25 Augustus 2013 Patensie
Dis nie altyd maklik om God te dien
nie
Genesis 22:1-9
Dit is nie
altyd maklik om die Here te dien nie. Die Here stel baie hoë eise . Soms voel
mens jy kan nie voldoen aan die eise wat die Here stel nie. Om die Here te
dien, omvat baie meer as om net kerk toe te gaan. Dis meer as om net kerk toe
te kom en jou Bybel te lees en te bid. Dis selfs meer as om aktief betrokke te
wees by kerklike aktiwiteite. Godsdiens is nie ‘n filisofie nie. Dit is nie
iets waaroor net gepraat kan word nie. Dit omvat ons hele lewe en elke liewe
aspek van ons lewe. Dit eis dat ons volkome in ooreenstemming met die eise van
die Woord van God sal leef.
Dit beteken
nie net dat ons alles moet doen wat die Here direk vir ons sê in die Bybel nie.
Nie net om die Tien Gebooie en die Groot Gebod van liefde te onderhou nie. Dit
eis ook dat ons alles wat in die Bybel oor die Here bely word, in ons daaglikse
lewens sigbaar moet wees. Ons moet elke dag en onder alle omstandighede alles
wat ons oor die Here bely, uitleef. In kort, dit beteken dat ons so moet leef
dat almal wat met ons in aanraking kom, die Here in ons lewens en ons dade moet
raaksien. Ander moet die Here hoor praat as ons praat. Moet die Here sien werk
in ons werk. Moet die teenwoordigheid van die Here ervaar in ons
teenwoordigheid. Om die Here te dien, vra dan volkome toewyding.
Dis nie
maklik nie. Om dit nog moeiliker te maak, kan ons nie net wat in die Bybel
staan, altyd direk en letterlik van toepassing maak op ons nie. Ons kan ook nie
net skere dele uit die Bybel neem en sê dat ons net hierdie dele moet
gehoorsaam nie. Nie nabootsing nie, maar toepassing van elke deel op ons eie
situasie. Ons is mos maar geneig om sekere dele direk van toepassing te maak en
ander dele te lees asof dit net geskiedenis vertel en dus van toepassing was op
ander maar nie betrekking het op ons nie. Nee, dit kan ons nie doen nie.
Die Here
stel verskriklikke eise. Dit is waaroor dit in Genesis 22 gaan. Dit het ook
betrekking op ons. Ons moet as’t ware ons eie name hier inskryf waar ons die naam
Abraham lees. Daarom moet ons weer hierdie verhaal lees en vra: wat word hier
vertel? Wat word hier oor die Here bely? Wat word van ons verwag? Hoe gaan ons
reageer op die eise wat hier gestel word?
Die
vertelling begin met die stelling dat die Here Abraham op die proef gestel het.
Stel die Here dan mense op die proef? Ja, dit is hier duidelik. Ons kry dit ook
in die verhaal van Job. Ons lees ook elders dat die Here die mens nie uitermate
beproef nie. God is nie besig om speletjies te speel nie. Maar die Here toets
ons. Hy wil seker maak dat ons geloof opreg is. Hiervan kan biae getuig.
Trouens , elke gelowige weet dit. By sommige is die toets kwaaier as by ander.
Sommiges beleef dit duideliker as ander. Maar dit gebeu,r en sal ook gebeur.
Hoe stel die
Here Abraham op die proef? Die Here sê vir Hom: “Vat jou seun, jou enigste
seun, Isak, wat jy liefhet, en gaan na die landstreek Moria toe en offer jou
seun as brandoffer daar op een van die berge wat Ek vir jou sal aanwys(22:2).
Daar kan geen twyfel wees oor wat die Here vra nie. Die feit dat die seun so
duidelik aangewys word, beteken dat Abraham ook op geen wyse kan uitkom met die
een of ander slim plan nie. Ons onthou mos hoe hy self probeer het om die
belofte van die Here te realiseer in sy lewe. Hy het mos eers vir Lot en toe
vir Eliëser as seuns aangeneem en toe was Ismael sy volgende seun wat met
behulp van Hagar as surrogaatma in die lewe gebring is. Boonop het hy nog sewe
seuns by Ketura gehad. Maar hier is dit duidelik. Dis die eersgeborene, die
enigste seun van die belofte. Sy naam is Isak en dis die seun wat hy liefhet.
Daar is ook
geen onduidelikheid oor waarheen hy moet gaan en wat hy moet doen nie. Die
verskriklikke eis wat die Here stel is duidelik. Nou moet ons darem onthou dat
dit aansluit by die gebruike van die ander volke in die ou Nabye Ooste. Hulle
het die gebruik gehad om die eersgeborene te offer. Dit het hulle gedoen om
daarmee hulle dankbaarheid aan hulle gode te erken en in die geloof dat hulle dan
juis baie kinders sou hê. Dit word later in die wette in die Ou Testament streng
veroordeel en belet. Ons het wel die gebruik en wette in die Ou Testament in
verband met die bring van die eerstelinge van die oes as brand-en dankoffer.
Die vraag is dus hier of Abraham bereid is om vir die Here te doen wat die
ander mense bereid is om vir hulle gode te doen? Is dieselfde toewyding by hom
aanwesig of dien hy die Here omdat hierdie verskriklikke eis nie deel is van
ons aanbidding van die Here nie?
As ons dan
sê dat die Here mense op die proef stel en dat dit vandag nog gebeur, dan moet
ons hierdie woorde nie letterlik op ons van toepassing maak nie. Want ons
situasie verskil radikaal van daardie tyd. Die moontlikheid dat die Here ons
sal toets deur vir ons te sê dat ons van ons kinders as brandoffer moet offer
op ‘n berg, is sekerlik nul. Wat wel waar is, is dat die Here ook vra dat ons
moet bewys dat ons bereid is om vir Hom te doen wat ander ook vir hulle gode
doen. Is ons bereid om te wys dat ons ons so toewy aan die Here as wat ander
hulle aan hulle godsdiens of iets anders toewy?
Wat was die
reaksie van Abraham toe die Here hierdie verskriklikke eis aan hom gestel het?
Gaan hy die toets slag? Dit word eers in verse 3-9 uitgespel. Hy vat sy seun,
en hy maak hom klaar vir die reis na die
landstreek Moria. Daar laat hy die slawe en die donkie, en net hy en Isak gaan
verder. Hy bou ‘n altaar, vat sy seun, bind hom vas en is gereed en bereid om
hom te offer. Abraham slaag die toets. Hy doen wat die Here hom beveel het,
niks meer nie en niks minder nie. Hy probeer nie op allerlei maniere om uit te
kom nie. Hy is nou volkome gehoorsaam...anders as vroeer. Toe het hy probeer om
die belofte van die Here op allerlei maniere te laat realiseer. Hy het geleer
dat die Here volkome vertroue vra. Nie slimmighede of allerlei truuks nie. Net
vertroue en gehoorsaamheid.
Hoe reageer
ons op die eise wat die Here vir ons stel? Wat doen ons as die Here ons op die
proef stel? Kom ons in opstand? Probeer ons daaruit kom? Ignoreer ons die eise?
As die Here ons vra om dit wat vir ons die kosbaarste is, aan Hom te wy, wat
doen ons? As die Here ons kosbaarste van ons wegneem, wat is ons reaksie? Hoe
reageer ons op die beproewing wat die Here oor ons pad stuur? Dit kan op baie
verskillende vlakke lê. Is ons bereid om in die geloof die sprong te neem en
die Here volkome te vertrou?
As Abraham
wys dat hy bereid is om volledig gehoorsaam te wees aan die verskriklikke eis
wat die Here stel, dan gryp die Here in. Hy bied ‘n ander uitkoms. Nou gebeur
dit nie altyd nie. Job het nie net al sy besittings en sy gesondheid verloor
nie, maar het ook al sy kinders verloor. Dit beteken dat ons miskien nie soos
Abraham al die ellende en hartseer gespaar sal bly nie. Wat wel waar is, is dat
die Here altyd by ons sal wees-ook as ons die hoogste offers moet bring.
Genesis 22
wil dan vir ons sê dat die Here soms verskriklikke eise stel. Eise wat ons nie
met Hom assosieer nie. Dinge wat vir ons te erg is. Ons word hier opgeroep om,
na die voorbeeld van die vader van alle gelowiges, volkome op die Here te
vertrou. Ons moet doen wat Hy vra, al verstaan ons nie waarom so ‘n
verskriklikke eis aan ons gestel word nie en al breek dit ons. Dit is geloof.
Volkome vertroue op God. Om Hom bo alles te stel. Om dit in die praktyk van ons
daaglikse lewe op konkrete wyse te toon.
Om die Here te dien, is nie aldag maklik nie.
Nêrens het die Here dit vir ons beloof nie. Wat die Here ons wel beloof, is dat
Hy ons nooit in die steek sal laat nie. Hy sal altyd by ons wees. As Hy ons
beproef of ons deur omstandighede beproef word, staan Hy ons by. Hy sal nie
toelaat dat ons bo ons vermoë beproef word nie. Hy vra geloof, volkome vertroue
en toewyding. Hy belowe om by ons te wees en ons laste help dra.
Hy sal ons
nie in die steek laat nie...
Post a Comment