POSTED BY Steven Sass on 06:24 under
30 Junie 2013 Patensie
Die Here is by ons te midde van eensaamheid
Psalm 102
Psalm 102 is die gebed van ‘n eensame persoon toe dit met hom sleg gegaan het en sy hart uitgestort het. Dit is ‘n aangrypende en hartroerende Psalm. Dit is ‘n Psalm waarmee baie van ons kan identifiseer. Hierdie Psalm het vir elkeen van ons ‘n dudielike boodskap.

In verse 2-3 vind ons die noodkreet van iemand wat swaar gely het. “Here, luister tog na my gebed, hoor tog my geroep om hulp! Moet U tog nie afsydig van my hou noudat ek in nood is nie. Luister tog na my wanneer ek U aanroep, verhoor tog gou my gebed.” Hoor ons die dringendheid in hierdie noodkreet? Waarom smeek die digter so ernstig dat die Here op hom ag sal gee?

In verse 4-12 gee hy beskrywing van sy situasie. Hy is ernstig siek. Hy is seker daarvan dat sy einde baie naby is. Sy dae is besig om te verdwyn soos rook. Ons weet mos hoe gou rook in die lug verdwyn en mens dit nie meer kan sien nie. So is sy lewe ook besig om vinnig te verdwyn en dan sal daar niks meer sigbaar wees van sy lewe nie. Alle tekens dat hy hier was, sal dan weg wees. Is dit nie soos ons ook soms voel nie? Nie meer lank nie, dan is ek nie meer hier nie en sal ek vergeet word en sal niks oorbly van my lewe nie. Soos rook in die lug, sal my lewe en die herhinnering aan my bestaan verdwyn.

Die digter sê dit omdat hy ernstig siek was. Hy het hoë koors gehad. Sy liggam het gebrand soos vuur. Hy was uitgedroog soos gras. Sy eetlus het verdwyn en hy kon nie meer eet nie. Kos het vir hom soos as geproe. Hy het uitgeteer en was nog net vel en been. Daarby het hy verskriklikke pyn gehad. As hy iets wou drink het, het sy trane in die beker geval, en het dit wat hy gedrink  het na trane geproe. Sy fisiese lyding was baie erg. As gevolg van sy siekte, was hy eensaam. Sy emosionele lyding was net so erg gewees. Hy was baie eensaam. Hy voel soos ‘n pelikaan in die woestyn en soos ‘n uil tussen murasies. Nou is ‘n woestyn en murasie nie van die mooiste plekke op aarde nie. Dit versimboliseer mos dood en verwoesting, en dis juis daar waar die digter homself sien, en dan nog as’n eensame pelikaan en uil. Of as hy wakker word, voel hy soos ‘n eensmae voël op ‘n huis se dak. Is dit nie soms die ergste ervaring nie: om juis in tye van ernstige siekte nog eensaam ook te wees nie? In die Bybelse tyd is siekte soms gesien as die straf van die Here op sonde. Daarom is siektes dikwels verwerp.

In ons tyd met die suksessindroom wat so sterk is, word siekte soms gesien as mislukking en word siektes vermy. Baie siekes word eensaam omdat hulle mense se programme so vol gejaag na wind is dat hulle nie tyd het vir hulle wat siek is nie. Of ons weet nie wat om te sê of wat om te doen nie en voel selfbewus en vermy die siekes. Laat ons dit maar erken: baie mense wat siek is bitter eensaam. Die ervaring word versterk deur die feit dat die ernstige sieke se lewensruimte beperk word tot die siekbed en sy horisonne tot die kamer se mure. Uit die gejaag van die lewe, ervaar baie siekes ook tyd veel anders; minute voel soos ure en die dae baie lank. Vir die ernstig sieke is die emosionele lyding wat deur die afwesigheid van sy geliefdes veroorsaak word, soms net so erg as die fisiese lyding.

Geloof in die Here is geen warborg dat jy nie ook eensaam sal wees nie. Hoe baie mense is daar nie in die Kerk wat ook eensaam is nie? Die eensaamheid van die mense wat tussen ander is, is veel groter as die eensaamheid van iemand wat alleen is. Hoeveel is daar nie wat vandag moet uitroep: “Ek het niemand nie! Daar is niemand wat vir my omgee nie. Vriende het ek nie, my familie is te besig en het my eenkant toe geskuif. My bure wil my nie ken nie!” Dink maar aan al die eensames in ons gemeenskap: bejaardes, enkelouers, alleenlopers, kinders in kinderhuise, mense wat deur ‘n trauma in hulle dop gekruip het en so baie ander. Daar is mense wat eensaam is as gevolg van omstandighede soos die verlies van ‘n lewensmaat of egskeiding. Daar is eensames wat in eensaamheid verval het vanweë hulle persoonlikheid of hulle persepsie oor hullself. Mense wat nie maklik kommunikeer nie. Mense wat dink hulle is nie mooi of goed genoeg nie. Mense wat bang is om seer te kry. Mense wat hulle vertroue in ander verloor het. Mense wat deur ander verstoot en verwerp is. Daar is so baie mense in ons gemeenskap!

Die Psalmdigter ervaar nog ‘n dieper lyding: en dit op geestelike vlak. Hy voel dat God hom verwerp en weggegooi het. Dit is die dieptepunt van lyding. Hoe baie siekes voel nie ook so nie? Die Here het sy rug op my gedraai. Hy stel nie meer in my belang nie. Hy het my afgeskryf. Namate my kragte afneem en mense my verwerp, lyk dit mos asof die Here my verwerp en weggooi. Dit is ‘n verskriklikke belewenis!

Die Psalmis sê dat sy dae verdwyn soos rook. Sy dae is sinloos en leeg, en dit gaan sommer net verby. Hy sê ook dat die einde van sy lewe naby is, soos ‘n sakduwee wat lank geword het. Ons weet mos as skaduwees lank word, is dit ‘n teken van die naderende einde van die dag, en so voel hy ook. Hy is lewensmoeg, en sy lewe voel leeg en sinloos. Waarom lewe hy nog? Kan dit nie maar tot ‘n einde kom nie?

Is dit nie soos eensames baie keer voel nie? Waarom lewe ek? Wat is die sin en betekenis van my lewe? Ja, eensames sny hulle dikwels af van ander en onttrek hulself. Dit lei nie net tot ‘n verlies aan selfvertroue en ‘n negatiewe selfbeeld nie, maar ook tot apatie. Die eensame word apaties en het nie meer die drang om te leef en dinge te doen nie. Die eensame word passief en wil nie betrokke raak nie. Dit kan lei tot erge depressie.

Dit gebeur dat sommige eensames uit hulle eensaamheid probeer ontvlug deur hulle toevlug tot drank of dwelms te neem of deur losbandige verhoudings aan te knoop. Daar is ook ander wat dit probeer ontkom deur die najaag van sukses. Hulle werp hulle hart en siel in hulle werk en wil ten alle koste presteer om so hulle eensaamheid te oorbrug. Daar is ander wat altyd tussen mense wil wees om maar net te vind dat ook dit nie werk nie. Hulle woon al wat ‘n partytjie is by en jaag van die een plek na nie ander om maar net nie alleen te wil wees nie. Dit werk nie, maar vererger net die eensaamheid.

Wat kan ek doen? Die eerste stap wat geneem kan word, is om jou eensaamheid as gegewe te aanvaar. Maak vrede met jou eensaamheid. Nie in die sin dat jy dit as permanente gegewe aanvaar nie, maar dat jy aanvaar dat dit nou so is en dat jy iets daaraan kan doen. Jy bly tog in beheer en kan die situasie verander. Reik dan uit na ander. Werk aan jou kommunikasie vaardighede, kommunikeer met ander. Praat met mense. Dit mag aan die begin moeilik wees, maar met tyd word dit beter en makliker. Reik uit, nie om iets te kry nie, maar om iets te gee. Raak betrokke by ‘n groep. Hoe minder aktief mens is, hoe meer eensaam word jy.


Die Psalmis het in sy eensaamheid hom tot die Here gewend. Hy praat met die Here. Hy vestig sy hoop op die Here. Opvallend is dat die Psalmis sy hoop op die Here plaas vir die toekoms. Hy glo die Here het ‘n toekoms vir Sy volk en alle mense. Hierin stel hy vir ons ‘n voorbeeld: wend jou tot die Here in jou eensaamheid. Praat met Hom, Hy sal jou nooit alleen laat nie. Was Jesus dan nie van God verlate en totaal eensaam sodat ons tot God geneem om  nooit deur Hom verlaat te word nie? Eintlik is die gelowige nooit heeltemal eensaam nie. Die Here is altyd by ons. Met Hom kan ons die toekoms ingaan met vertroue. Dan het ons ‘n toekomsperspektief. Hy is by ons en sal altyd by ons wees. Omdat ons aan Hom behoort, en deel is van Sy kerk, is ons saam met ander. Ons het baie broers en susters. Ons is deel van ‘n wêreldwye skare van gelowiges wat almal die Here aanbid. Eintlik behoort daar dan mos nie eensames onder ons te wees nie...
0 Kommentaar: so far: