9 Junie 2013 Patensie
Lukas 1:39-66
In hierdie gedeelte het ons te make met ‘n hele aantal dinge
wat met twee swanger vroue gebeur het. Die een was die moeder van Johannes doper,
Elisabet, en die ander is die moeder van Jesus Christus, Maria. Die dinge wat
gebeur het wat in hierdie gedeelte beskryf is, vertel vir ons iets van die
verwagting van hierdie vrouens en mense in hulle onmiddelike omgewing.
Nie net is die vrouens verwagtend met die babas in hulle
moederskote nie maar daar is ook die realitieit in hulle van die feit dat daar
groot dinge aan die gebeur is, nie net met hulle twee nie maar ook veral met
die twee kinders wat hulle verwag. Nog voordat Elisabet vir Maria gesien het,
gebeur daar ‘n ongewone ding met haar, naaamlik dat toe sy die groet van Maria hoor, “het die
kindjie in Elisabet se moederskoot beweeg, en sy is met die Heilige Gees
vervul....” Elisabet het dus bewus geword van die Here se teenwoordigheid en Sy
heerlikheid wat aan die kom was. Sy, en haar ongebore babatjie was onmiddelik aangeraak
deur hierdie opgewonde verwagting. Dis dan ook baie besonders dat Johannes die
Doper juis die een was wat Jesus vooruitgegaan het en mense vertel het van die
Messias, Jesus Christus wat aan die kom was na hierdie wêreld. Dit was dus
amper asof hy reeds in sy moeder se skoot nie kon stilbly nie , maar toe reeds
beging “beweeg” het. Dit is asof hy toe reeds voor sy eie geboorte wou begin om
te vertel van Jesus!
In ons moderne tyd maak baie ma’s nogal baie daarvan dat
hulle hul babas positief kan beinvloed deur byvoorbeeld sagte of klassieke
musiek te speel. Daarmee glo baie dat deur sulke dinge doelbewus te doen, hulle
kan help om gesonde en byvoorbeeld slim babas in die wêreld in te bring. Ek
wonder of dit amper iets soortgelyks was toe Elisabet ook hierdie lofprysing oor Maria en die vrug van haar
skoot, Jesus uitgeroep het....amper sodat Johannes dit toe al kon hoor.
Wat ‘n wonderlike lofprysing
is dit dan ook: “Geseënd is jy onder die vroue en geseënd is die vrug van jou
moederskoot. Waaraan het ek dit te danke dat die moeder van my Here na my toe
kom? Kyk, net toe die geluid van jou groet in my ore klink, het die kindjie in my
beweeg. Gelukkig is sy wat glo dat in vervulling sal gaan wat die Here vir haar
gesê het.”(Lukas 1:42-45)
Maria se antwoord op
hierdie loflied is besonders. Beide die vrouens het besef dat die kinders wat
hulle sou baar besonders sou wees. Dat hierdie kinders anders as ander vrouens
se kinders sou wees...
Maria besing die lof en die grootheid van die Here: “ Ek
besing die grootheid van die Here, ek juig oor God, my Verlosser omdat Hy na my
in my geringheid omgesien het....” Sy besef en erken dit ook so hier in haar
loflied, dat die Here na haar omgesien het in haar geringheid. Sy haal die
fokus bietjie van haarself af en skuif dit na daar waar dit hoort... op God.
Sy besef dat God iets groot in haar laat gebeur het. En
tereg ook so, want die fokus in al ons danksegging moet mos op God wees,
inteendeel, al ons fokus moet op God wees. Die wonderlike wete en besef dat Hy
na ons ook omgesien het in ons geringheid....
In Elisabet se skoot was die groot Johannes die Doper, die
een wat ‘n profeet van die Allerhoogste genoem sou word, want hy sou voor die
Here uit gaan om Sy pad gereed te maak....” (Lukas 1:76). Rondom Elisabet en
veral rondom Joahnnes se geboorte het daar verder wonderlike dinge gebeur...
Nadat hulle hom besny
het en al die ander dinge wat gepaard gegaan het met die nakoming van die
godsdienstige vereistes wat gepaard gaan met die geboorte van ‘n gelowige, het
Johannes se vader Sagaria sy spraak teruggekry, en hy het onmiddelik begin om
vir God te loof en te prys. Ook Sagaria was bewus van die groot dinge waarmee
God besig was in hulle lewens...
“Amal wat rondom hulle gewoon het, is met ontsag vervul, en
in die hele bergstreek van Judea is daar baie gepraat oor al hierdie dinge....”
Netso het dit ook met julle twee gebeur Liesl en Eddie. Netso ook het mense
rondom julle agtergekom dat die Here ook na julle omgesien het in julle
geringheid. Netso ook is ons almal met ontsag vervul saam met julle oor dit wat
God in julle lewens laat gebeur het. Dit wat onmoontlik was, dit wat nooit ooit
kon gebeur het nie, het toe weel gebeur. Liesl het swanger geword en God het
vir julle ‘n pragtige gesonde kindjie gegee.
Na ‘n geweldige tyd
vol beproewing het God ons gebede geantwoord, en ‘n wonderwerk, ‘n besonderse
kind aan julle kom gee... daarom is ons saam met julle ook vanoggend gevul met
onstag, daarom is ons opnuut ook bewus van God wat vandag nog wonderwerke laat
gebeur. Ons kan maar na mekaar toe draai en vir mekaar sê dat hierdie
doopgeleentheid ‘n sigbare bewys is dat God nogsteeds in ons tyd wonderwerke
laat gebeur.... en verseker ons
versugitnge van ons harte nie ongehoor laat verbygaan nie. Dat God genadig is, is
ons belydenis vanoggend.
Netsoos ek netnou genoem het dat seker ma’s daarin glo om
hul ongebore fetusse bloot te stel aan allerhande strelende klanke om hulle
positief te beinvloed... is daar ook altyd grootmense wat partykeer ook wonder
oor ‘n kleintjie of pasgebore babatjie. Ons hoor gereeld hoe mense ook vir
mekaar se: “Foitog, ek wonder wat met die outjie eendag gaan gebeur”. So asof ons
ons eie onsekerheid wil uitspreek oor die arme bloeitjie.
Dit klink ook baie soos die woorde van Lukas 1 :66b “Wat sal
hierdie kindjie eendag word”. Hoe wonderlik is dit nie in die geval van ons
Skrifgedeelte dat die kindjie op die ou ent groot en volwasse geword het en ‘n
wonderlike getuie en profeet van God geword het...iemand wat sy lewe gegee het
om Jesus te verkondig....
Dit herhinner my aan my eie doopteks Markus 3:31-35: “Sy
moeder en Sy broers het toe gekom. Hulle het buite bly staan en ‘n boodskap na
Hom toe gestuur om Hom te roep. ‘n Menigte mense het rondom Hom gesit. Hulle sê
toe vir Hom: “Kyk u moeder en u broers en u susters daar buite soek U. Maar Hy
sê vir hulle: “ Wie is my moeder en my broers?” Hy het die mense aangekyk wat
in’n kring om Hom sit en gesê: “Hier is my moeder en my broers! Elkeen wat die
wil van God doen, is my broer en my suster en my moeder.”
Met hierdie teks op my doop, het die predikant mos nie
geweet wat van my sou word nie. Hoe kon hy ooit raai dat ek vandag hier sou
staan en met julle so oor God en Sy
liefde sou praat. Niemand sou dit kon weet dat dit my lewe sou wees tot vandag
toe nie! Netso in die geval van klein Edward Dawson... weet ons niks van sy
toekomsplanne af nie. Ons kan maar net wonder oor waar hy homself byvoorbeeld
oor 36 jaar sal bevind. Maar een ding is seker in my lewe...dieselfde ding wat
seker is van elkeen van ons lewens, dieselfde is veral ook seker van klein
Edward Dawson Ferreira.... die laaste woorde van Lukas 1:66 is van toepassing:
“Dit was duidelik dat die Here by hom was.”
Post a Comment