POSTED BY Steven Sass on 19:59 under
28 Julie 2013 Patensie
Handelinge 8:26-40
QUO-VADIS?
 Die een man wie se prediking die Here in Samaria gebruik het, was Filippus. Dáár – in Samaria - was dit massa-evangelisasie, met groot seën. Nou skielik, verskuif die fokus na 'n individu wat tot geloof kom: die Etiopiër.

Die manier waarop die Here se koninkryk kom, is een-persoon-op-'n-keer. Juis daarom kan óns almal 'n rol speel in die koms van die koninkryk in die Gamtoos – want die Here werk individu-vir-individu en ons maak daagliks kontak met individue, nie waar nie? Filippus was soos 'n verkleurmannetjie: Hy kon vir die massas preek, maar hy kon ook met die individu werk. En tog bring hy net één evangelieboodskap, want daar ís net een! Dit wat in hierdie Skrifgedeelte uitstaan, en daarop wil ons vanoggend fokus, is die twee middele/instrumente wat die Here gebruik om iemand tot geloof & bekering te bring.

 Natuurlik is die redding van 'n sondaar van begin tot einde die werk van God alleen: Sy inisiatief, Sy krag, Sy werking. Niemand kan na Christus kom tensy die Vader hom/haar trek nie (Joh 6:44). Hý maak die geestelik- dooies lewend. Hý gebruik die vervolging in Jerusalem om vir Filippus na Samaria en uiteindelik op die Gasapad te bring. Hý bring vir Filippus by die Etiopiër. Hý bewerkstellig die perfekte tydsberekening vir die ontmoeting tussen Filippus & die Etiopiër. Hý sorg dat die Etiopiër die Bybel ter hand het. Hy draai die man se hart om! Van begin tot einde doen Hý alles.

En tog werk Hy wonderbaarlik deur Sy mense. Soos die Vader die Seun gestuur het en die Vader & Seun die Gees gestuur het, stuur die drie-enige God die kerk/gemeente uit in die wêreld as sendelinge & evangeliste. Hy gebruik instrumente/middele: veral twee. 1) 'n Gehoorsame gelowige en 2) 'n oop Bybel. In die bekering van die Etiopiër, het die Here hierdie twee middele gebruik: Filippus as gehoorsame dienskneg en 'n Bybel wat by Jesaja 53 oop was, wat gelees is, wat verklaar is, wat geglo is.

Kom ons kyk van naderby na hierdie twee middele: 1) Gehoorsame gelowige: 'n Mens kan jouself die prentjie voorstel: Filippus is tot oor sy ore besig in Samaria waar daar 'n soort herlewing ontstaan het en nou gee 'n engel hom die opdrag om die woestyn in te gaan – op 'n verlate pad, die pad na Gasa. Hoe onverstaanbaar tog! Eerstens weet ons nie hoe die engel met Filippus gekommunikeer het nie. Tog moes dit vir Filippus 'n besonder moeilike opdrag gewees het. “Hoe kan ek die werk in die Samaria-herlewing net so los en op die woestynpad gaan, waar geen mens in sig is nie!” 'n Mens kan jou voorstel dat Filippus nie rasend van opgewondenheid was nie. En tog gehoorsaam hy. Hy gee homself weg aan die Here se werk – al is die opdrag hóé onverstaanbaar! Min het hy geweet dat die Here besig was om 'n Goddelike ontmoeting te reël.

Daar was nóg 'n reisiger op die woestynpad: 'n man uit Afrika, op pad terug huistoe vanaf Jerusalem, waar hy by die tempel aanbid het. Hierdie man was nie 'n hierjy nie. Hy was 'n hoë amptenaar in diens van die koningin van Etiopië – in beheer van haar geldsake. Daardie tyd se Etiopië was waarskynlik die Nyl-Delta suidwaarts tot by – vandag bekend as – die noorde van Soedan. Hierdie man was dus nie 'n Jood nie. Tog het hy die Joodse geloof aangeneem, soos talle nie-Jode in die destydse wêreld gedoen het. Hy was baie ernstig, godsdienstig. Hy het die moeite gedoen om na Jerusalem te reis om by die tempel uit te kom. Hy het vir homself 'n Bybel in die hande gekry en was besig om uit Jesaja te lees terwyl hy op sy terugreis was. En tog – t.s.v. al sy ernstige godsdienstigheid - was hy nie gered nie, alhoewel die Gees met hom besig was en hom voorberei het.

Let op, godsdienstig-wees is nie noodwendig sinoniem met gered-wees nie. Op hierdie punt word 'n mens maklik mislei. Jy dink: ómdat ek ernstig is met die Here se dinge, ómdat ek bid & bybellees, ómdat die Here my gebede verhoor, ómdat Hy my uit 'n verknorsing gehelp het, ómdat ek Christelik opgevoed is – daarom moet ek sekerlik tog 'n geredde kind van die Here wees! Wel, hierdie Etiopiër was ernstig-godsdienstig en tóg steeds al-bybellesende verlore – totdat Filippus sy pad kruis. Dáár is die eerste middel wat die Here gebruik: 'n gehoorsame kind van God – wat daarop ingestel is om mense geestelik te help.

Dit is wonderlik om vir Fillipus dop te hou: hy is só weggegee aan die Here. Toe die Gees dit op sy hart druk om nader te gaan aan die wa wat daar ry, toe gaan hy. En toe dit nodig is dat hy die vername Etiopiër geestelik moet help, toe doen hy dit. Wat 'n onbeskryflike vrede & blydskap moes nie sy siel vervul het nie! Die blydskap van gehoorsaamheid en toewyding aan die Koning van die konings!

Het jy geweet: indien jy 'n kind van die Here is, dan ís jy 'n geroepe instrument in Sy hand om die Goeie Tyding aan mense te bring? Die Here gebruik nie engele nie. Hoe maklik kon die Here die engel gebruik het om met die Etiopiër te praat. Maar nee, die engel se taak is om vir Filippus te mobiliseer sodat hý die werk kan doen. Om die een of ander rede, is dít hoe die Here werk: hy gebruik Sy kinders se gehoorsaamheid, beskikbaarheid en tonge. Is dit nie absoluut opwindend nie? Om te dink dat ek, nietige stofmensie, deur die Here van hemel en aarde gebruik kan word in ander mense se ewige redding?!

 Hoe totaal ánders sal ons daaglikse lewens wees indien ons elke oggend met hierdie intensie uit die bed kan opstaan: “Here ek is beskikbaar om vandag 'n instrument in U hand te wees en om te gehoorsaam wanneer mense oor my pad kom en wanneer U Gees my innerlik dring.” Skielik verander jou lewensprioriteite en jou visie op die daaglikse lewe wanneer jou daaglikse uitgangspunt is: “Here help my vandag om met iemand te praat en gee my die vrymoedigheid!”

2) Oop Bybel: Kyk net hoe pragtig maak ons Skrifgedeelte dit oop, dat die Gees die Wóórd gebruik om iemand tot geloof te bring. Ja, die Bybel. Filippus hoor hoe die Etiopiër hardop uit Jesaja 53 lees. Die pragtige profesie wat praat van die komende Verlosser wat soos 'n skaap ter slagting gelei word en stom is voor Sy skeerders. God se kneg wat moes ly en sterf. “Watse misterieuse figuur is dit?” wonder die Etiopiër (met reg). “Van wie praat die profeet?” “Verstaan u wat u lees?” vra Filippus vir hom. Dit moes baie moed verg, want Filippus is 'n nul-op-'n-kontrak terwyl hierdie man 'n Minister van Finansies is. “Wie is díé idioot?” kon die man vra. Maar Filippus benader hom met wysheid. Hy begin nie preek nie. Hy vra net 'n vraag. “Verstaan u wat u lees?” En, die man het juis nie verstaan nie!! En die Heilige Gees het die ontmoeting gereël. Daarom antwoord hy: “hoe kan ek verstaan tensy iemand dit vir my verduidelik?”

  Met graagte onderwerp hy hom aan Filippus se onderrig. Hy is ontvanklik. Dit is waarom Calvyn gesê het dat 'n mens se persoonlike Bybelstudie eers vrug begin dra wanneer jy jouself vrylik onderwerp aan die lering/onderrig van die Skrif wat jy in die kerk ontvang. En dit was Filippus se goue kans. Hy begin by Jesaja 53 en verduidelik die Blye Boodskap van Jesus Christus. Hoe wonderlik! Hy verkondig nie sy eie idees nie, maar die inhoud van die Skrif. Die Bybel gaan meteens oop. Filippus het waarlik 'n boodskap vir hierdie belangrike man! Maar daar is iemand nodig wat die Skrif kan verduidelik. Ja, mense kom tot geloof & bekering deur slegs die Bybel te lees, maar dit gebeur selde só. Die mees algemene manier wat die Here gebruik is die uitleg van die Woord. Dit is die instrumente wat die Here gebruik. Die Bybel en 'n gehoorsame gelowige wat dit kan verduidelik.

Ek wil vir jou (en vir myself) 'n baie direkte vraag vra: Is jy doodseker dat jy in staat is om vir iemand die essensie van die Evangelieboodskap te verduidelik én iemand te help om tot geloofsekerheid te kom? Indien jy 'n kind van die Here is, dan móét jy dit kan doen – sonder twyfel. Dis ons almal se dure roeping. Gestel iemand sou jou uitvra oor die Christelike Geloof, sou jy aan so iemand 'n verduideliking kan gee? Gaan jy daagliks só met die Woord om dat jy behendig begin raak met die Bybel en dit waarlik liefhet? Of is jou Bybelstudie sommer maar net tjoef-tjaf en oppervlakkig? Is vanoggend/nou nie 'n baie goeie tyd om tot 'n werklike beslissing te kom nie? 'n Besliste besluit om erns te begin maak met die Bybel en om jouself toegerus te kry om die evangelie met iemand te deel. Indien dit moet, sou ek 'n kursus kon aanbied vir almal wat beter toegerus wil word. Vra net daarvoor! Maar laat ons tog ons verskonings & verharding laat vaar en hóór wat die Gees in Hand 8 vir ons sê.

En wat gebeur met die Etiopiër toe Filippus uit die Skrif vir hom die Boodskap van Jesus van Nasaret verduidelik? Hy glo hom. Hy glo die Skrif. Voorheen was hy godsdienstig. Nou breek die lig deur. Hy plaas sy vertroue op Christus se kruisdood – waarvan Jes 53 profeteer. Net so, sonder enige gevoel/ervaring/bewerasie/visioen/droom, kom hy tot geloof slégs o.g.v. wat hy uit die Skrif hoor....


 En die Etiopiër het voortgereis met 'n nuutgevonde blydskap. Hy sou nooit weer na Jerusalem terugkeer nie, want hy het nie meer die tempel nodig gehad nie. Hy het nou 'n Persoon leer ken – wat die nuwe tempel tot in ewigheid is.
0 Kommentaar: so far: