14 Julie 2013 Patensie
Oor vriendskap met uitgeworpenes
Matteus 9:9-13; 11:19
Aan jou
vriende sal jy geken word. Hierdie spreekwoord is aan ons goed bekend, en daar
is ‘n groot mate van waarheid in hierin. Dit is dan logies en reg dat ouers
bekommerd is oor die vriendekring van hulle kinders. ‘n Verkeerde vriendekring
kan jou kind se lewe negatief beinvloed en selfs verwoes. Met reg waak ouers
oor die vriendekring waarbinne hulle kinders beweeg. Tog moet ons ook erken dat
baie mense al hierdeur verontreg is en dat baie onreg gepleeg is onder die
dekmantel van “verkeerde vriende”.
Wie was die
vriende van Jesus? Met wie het Jesus geassosieer? Wat sê Matteus hieroor in sy
evangelie? Dit is belangrik, juis omdat die evangelie van Matteus gerig is tot
Christene uit die Jodendom. IN die Jodendom was jou vriendekring baie
belangrik. Al was vryheid van assosiasie nie onbekend nie, was dit vir hulle
van die grootste belang dat jy in die regte kringe moes beweeg. Jy moes jouself
veral assosieer met mense uit jou eie stam en dan met ander wat uit minstens
dieselfde sosiale klas as jy was. Daar was dan verdere duidelike bepalings met
wie jy nie moes assosieer nie. Die “lys” is nogal opgestel deur veral die
kerkleiers van die tyd.
So mag jy
jouself nie assosieer met heidene nie; ook nie met melaatses of mense wat
onrein is nie, dit wil sê mense wat op een of ander wyse verontreinig was. Dit
het onder andere ingesluit vroue wat gemenstrueer het, mense wat in kontak met
‘n lyk of ander siekes was. Sulke mense moes vermy word. Sondaars was ook op
die lys van verbode vriende. Sondaars was veral in die Matteus Evangelie, mense
wat nie voldoen het aan die reinigingsritusse en ander bepalings van kerkleiers
nie.
Jesus, so
het Matteus tot hier beklemtoon, kom uit die geslag van Dawid. Hy kom uit die
mees aristokratiese stam en geslag van Israel. Dit sou derhalwe verwag kon word
dat Hy sou beweeg in die kring van die aristokrasie; die toplaag van die
bevolking. In hoë kringe moes Hy beweeg. Dit word verder versterk deur die feit
dat Matteus beklemtoon dat Jesus nie net uit die geslag van Dawid was nie, maar
ook dat Hy die Seun van God is. Hy ìs die verwagte Messias. Die Koning van die
Jode. Die Een wat Sy volk sou verlos.
Uit dit
alles blyk dat verwag kon word dat jesus Homself sou assosieer met die
invloedrykes en die belangrikes.
Die
Evangelie begin dan deur te beklemtoon dat Jesus eer ontvang van die hoogste
kringe. Dit was die geleerdes uit die Ooste; die aristokrasie van ander volke
wat kom om aan Hom eer te bring. Hy tree op as Rabbi en as radikale Onderwyser
onderrig Hy die skare op besondere wyse en toon so aan dat Hy die verwagte
Messias kan wees. As Geneser toon Hy eweneens dat Hy die verwagte Messias kan
wees. Hy is ‘n Persoon met buitengewone verstand, insig en mag. Die verwagting
dat Hy die Messias is, word al sterker.
Reeds van
die begin van Sy optrede, met Sy onderrig en met genesings, begin dit al
deurskemer dat Jesus nie heeltemal inpas in die prentjie wat hulle vir hulself
geteken het nie. Hy leer nie soos, en in ooreenkoms met wat hulle destyds gehoor het nie. Hy wyk
radikaal af van die standaard inhoud van onderrig en gee telkens radikale nuwe
interpretasies.
Met Sy
genesings, wend Hy Hom tot diegene wat
deur die gemeenskap verag is. Hy reik uit na die melaatse en raak hom aan. Dit
was totaal verbode. Die melaatses moes buite die stad in afsondering bly. Met
hulle mag geen mens kontak hê nie. Jy mag nie eers iets aanraak waaraan hulle
geraak het nie. Jesus reik verder uit na vroue en raak vroue wat onrein was,
aan. Ook dit was taboe gewees. Vroue het nie ‘n besondere ereplek beklee nie
maar was redelik laag op die sosiale rangorde gewees.
Nou sou ons
kon sê dat Jesus met die genesings uitreik na mense wat verag is of op die rand
van sosiale lewe gestaan het en dat Hy met Sy optrede hulle teruggebring het in
die sosiale kringe waartoe hulle eintlik behoort het. Kan ons hier werklik
praat van vriendskap? Is dit nie maar net toevallige of kortstondige uitreike
nie? Miskien was dit soms so, maar ons weet darem ook dat sommiges Jesus gevolg
het en so deel geword het van Sy vriendekring. So weet ons van Maria Magdalene
uit wie, volgens Lukas 8:2, sewe duiwels uitgegaan het, Jesus gevolg het tot
die einde toe. Sy was van die weiniges wat met Sy kruisiging daar naby gestaan
het en was die heel eerste persoon aan wie Jesus na Sy opstanding verskyn het.
Dat daar ‘n noue verband tussen hulle was, kan nie ontken word nie. Sy, en
talle van die ander vroue wat Jesus gevolg het, vir Sy dissipelsgesorg het en
self ook deel van Sy noue veolgelingsgroep gevorm het, was mense met wie baie
van die Jode in daardie tyd nie geassosieer wou gewees het nie.Trouens die
kerkleiers van destyds het verwytend gesê dat Jesus met tollenaars en sondaars
eet en dat selfs prostitute in Sy gesleskap
gesien is. Met minagting het hulle na die vriendekring van Jesus verwys.
Dit wat met
die genesings al na vore kom, word hierna skerp uitgebou met die roeping van Matteus.
Jesus gaan staan en roep Matteus om Hom te volg. Jesus neem die inisiatief, Hy
is die een wat uitreik na Matteus. Hy knoop ‘n gesprek met hom aan, en rig ‘n
versoek of uitnodiging tot Matteus. Jesus is die een wat ‘n vriendskapsband
smee.
Wie was
hierdie Matteus? Hy was ‘n tollenaar, en tollenaars was nou nie juis die mees
gewildste mense nie, inteendeel. Tollenaars was in diens van die Romeinse
owerheid gewees, en as sodanig was hulle klaar onpopulêr. Om hulle posisie nog
slegter te maak, was dit algemene gebruik onder die tollenaars om buitensporige
tolgelde te hef en die mense uit te buit. Daarby was hulle bekend as
onderduims, wreed en geldgierig. Die Jode kon hulle eenvoudig nie verdra nie.
Hulle is vir alle praktiese doeleindes uit die gemeenskap geban. Dis nou mense
met wie jy jou nie ophou nie! Jesus roep Matteus nie net om Hom te volg nie,
maar Hy gaan ook na sy huis toe en eet saam met Matteus en sy vriende. Hiermee reik Hy dus nie net ‘n
hand van hulp uit nie, maar ‘n hand van vriendskap. Iets wat nie tydelik van
aard was nie, maar vriendskap wat tot met die dood sou bly staan.
Dit het tot
spanning gelei en Jesus se beeld skade berokken. Die kerkleiers wil algou weet
waarom die leermeester wat soveel aansien geniet het, so ‘n dom ding kan doen.
Hoe kan Hy sy eie beeld so skade aandoen deur saam met tollenaars en sondaars te
eet en te drink? Die spanning tussen Jesus en die kerkleiers word hierna net
meer intens. Hierdie vriendskap, en die ander wat gevolg het, het daartoe gelei
dat daar al groter spanning tussen Jesus en die mense in die hoë sosiale klas
gekom het. Hy het hiermee die kerkleiers, die bekendes invloedrykes en
meningsvormers van Hom vervreem. Van menslike perspektief gesien, moes Jesus ‘n
duur prys betaal vir Sy vriendskap met die tollenaars en die sondaars.
Die
kerkleiers was so kwaad oor die feit dat hierdie radikale Onderwyser en groot
Geneesheer uit die stam van Dawid, die Man wat net dalk die Messias kon wees,
Hom met sulke mense bevriend, dat hulle van Hom gesê het: “Kyk daar, ‘n vraat
en ‘n wynsuiper, ‘n vriend van tollenaars en sondaars.” (Matt. 11:19). Dis die
etiket wat hulle om Sy nek gehang het. Dit was een van die redes waarom daar
altyd spanning was en hulle uiteindelik Sy dood gesoek het.
Is dit nie
so dat daar nog altyd onderskeid getref is nie? Ons groep en ander groepe. Die
geleerdes en die ongeleerdes, die rykes en die armes, die invloedrykes en
onaansienlikes. Ons en hulle. Ons wil baie keer maar net in ons eie kringe
beweeg. Ons kinders moet tog nie bevriend raak met mense “laer” as ons nie. “Hoër”, ja maar net
nie laer nie.
Soms sal ons
darem uitreik na ander. Maar dan met so ‘n meerderwaardige neerbuig en solank
dit net vir ‘n kort rukkie of spesifieke doelwit is. Solank werklike assosiasie
en betrokkenheid nie ter sprake is nie. Hoe tragies. Dan is ons eintlik ook
niks anders as Fariseërs nie. Skynheilige witgepleisterde grafte.
Jesus, die
Seun van God was die Vriend van veragtes en uitgestotenes. Hy het nie Sy
beginsels prysgegee nie. Hy het nie verval en sleg geword nie. Hy het ook nie
in meerderwaardigheid neergedaal tot die vlak van Sy vriende nie. Inteendeel,Hy
het hierdie veragte uitgeworpenes nog gedien en soms hulle voete ook nog gewas.
Is hierdie gesindheid wat in Jesus was, ook ons s’n?
Post a Comment