei, mag woon en werk nie....

Die volgende element wat nodig is om ook jou wedloop suksesvol te voltooi is om juis dit te doen wat die gedeelte se opskrif vir ons so duidelik kom sê het... “Die oog moet op Jesus gevestig wees” ....

Ons het nou mos weereens besef dat ons fokus op Jesus moet wees...nie op onsself, ons eie dinge, ons sondes, ons begeertes...die dinge wat ons nog wil of moet of kan doen nie, maar juis op dit wat Jesus reeds vir ons kom doen het... Ons geloof kan nie gerig wees op dinge wat nog moet gebeur nie, wat ons nog persoonlik wil vermag nie, maar juis diepgewortel in dit wat klaar gedoen is...

Ek weet baie van ons voel mos vandag dat Daniël te vroeg van ons weggeneem is... daar was mos nog so baie planne... baie van ons dink ook dalk as ons maar net geweet het, as ek maar net vroeër die gevaartekens kon raaksien, as ....as.....as. Maar as jou oog vanoggend op hierdie klomp asse gerig is, gaan jy nie veel troos kry nie, gaan jy dalk geestelik moeg word,  en gaan jy dalk so mismoedig word dat jy nie eers weet van die groot skare geloofsgetuies rondom ons nie....

Ons geloof moet nie uit “as”...bestaan nie, maar eerder uit OMDAT! Omdat Jesus vir ons sondes aan die kruis gesterf het, moet ek my oog op Hom hou, Omdat Jesus my Persoonlike Redder en Verlosser is sal ek nie moed verloor nie, want Hy is mos by my. Ek kan hieraan vashou in tye soos hierdie, want my oog is op Jesus.

Ek word vertroos deur die wete dat Jesus vir ons ook ‘n plek in gereedheid gebring het, dat Hy die beste weet, dat Hy in beheer is! Daarom is ek nie bang nie, daarom is geen stadsmuur vir my te hoog nie, en daarom is ek nie eers bang vir die dood nie... Omdat hierdie dinge ook waar is vir jou en vir my, omdat dit veral ook waar was van Daniël, omdat hy Jesus geken het, omdat hy so ‘n saggeaarde liefdevolle vriend van ons almal was, omdat Jesus hom so gemaak het....moet ons oog nie wees op dood en siekte en grafte nie, maar op die nuwe lewe in Jesus. Op die oorwinning wat elkeen van ons ook het in Jesus...die oorwinning wat Daniël op hierdie oomblik in God se troonkamer smaak, en ervaar.


Daarom, maak jou oë oop, maak jou ore oop, Daniel en die groot geloofskare rondom ons is besig om vir ons te cheer! Hulle moedig ons aan om nie moed te verloor nie, om aan te hou en uit te hou! Dis die moeite werd....dis al wat saakmaak...!
0 Kommentaar: so far: