POSTED BY Steven Sass on 05:40 under
Lukas 18:1-8
Gebed is ‘n uitdrukking van ons geloof
Ek onthou nog goed, toe ek ’n eerstejaar-student in die koshuis op Stellenbosch was, hoe diep beïndruk ek was met een van die seniors in die koshuis. Hy was ’n finalejaar teologie-student, en hy het my vertel hoe hy Saterdae in die berge ingaan dan daar vir ure lank bid. Ek het gewens ek kon ook so bid, vir ure aanmekaar. Ek het gedink dit is die toppunt van vroomheid en geestelike volwassenheid.

Ek het ’n idee baie mense is op een of ander stadium van hulle lewe daar waar ek was: ongemaklik en onseker oor hulle gebedslewe. En dan, as iets in jou lewe gebeur wat jy nie wou gehad het nie, dink jy: ja, dis omdat ek nie genoeg bid nie.

Nou, as ’n mens hierdie gelykenis wat Jesus vir ons vertel, so vinnig lees, versterk dit natuurlik hierdie persepsie. As jy net lank en ernstig genoeg bid, sál God jou hoor. So dink ons. So lyk dit ook uit die gelykenis, want Jesus sê tog self: ons moet altyd aanhou bid sonder om moedeloos te word. Dit kan dan lyk asof ’n mens sal kry wat jy vra as jy net lank genoeg aanhou.

Maar as ons só oor gebed dink, is ek bevrees, is ons nie vreeslik Christelik nie. Die heidene reken ook so. Dink maar aan die verhaal van Elia en die Baälpriesters op die berg Karmel (1 Kon 18). Daar het hulle die hele dag aangehou om tot hulle god Baäl te roep en te dans en later selfs hulleself stukkend te sny, menende dat hulle só Baäl kon oorreed om na hulle te luister. Dit het natuurlik nie gehelp nie, want Baäl is ’n afgod, nie die lewende God nie. Maar dis hoe hulle gedink het: as jy net lank en hard genoeg bid, sal Baäl se hart sag word en hoor.

Is dít hoe jy oor gebed dink? Dat jy God moet oorreed met jou lang en aanhoudende gebede? Dat jy sy hart moet sag maak? Of dalk só moet irriteer met jou aanhoudende gekerm dat Hy maar later ingee? Dalk omdat jy iewers, diep in jou hart, dink God is bietjie soos die hardvogtige regter in die gelykenis? Dat Hy nie sommer ingee nie, en daarom eers bietjie aangepor moet word voordat Hy antwoord? Dat Hy so besig is met ander sake dat jy hard en lank moet kerm voordat dit sy aandag vang? Dis mos wat Elia vir die Baälpriesters gesê het: dalk slaap Baäl. Hulle moet harder roep om hom wakker te maak.

Miskien dink jy: maar dis tog wat hier staan! Jesus moedig ons aan om soos die vrou in die gelykenis aan te hou totdat ons God moeg maak vir ons gesanik. Maar dis nie hoe ons die gelykenis moet verstaan nie. ’n Gelykenis probeer meestal net een punt tuisbring, nie ’n klomp nie, en as ons elke aspek van die gelykenis probeer toepas, gaan ons by die verkeerde gevolgtrekking uitkom. Die gelykenis vra dat ons na die vrou moet kyk, nie na die regter nie. Trouens, Jesus sluit af deur te sê God is juis nié soos die regter nie. Hy is totaal anders. Hy is nie onregverdig en hardvogtig nie. Hy wag nie om oorreed te word nie. Hy sal help, en gou ook (vers 8). Want Hy is ons hemelse Vader wat ons liefhet, wat met sagte, vriendelike oë na ons kyk, wat met gespitste ore na ons gebede luister.

Nee, die punt van die gelykenis is nie die regter nie, maar die vrou en haar volharding om te stry vir wat reg is. Dís waar ons moet aanhaak in die gelykenis. Dis ook hoe Lukas dit verstaan. Hy skryf in vers 1 dat Jesus die gelykenis vertel het om duidelik te maak dat ’n mens altyd moet aanhou bid sonder om moedeloos te word.

Daar is mense wat sê hulle sê ’n ding net een keer vir God, en dan los hulle dit by Hom, want Hy weet die beste. Maar as ek hierdie gelykenis reg verstaan, sê Jesus ons kan ’n saak maar weer en weer voor God se troon bring. Ek dink altyd só daaroor: ek bid oor ’n saak tot ek ’n antwoord kry, of dit nou ja of nee of later is. Maar ek mag aanhou, nee, ek móét aanhou bid tot ek ’n antwoord kry. Dis wat Jesus hier vir ons sê. Want sien, ons lewe mos in ’n verhouding met God, en net soos ons in ander verhoudings vrymoedigheid neem om iets meer as een keer te vra, kan ons dit in ons verhouding met God ook doen. Partykeer is dit juis in die herhaalde vra dat God ons hart beter leer verstaan, en beter weet hoe ons dink en waar ons passie lê.

Uiteindelik is dít geloof: om in ’n oop, eerlike verhouding, en in afhanklikheid, voor God te leef. ’n Mens wat net een keer bid en dit dan los, doen dit dalk nie omdat hy so ’n diep geloof het nie, maar omdat hy nie regtig oortuig is God sal antwoord nie. Daarom hou hy op voordat hy ’n antwoord kry. Daarom sê Jesus in vers 8: Maar sal die Seun van die mens by sy koms nog geloof op die aarde vind? Want gebed het alles met geloof te make. Gebed is direk verbind aan die innigheid waarmee jy aan God verbonde leef. Sonder hierdie innige verhouding, sonder geloof, droog gebed sommer gou-gou op.

Dis hoe ons hierdie laaste opmerking van Jesus moet verstaan. Hy sê ons dink die fout met gebedsverhoring lê dalk by God, omdat Hy soos die hardvogtige regter is. Maar Jesus sê nee, die fout lê nie by God nie, Hy hoor en verhoor ons gebede. Die fout lê eerder by ons wat nie meer glo nie, en daarom nie genoeg moeite met ons gebede voor God doen nie.

Ek dink nie Jesus wil in dié gelykenis vir ons sê ons moet soos daardie teologie-student ure lank elke dag of week tot Hom bid nie. As dit is hoe jy voor God leef, is dit reg en wonderlik. Maar ons is nie almal dieselfde nie. Dit gaan nie oor hoe lank jy op ’n keer kan bid nie. Dit gaan eerder oor ’n daaglikse oop verhouding met God, om ’n lewe waarin jy jou hart voor God met vrymoedigheid en met vreugde oopmaak, elke dag, omdat Hy jou Here en jou God is.

Mag ek en jy só voor God leef!


Amen.
0 Kommentaar: so far: