18 Augustus 2013 Patensie
Van gesiene gemeenskapslede tot
verworpe kluisenaars
Genesis 19:29-38
Die verhaal
van Lot is ‘n tragiese verhaal. ‘n Verhaal van ‘n man wat op positiewe noot
begin, maar op tragiese wyse eindig. Hierdie verhaal is ingeweef in die Abrahamsverhale
omdat dit so nou daarmee verbind is. Dit vorm deel van ‘n groter verhaal: die
verhaal van die volk Israel se beginjare wat tydens die ballingskap geskryf is.
Die hoofdoel van hierdie omvattende werk, wat die boeke Genesis, Eksodus,
Levitikus en Numeri omvat, was om aan die moedelose gemeenskap te sê dat die
Here in beheer van sake is.
Uit liefde skep Hy en hou alles in stand en is
op besondere wyse besig met Sy kinders. Wat Hy vra, is dat Sy kinders op Homs
al vertrou en na Homs al luister.
Deur die
verhale word die verskillende wyses waarop die mense gereageer het op Sy
betrokkenheid by hulle lewens belig. Die verhale dien dan as spieëls waarin die
lesers hulle eie lewens kon sien en evalueer. Die verhale roep ons op om ons
eie lewens onder die soeklig te plaas. Dit is ook die geval met die tragiese
verhaal van Lot.
Lot was die
broerskind van Abraham. As Abraham wegtrek op bevel van die God, neem hy Lot
saam. Dit was meer as wat op die oog af blyk. Abraham neem vir Lot aan as sy
seun, dit was in ooreenstemming met die aannemingsgebruike van daardie tyd, en
Lot was dus die aangenome seun van Abraham.
Op materiële
gebied gaan dit baie goed met Lot. Hy was nie alleen die aangenome seun van ‘n
welvarende man nie, maar het self ook gewoeker en ryk geword. Trouens, die
gesamentlike besittings van Abraham en Lot het so baie geword dat Abraham gesê
het dat die land nie albei se veestapels kon dra nie.
Ongelukkig
blyk dit dat daar spanning tussen pa en seun gekom het. Dit het uitgekring na
die slawe van die pa en seun en so kom die huishoudings in botsing. Hulle paaie
skei. Abraham gee aan Lot die eerste keuse, en hy kies toe die beste deel en
stel so sy eie belange voorop. Die streek wat hy kies het so volop water soos
die tuin van die Here. Dit bly tragies as pa en seun se paaie skei en as die
seun boonop die beste vir homself kies.
Is hierdie
verhaal nie iets wat ons ook goed ken nie? Materiële voorspoed bring nie
noodwendig geluk nie. Daar kom spanning. Die paaie skei. Die kinders kies die
beste en laat die ouers met die res.
Na ‘n rukkie
beland Lot saam met die inwoners van sy
nuwe tuiste in die moeilikheid en Abraham snel hom te hulp en help hom. Dit lyk
of dit aanvanklik goed gaan met Lot in sy nuwe omgewing. Hy was op ‘n tyd ‘n
gesiene inwoner...maar dan verander alles.
Die Here gryp in en wil die stad vernietig
vanweë al die onreg wat gepleeg word en Lot en sy gesin moet vlug. Hy verloor
alles wat hy gehad het en gaan vestig hom vir ‘n kort rukkie in Soar. Dan
verlaat hy die stad en gaan woon met sy twee dogters in ‘n grot. Van vermoënde
man tot grotbewoner. Van gesiene gemeenskapsleier tot kluisenaar. ‘n Tragiese
verhaal.
Miskien is
die verhaal ‘n herkenbare verhaal. Weet ons nie ook van mense wat amper
dieselfde paadjie moes loop nie? Weet ons nie ook van mense wat alles verloor
het nie? ....Mense verloor partykeer ook alles....
Die mees
tragiese van die verhaal kom egter nog. Lot se dogters sê dat hulle nie op die
gewone wyse tot trou sal kom nie. Hulle wil darem ook kinders hê. Dan beraam
hulle ‘n plan.. .hulle besluit om hulle pa dronk te maak en gemeenskap met hom
te hê. Dit bly nie by praatjies nie, hulle het hom toe dronkgemaak, hom verlei
en met hom gemeenskap gehad. Eers die oudste en die volgende nag die jongste.
En altwee word swanger en skenk lewe aan twee seuns. Hierdie twee seuns word
die voorvaders van die Moabiete en die Ammoniete, twee naburige volke met wie
die Israeliete deur die jare heen baie moeilikheid gehad het. Nou is dit so dat
hierdie skokkende verhaal ten doel gehad het om die Moabiete en Ammoniete te
verkleineer en te dien as verklaring vir die rede vir die ondergang van hierdie
volke.
Hierdie
verhaal wil ook iets meer belig, naamlik die diep verval in dusfunksionele
huishoudings en families en gesinne. Hoe laag het die dogters nie gedaal nie.
Om doelbewus bloedskande te pleeg. Om op so ‘n wyse swanger te raak. Hoekom?
Het dit nie baie te doen met die feit dat hierdie gesin heeltemal
gedisintegreer het nie? Eers het dit met Lot en sy gesin baie goed gegaan. Saam
met Abraham het hulle nuwe horisonne verken. Hulle was welvarend. Toe skei
hulle paaie en het hulle hulle in Sodom gevestig. Daar het dit aanvanklik nie
sleg gegaan nie. Die dogters was amper getroud. Toe verlaat hulle Sodom net
voor die stad vernietig is as gevolg van die wanpraktyke en sonde van die
inwoners. Nou woon die pa en sy twee dogters in ‘n grot. Hulle het nie meer
kontak met die familie nie. Sosiale kontak is daar skynbaar nie meer nie. Soos
kluisenaars leef hulle. Lot en sy gesin het disfunksioneel geword. Daarom was
daar vir die dogters nie kans om op die normale tradisionele wyse ‘n man te
kry, te trou en kinders te hê nie. Dis hierdie desperate situasie wat hulle tot
ondenkbare desperate dade dryf.
Hierdie
verhaal waarsku oor wat in disfunksionele families kan gebeur. Lot het skynbaar
nie meer gewerk nie, die inkomste, indien enige, was maar minimaal. Daar was
nie veel sosiale kontak met ander mense gewees
nie, en vrees het oorheers. Respek het ontbreek, die normale sosiale
lewe het tot ‘n einde gekom. Hulle het afgesonderd, onbetrokke en gesioleerd
geleef. Die familielewe het heeltemal gedisintegreer, en daar was nie ‘n
ondersteuningsbasis nie.
Disfunksionele
gesinne is nie ‘n onbekende verskynsel in ons dag nie. Is dit nie ons almal se
plig om op te let en uit te reik indien die eerste teken van disfunksionaliteit
in gesinne na vore tree nie? As mense hulle afsluit, as die bande gebreek word,
as isolasie voorkom behoort ons uit te reik. As gesinne uitmekaarval, behoort
ons daar te wees. As dinge skeef loop, moet ons help.
Dit is
opvallend hoe dikwels drankmisbruik sterk na vore kom in disfunksionele
gesinne. Mense gryp na drank om te ontvlug aan die harde werklikheid, en dit
kan na allerlei probleme lei. Seksuele wanpraktyke, seksuele misbruik en gesinsgeweld
kom dikwels in disfunksionele gesinne voor.
Hierdie
verhaal wil ons oproep om na onsself te kyk. Om in die eerste plek seker te
maak dat ons nie dalk ook materiële dinge bo alles stel nie. Was dit nie wat
gelei het tot die skeiding van Abraham en Lot nie? Moenie op grond van of ter
wille van besittings die bande met die ouers en familie breek nie. Al mag dit
aanvaklik goed gaan, kan dit uiteindelik tot ondergang lei.
Ons word ook
opgeroep om in moeilike tye, as ons drome aan skerwe lê en ons ook alles
verloor het, ons nie af te sonder en in diepe depressie te verval nie. Hoe
moeilik dit ook al mag wees, draai om en soek hulp. Ek is seker Abrham sou Lot
met ope arms ontvang het. So sal, of behoort Christen ouers, nie kinders wat
geval het, terug te verwelkom soos die pa van die verlore seun nie?
Ons word
hier gewaarsku om nie ons toevlug te soek tot drank en om op allerlei slinkse
maniere ons toekoms te probeer verseker of iets te bereik nie. Vir baie, baie
jare het die onbesonne optrede van die dogters van Lot baie negatiewe gevolge
vir baie mense gehad. Dit kan met ons ook gebeur.
Genesis 19
roep ons op om in geloofsverbondenheid met die Here te leef en Hom te ken in al
ons weë dan sal Hy ons paaie gelyk maak...
Post a Comment