16 Junie 2013
Patensie
Huishoudelike pligte
Psalm 128 en Kollosense
3:18-21
Gesonde gesinsverhoudings is van die allergrootste belang.
In die gesin word die grondslag van alle verhoudings wat die kind later sal
aangaan, gelê. Sielkundiges en sosioloë dink dat latere wanverhoudings en talle
euwels hulle grondslag vind in swak gesinsverhoudings. So kan jeugmisdaad en euwels
soos drank en dwelmmisbruik hulle oorsprong in swak gesinsverhoudings vind. En
so sou ons kon voortgaan.
Ons kla dikwels oor die hoë misdaadsyfer...ondersoeke het
getoon dat die oorgrote meerderheid persone in ons korrektiewe sentrums, of misdadigers
in ons tronke, uit gebroke of disfunksionele huise kom. As ons dus iets wil
doen om die misdaadvlaag om te keer of te verminder, moet ons nie alleen aandag
gee aan die rehabilitasie van oortreders nie, maar veral aandag gee aan die
heropbou van die gesinslewe in ons breë gemeenskap.
Nou is dit so dat die gesin, en elke gesinslid in ons tyd
aan geweldige spanning onderworpe is. Die pa verkeer onder druk by sy werk; die
ma by die huis of werk, die kinders by die skool en al die buitemuurse
aktiwiteite. Almal kan so besig wees dat hulle nie meer bymekaar uitkom nie.
Elkeen kan so in sy eie web vasgevang wees dat gesinsverhoudings verbrokkel.
In Psalm 128word die voorvereistes vir gesonde
gesinsverhoudings uitgestippel. “Dit gaan goed met elkeen wat die Here dien en
Sy wil doen” (v1). “Jou seuns is rondom jou tafel soos olyfboompies”(v3b).
Ten gronde van ‘n gelukkige
gesin lê geloof in God en diens aan die Here. Die gesin wat saam bid bly saamgebind.Geloof
in God is die fondament van ‘n huis. Waar dit sterk is, is die huis stewig en
kan die huis staande bly te midde van storms. Wee die ouers wat hulle kinders wil
grootmaak sonder geloof.
Nou is dit ook so dat
nêrens in die Bybel ‘n belofte het dat dit altyd sal goedgaan met gelowiges en
dus ook gelowige gesinne nie. Wat wel beloof word, is dat gelowiges te midde
van storms kan weet dat die Here ons nooit oooit alleen sal laat nie. Hy is by
ons selfs in tye van die grootste aanvegtings en storms. Hy dra ons deur krisis
tye.
In Psalm 128 word die kinders van gelowiges vergelyk met
olyfboompies. In die barre Palestina was ‘n olyfboom ‘n teken van seën. So is
die kind ‘n seën van God: ‘n Kosbare genadegawe van die Here. Die olyfboom het
gesorg vir olie wat in lampe gebruik is om lig te gee. So bring die kind lig en
warmte. Verder was die olyfolie gebruik as medisyne; om verligting te bring
waar wonde geslaan is. So is die kind salwend vir die geslane gees. Die
olyfboom het bo-al olie voorsien wat by die offers van die Here gebruik is. So
is die kind ‘n genadegawe van God tot diens aan God. Geseënd is die ouers wat
die Here ken en dien en vir wie hulle kinders soos olyfboompies is.
Maar wat sê die Bybel oor die ouer-kind verhouding? Kom ons
lig net drie aspekte uit. Die eerste aspek wat beklemtoon moet word is dat
ouers tyd moet maak vir hulle kinders. Dit is alleen die ouer wat tyd maak vir
sy kind wat sy kind kan lei en help in sy selfontdekking, in sy
selfidentifisering en in sy eksperimentering. Markus 10:13-16 is aan ons
welbekend. Toe ‘n klompie ma’s hulle kindertjies na Jesus gebring het, het die
dissipels hulle probeer wegkeer. Waarskynlik was Jesus op hierdie tydstip baie
moeg en uitgeput. Die dissipels het gedink hulle doen hulle plig deur die ma’s
met hulle kindertjies van Jesus weg te hou, maar Jesus het hulle berispe. Hy maak
tyd vir die kinders. Hy seën hulle. Hy maak tyd om Sy liefde vir hulle te toon
en op hulle uit te giet.
Een van die grootste probleme van ons tyd is dat ouers nie
tyd maak vir hulle kinders nie. So baie kinders kla dat hulle ouers so besig is
en nooit genoeg tyd vir hulle het nie. Soms tree tieners op snaakse maniere op,
juis omdat hulle op soek is na die aandag van hulle ouers. Hoeveel tyd spandeer
ons daagliks met ons kinders? En as ons tyd met ons kinders spandeer, het hulle
ons volle aandag en luister ons regtig na hulle? As kinders van die Here moet
ons na die voorbeeld van Jesus tyd maak vir ons kinders. Al is ons moeg, al is
ons besig. Ongeag die omstandighede waaronder ons ons bevind. Daar is bitter
min dinge, indien enige, wat ‘n belangriker aanspraak op ons tyd het as ons
kinders. Kom ons beklemtoon dit weer: ouers moet tyd maak vir hulle kinders.
Dis nie iets wat sommer net gebeur nie. Ons moet aktief tyd skep en maak en tyd
inruim in ons programme wat al te dikwels te oorlaai word.
‘n Tweede aspek wat sterk beklemtoon word in die Bybel is
dat ouers hulle kinders moet lei en onderrig. In Deuteronomium 6:4-7 lees ons:
“Hoor Israel, die Here onse God is die enige Here. Daarom moet jy die Here jou
God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met al jou krag. En
hierdie woorde wat ek jou vandag beveel, moet in jou hart wees; en jy moet dit
op jou kinders inskerp en daaroor praat as jy in jou huis sit en as jy oppad is
en as jy gaan lê en as jy gaan opstaan.”
Die belangrikste opvoedingstaak van die ouer is om sy kind
te leer om die Here lief te hê met sy hele wese. Ons mag dit nie maar aan die
skool of kerk oorlaat om die kind te leer en te onderrig nie. Dit is ons
voorreg as ouers. Die ander instansies kan eerder aanvullend en versterkend
onderstreep en vaslê wat ons as ouers hulle leer. Die ouer moet sy kind met
woord en daad; leer en lewe leer om te leef uit die krag van God tot eer van
God. Wie dit nalaat, laat die kind struikel en van hulle het Jesus gesê dit sou
beter wees dat ‘n meulsteen om hulle nekke gehang en hulle in die see gegooi
word. Is ons elke dag besig om ons kinders te lei en te leer om die here te
doen met hulle hele lewe?
‘n Derde aspek wat veral deur Paulus beklemtoon is, is dat
ouers nie voortdurend negatief moet wees oor hulle kinders en hulle doen en
late nie. In Efesiërs 6:4 lees ons: “Moenie julle kinders so behandel dat hulle
opstandig word nie” en in Kolossense 3:21, “moenie gedurig by julle kinders
fout soek dat hulle moedeloos word nie”.
Die ouers wat vanuit sy geloof in die Here, in die geloof
die beginsels uitleef, sal ervaar dat hulle kinders hulle eer, soos die gebod
van die Here eis. Ja, sal ervaar dat hulle kinders respek vir hulle het; hulle
gehoorsaam en bo-al hulle oordeel met hulle kinderliefde. So sal
gesinsverhoudings nie alleen verstewig nie, maar sal die Here bo-al gedien en
verheerlik word...
Post a Comment