POSTED BY Steven Sass on 06:15 under
4 Julie 2013 Patensie
Handeinge 9:19b-31
Maak jy ook mense bang?
Ons almal ken mos ‘n bangmaakstorie of twee? Dis deel van ons lewe baie van hierdie bangmaakstories, eintlik van kindsbeen af het hierdie stories deel geword van ons lewens. Bangmaakstories, kan natuurlik ook baie vererger word in jou oorvertellings of selfs net in jou gedagtes. Dis baie keer nie eers gebasseer of iets werkliks of selfs die waarheid nie... Ons gebruik dit baie keer tot ons eie voordeel en dan veral ten koste van iemand anders waneer ons hierdie bangmaakstories sou oorvertel. Dis asof mens partykeer net iets in die oortreffende trap wil stel en iemand dalk wil afsit van iets...

 Soms is dit eenvoudige stories wat vertel word deur byvoorbeeld ‘n ouer wat vir ‘n kind “jok” deur te sê iets is sleg vir die kind terwyl dit eintlik glad nie sleg is nie, die ouer wil net die lekkerding dalk vir homself hou.

Of as ons mekaar wil weghou van sekere plekke af, soos byvoorbeeld ‘n lekker hengelplek dan sal ons mekaar dalk vertel hoe gevaarlik die rotse of seestrome byvoorbeeld in daai area sou wees... Dis alles deel van ons lewens.

 Met hierdie gedeelte wat ons sopas gelees het het ons ook te make met ‘n tipe bangmaakstorie. Dis die storie van Saulus se eerste optrede as gelowige...

Ons lees dat almal in Damaskus eers verbaas was oor wat hy alles sou kwytraak deurdat hy nou eweskielik getuig dat Jesus die Christus en Verlosser is(vers 21). En toe hy eers in Jerusalem begin preek het kort daarna was die mense, ook die volgelinge van Jesus, selfs bang vir hom gewees (vers 21). Dit was vir almal onverstaanbaar dat die groot en wrede Saulus dan nou eweskielik teen sy aard in getuig oor Iemand wat hy sy lewe lank tot nou toe nog vervolg en met geweld verwerp het. Hulle kon nie verstaan hoe hy wat Saulus is dan nou eweskielik sy deuntjie oor Jesus kon vernader het nie.

Die mense in Damaskus het vir mekaar verbaas gevra: “Is dit nie die man wat in Jerusalem die mense wat hierdie Naam aanroep, wou uitroei nie?” Hulle kon net nie mooi die kloutjie by die oor uitkry nie. Dit het net nie gepas by die Saulus wat hulle geken het nie....

 Die volgelinge van Jesus in Jerusalem het hom totaal nie vertrou nie... hulle het nie die vrede waarvan hy getuig het vertrou nie. Hulle was seker dit was als dalk deel van sy plan om hulle vertroue dalk te wen en hulle dan soos soveel ander gelowiges te vang en te vervolg. Hulle kon ook nie, netsoos die mense in Damaskus, die situasie van hierdie nuwe Saulus verstaan nie. Dit het net nie sin gemaak nie.... hulle was steeds bang vir Saulus....en hierin lê baie van ons mense se dilemma...

Mense is ook dalk bang vir jou, en as hulle nie bang is nie is hulle ook dalk versigtig vir jou! Nou wat bedoel ek hiermee?

Wat ek hiermee bedoel is dat baie mense ook maar nie lewens lei wat getuig van hulle verbondenheid aan Liewe Jesus nie. Mense dwaal van die pad af en ander mense sien jou vir wat jy regtig is: ‘n sondaar... hulle weet van jou dinge... hulle hoor van jou (slegte) naam. En waneer jy dan die dag die Here aanneem en daar ‘n ommekeer in jou lewe kom, is mense geneig om ook in jou geval, netsoos met Saulus, nie die vrede te vertrou nie.

 Mense glo jou nie waneer jy begin getuig oor Hom wat ook vir jou kom ontmoet het op jou lewenspad, soos wat die Here ook met Saulus gemaak het op die Damaskus pad nie. Ons ken baie die gevoel van waneer jy jou mond oopmaak, nadat jy lank dalk die moed bymekaar gemaak het (die Bybel sê mos self dat ons almal nie apostels of dominees is nie en is nie almal ewe gemaklik om te praat nie) dat iemand dan vir jou sal sê: “Nou wie’s jy om met my oor God te kom praat? Jy het dan gisteraand nog op die drinkplek se tafels gedans.... of jy vloek dan self...of jy is dan die hoof vloeker onder ons...wie’s jy om my te wil konfronteer.... Ken jy hierdie gevoel? Het dit dalk ook al met jou gebeur? Wel dis presies wat met Saulus gebeur het.

Die mense het nie verwag dat Saulus hulle sal kom vertel van vrede en liefde nie, inteendeel hulle het verwag dat hy veel eerder vir hulle sal kom leed aandoen. Netso ook dink mense dalk van jou ook. Netso is mense dalk ook bang vir jou oor al die onvrede en sonde wat jy dalk oor mense se pad gebring het....En juis omdat jy dalk al weet wat die mense gaan sê, of hoe hulle gaan reageer op jou getuienis is jy bang om jou mond oop te maak en te vertel van wat Jesus met jou kom doen het... Van wat Jesus dalk veral op hierdie einste oobmlik in die kerk kom doen met jou.

 Dis asof jy nie wil wys wat presies in jou hart aangaan nie, dat jou hart nie meer behoort aan hierdie wêreld nie maar aan Jesus self, want jy weet die mense rondom jou, hulle wat jou “ken” se reaksie gaan wees.

Maar weet jy wat? Saulus is vir ons ‘n ongelooflike wonderlike voorbeeld hierin. Kyk mooi wat sy reaksie op die mense was.... “Maar Saulus het al hoe kragtiger gepreek en die Jode wat in Damaskus woon, in die war gebring deur te bewys dat Jesus die Christus is....” En dis presies wat jy moet doen...moenie stilbly nie. Moenie aanhou om versigtig of bang te wees vir wat die mense van jou getuienis gaan dink nie. Fokus op God se wil en plan vir jou. Maak jou mond oop en getuig van Hom wat jou kom ontmoet het hier in herdie Kerk....

Die uiteinde van Saulus se gehoorsaamheid was uiters gesëend gewees omdat hy aanhou doen wat God van hom gevra het. Hyt aanhou praat en getuig en preek ten spyte van die mense... soveel so dat die kerk ‘n tyd van rus en vrede bleef het... en die ledetal het toegeneem .....(vers31). Dis mos wat God hier met jou in hierdie kerk ook wil laat gebeur.... Komaan, staan op en en begin getuig van God se magtige dade in jou lewe. Vergeet van alles wat jy verkeerd gedoen en gesê het en fokus op die toekoms, op die wenstreep, op die erfenis van die ewige lewe!


Moenie dat jou lewens-storie ‘n bangmaakstorie bly nie!
0 Kommentaar: so far: