Esegiël 37:1-14;
Handelinge 2:37
|
Woorde wat lewe gee In Psalm 77 bid Asaf dat die Here hom sal help. Maar dan antwoord die Here nie. En hoe harder Asaf bid, hoe stiller bly God. Totdat Asaf besluit dat hy God liewer maar moet afskryf. Want God wil nie meer help nie, dalk, sê Asaf, kan God nie meer nie.
Ook ons, kom soms
in hierdie situasie. Dinge gebeure met ons, goed kom ons oor, probleme of
probleempies stap oor ons lewenspad, ons drome word nie bewaarheid nie, wat
ons gehoop het gaan met ons in ons lewens gebeur gebeur toe nie so nie, daar
kom angs oor ons oor ‘n bepaalde situasie, noem maar op. Almal sake wat maak
dat ons by ‘n punt in die lewe kom waar ons voel, soos Asaf, dat God weg is.
Of dalk, ervaar
ons God afwesig in ons lewe as gevolg van sonde wat ons gedoen het. Dit is
ook moontlik. Waar ons so verwerp in onsself voel dat ons nie meer kans sien
vir die lewe nie. Ons almal, ken daardie doodsheid wat soms oor ‘n mens sak,
‘n doodsheid wat ‘n gevoel van nutteloosheid en totale moedeloosheid oor ‘n
mens laat kom.
In Esegiël 37
vind ons vir Esegiël in presies dieselfde situasie. Behalwe dat die volk in
ballingskap was (dit wil sê, weg van hulle land, hulle tempel en baie van
hulle mense), is al wat hulle gehoor het die oordele van God. Lees gerus maar
Esegiël so van hoofstuk 12 af deur. Die profete is soos jakkalse, daarom gaan
Ek gaan hulle straf, los julle afgode, julle gaan sterf, vuur gaan julle verteer,
Jerusalem sal soos ‘n klein boompie platgevee word, die wat sondig gaan
sterf, ellende wag op my volk, Ek gaan optree teen die profete. Net oordele.
Dit is al wat hulle hoor.
Alles was soos
die dood. Daar was niks meer om voor te lewe nie. So het die volk gevoel.
Maar ook die profeet Esegiël. Ook hy was maar goed moedeloos. Wat meer is,
deur die krag van die Here, lees ons, kom Esegiël in ‘n laagte vol
doodsbeendere aan. En wat sien hy? Presies wat hy voel. Baie bene wat droog
is, ‘n hele laagte vol. Presies soos sy hart vol dood is. Dus: wat hy voel,
is nou maar net wat hy sien. Alles is vir hom en die volk dood, alles is
verby.
Maar dan gebeur daar iets. Terwyl Esegiël so tussen die bene rondloop, kom God na hom toe met ‘n vraag. Dink jy, Esegiël, dat daar weer lewe in hierdie bene kan kom? Esegiël se antwoord, broers en susters, dat net die Here weet, beteken eintlik: nee wat Here, daar is nie ‘n kans nie. Menslik gesproke is dit nie moontlik nie. Hoe kan ‘n klomp dooie droë bene weer begin lewe? Maar u sal weet, Here. Maar weet, ek dink nie so nie.
Wat dan gebeur,
moes Esegiël seker tot skaamte gebring het. Gaan jy Esegiël, sê die Here, en
sê vir hierdie bene: lewe weer. En wat gebeur? Met die hoor van die woord van
die profeet beweeg die bene na mekaar toe, word dit met senings oorgetrek, en
kom daar ‘n vel oor. En daar lê almal toe, kan ons sê.
Toe kom die Here
weer na Esegiël, sien ons, en sê vir hom: sê vir die Gees om in hierdie mense
in te gaan. En toe Esegiël dit doen, gaan die Gees in almal in, en hulle
staan regop.
Wat, het hier
gebeur? Ons kan dit alles eintlik baie eenvoudig en kort saamvat: die volk
was dood. Hulle het gevoel God is weg. Daar is nie weer kans tot lewe nie.
Toe kom God en gebruik ‘n mens, sy profeet om twee dinge te doen. Sy woord te
verkondig dat daar lewe in God is, en God te bid om sy Gees weer uit te
stort. Met twee gevolge: God se volk het weer begin lewe, en, baie belangrik,
almal het besef dat die Here God is. Dat Hy wel in beheer is, dat Hy lewe wil
en kan gee.
Kom ons sê dit
nog meer eenvoudig: God gee lewe deur sy Woord en sy Gees. Daar waar sy woord
verkondig word, en waar sy Gees hierdie woord op mense se harte laat val,
daar kom lewe. So eenvoudig werk God. Baie kerke maak vreeslik baie van die
gebeure rondom Pinksterdag soos ons dit in Handelinge 2 raaklees.
Wat het eintlik daar gebeur, as ons dit in sy eenvoudigste boodskap wil raaklees? Soos belowe, het God se Gees uitgestort. Onder leiding van hierdie Gees, soos die geval met Esegiël, verkondig Petrus dat Jesus gesterf het, opgestaan het, opgevaar het, dat Hy lewe, en ons wat dit glo, ook sal lewe. En wat gebeur? Deur die Gees word hierdie woord deur meer as 3000 gehoor, wat tot bekering kom en God se kinders word.
Waar nie lewe was
nie, was nou lewe. Hoekom? Omdat iemand, die Woord verkondig het, en God deur
sy Gees hierdie Woord op vrugbare grond laat val het. So eenvoudig,dat ons
nie meer dink dat dit moontlik is dat God nuwe lewe kan gee nie.
Want ons koppe
werk anders. Ons is moderne mense. Ons dink in terme van prosesse. In terme
van oorsake en gevolge. Dinge moet vir ons redelik en logies wees. En as ons
kan sien wat aan die gebeur is, nog beter. Want dan kan ons dit selfs
beskryf, en dalk nog beter verklaar.
God, werk nie so
nie. Soveel te meer werk die Gees ook nie so nie. Johannes 3 sê juis die Gees
is soos die wind, hy waai wanneer en waar Hy wil. Ons kan Sy werking nie sien
nie. Maar beteken dit,omdat ons die werking van die Gees nie kan sien nie,
dat die Gees nie werk nie, nie nuut kan maak nie?
Soos Esegiël
gedink het. Nee wat Here, hierdie klomp ou dooie en droë bene? Daar is nie ‘n
kans nie. En wat gebeur toe? Esegiël moes erken dat die Here God is. Wat meer
is, hy moes erken dat deur sy woorde, in opdrag van God, onder leiding van
die Gees, lewe gegee het.
Besef ons,dat ons
woorde in ons dra wat die lewe kan gee aan ander? En al dink ons dit is nie
moontlik nie, is dit so. Hoekom? Want wanneer die Gees in ons lewe, lewe die
Woord van God ook in ons. Wat meer is, dit is nie uit eie krag of insig wat
ons hierdie Woord moet verkondig nie. Dit is nie op eie stoom nie. Want ook
die krag wat ons nodig het om deur ons woorde en dade die woorde en dade van
God te word, kom van die Gees.
Ons moet dit net
met woord en daad gaan verkondig. Al dink ons dat dit geen effek sal hê nie.
Esegiël het vir die Here gesê: nee wat Here, hier kan nie weer lewe in
hierdie doodsbeendere kom nie. Maar toe hy gaan doen wat die Here gevra het,
het daar lewe gekom. Want, sê vers 14, die Here het dit gesê, die opdrag
gegee, en dit deur Esegiël gedoen.
Met Pinkster het
die Gees oor mense gekom. Hoekom? Sodat ons in staat sal wees om te gaan
verkondig en te gaan leef, en so nuwe lewe te wek.
Kom ons bid, en
sê dankie dat God ons so wil gebruik. Kom ons bid dat ons sal raaksien dat
dit is hoe God werk. En kom ons bid sat God ons so sal gebruik, dat lewe
geskep word waar ons beweeg en werk.
Esegiël het verkondig, en dooie
bene het lewend geword. Petrus het verkondig, en drie duisend mense het tot
bekering gekom. Wie verstaan dat God vandag nog sy kinders so gebruik, sal
lewe gee.
|
Post a Comment