POSTED BY Steven Sass on 06:16 under
22 September 2013 Patensie
Mede-skepper, besing die Skepper!
Psalm 8
Psalm 8 is een van die mooiste lofliedere in die boek Psalms. Hierdie Psalm is moontlik deur ‘n herder geskryf wat dikwels snags met sy skape in die veld deurgebring het. Dit kon ook net wees dat dit geskryf is deur iemand wat gereeld na die sterrehemel gekyk het of by geleentheid diep aangegryp is deur die grootsheid van die die sterrehemel. Feit bly dat hier nie een of ander grootse ingrype van God in die geskeidenis van die volk of die lewe van die digter is wat dié Psalm ten grondslag lê nie.

Wat wel aanleiding tot die loflied gegee het, was ‘n geloofskyk na iets wat elke dag en nag net eenvoudig daar is. Iets wat ons ook elke aand of nag kan sien en ervaar. Gebeur dit? Of gaan dit by ons verby en het ons te afgestomp geword om te sien? Of is ons so besig dat ons nie tyd maak om ‘n bietjie rondom ons te kyk nie?

As die digter opkyk na die sterre en onder die besef van die grootsheid en die skoonheid van die sterrehemel kom, dan roep hy uit: “Here, ons Here, hoe wonderbaar is u Naam oor die hele aarde. Hy spreek die Here aan op Sy verbondsnaam (in Hebreeus :Jahweh) en voeg daaraan toe die Hebreeuse woord Adonai: ‘n title vir die koning of heerser. Here, ons Meester.

As mense baie lief is vir mekaar, dan spreek hulle mekaar soms op die naam aan en voeg daaraan ‘n troeteltitel by. Ons sê die naam en my liefling/skat/skapie ensovoorts. Hierdie aanspreekvorm dui op so ‘n intieme liefdesverhouding tot die Here. Hiermee alleen wil die digter dan ook al sê dat hy in ‘n noue verhouding tot die Here staan en dat die Here vir hom baie spesiaal is. Dit is asof hy alreeds hiermee sê dat iets spesiaals en besonders gaan volg. Hy gaan dan voort deur te sê dat die Here se naam wonderbaar is oor die hele aarde. Dit is asof die sterre die naam van die Here uitspel – Sy handtekening is wat oor die hele aarde skyn en sigbaar is. Kyk net op na die sterre en sien hoe groot God se naam oor die hele aarde geskryf is.

Verder sê die digter: “Hoe glansryk is alles wat U aan die hemelruim geplaas het”. Die hemelruim is so anders as die donker en stowwerige aarde. Daar skitter alles. Vir die digter is dit so omdat dit so na aan die woning van God is. Hy gee die glans. Sy heiligheid word weerkaats in die sterrehemel. Dit is dan juis wat die woord heilig beteken: skitterend en stralend, soos die son en die sterre.

Hiermee beklemtoon die digter dat die hemelruim die lof van God verkondig. ‘n Nederlandse digter het by geleentheid gesê dat alles die lof van God verkondig – as die siel maar net wil luister. Psalm 8 wil sê: kyk net na die helemruim en sien hoe alles die lof van God verkondig; Sy Naam is wonderbaar; Sy werke is stralend en glansryk.

Die gevolg hiervan is dat kinders en suigelinge die magtige werk van die Here besing. Selfs die in die gemeenskap wat nog nie tot die volle kennis en insig gekom het nie, kan beleef dat die Here wonderbaar is en Sy werke glansryk.  Hulle prys Hom. Die teenstanders van die Here word tot swye gedwing as hulle Sy magtige werke sien. Wie kan anders as om stil te word by die aanskoue van die magtige skeppingswerke van God? En ons? Besing ons die magtige werk van God? Staan ons in verwondering stil voor Hom?

By die aanskoue van die magtige werk van die Here, vra die digter dan: “wat is die mens dat U aan hom dink en na hom omsien?”. Die aanskoue van die hemelruim en die besef van die grootsheid van die werke van die Here, bring hom tot die diepe besef van sy eie nietigheid. Hoe klein is die mens nie. Ja, die mens is nie eers ‘n spikkeltjie nie. Die mens is eintlik weglaatbaar klein. Nietig en verganklik. So sonder skynsel dof, so amper niks nie. Boonop stel die mens God voortdurend teleur deur sy woorde en dade. Ons is so onbelangrik, so nietig, van so min belang... die besef van die van die grootsheid van God se skepping maak ons diep nederig en stroop ons van alle grootheidswaan. Miskien is dit nodig dat ons almal van tyd tot tyd na die sterrehemel sal kyk en sal besef dat ons nietig en klein is. Dat ons sal stil word en gestroop word van al ons grootheidswaan sodat ons soos die suigelinge en kinders die lof van die Here kan besing.

Maar wat het God met die mens gedoen? God het vir die mens ‘n spesifieke plek gegee in die skepping; ‘n bepaalde status en ‘n duidelike taak. Dit word in die volgende verse omskryf. Die Here het die mens, wat so klein en nietig is: net minders as ‘n hemelse wesen gemaak; met aansien en eer gekroon en hom laat heers oor die werk van die Here.

Die mens beklee ‘n besondere plek in die skepping – net minder as ‘n hemelse wese is die mens. Dit herhinner ons aan Genesis 1 waar gesê word dat die mens na die beeld van God geskep is. Die mens is die skaduwee van God. Die een wat se weerkaatsing hier op aarde is. Onlosmaaklik aan God verbonde. “n Hoë en verhewe posisie beklee die mens. Ons is Koningskinders; God se kinders. As sodanig is die mens met aansien en eer beklee. Ons het nie aansien en eer uit onsself nie; ons verwerf dit nie deur al ons belangrike werk nie. Ons kry dit van die Here af, Hy gee dit aan Sy kinders. Die aansien en eer van die kind van die Here, die almagtige Skepper. Daarom is die mens nie minderwaarig nie. Mag die gelowige nie dink dat hy/sy niks beteken en onbelangrik is nie. In die oë van die Here is die mens baie belangrik, want Hy beklee die mens met aansien en eer. Dit beteken dat ons moet leef ,waardig die aansien en eer wat God aan ons gee. Ons moet ons nie met die semels meng nie. Ons moet nie ons aansien en eer misken en vertrap nie. Elke mens is vir God belangrik, ja so belangrik dat Hy Sy Seun gestuur het om in ons plek te sterf sodat ons deur Hom aangeneem kan word as Sy kinders. Die gelowige kan hieraan vashou, al probeer die wêreld jou afbreek, al het jou selfbeeld ‘n lelike knou gekry, en al wil jy twyfel oor jou vermoë, dan moet jy hieraan vashou: God het aan ons aansien en eer gegee.

Verder sê die Psalm wat die taak van die mens is, naamlik om te heers oor “die werke van U hande”. Die mens het ‘n heersertaak. God het alles aan die mens onderwerp en die mens moet heers oor die skepping. Dit plaas ‘n groot verantwoordelikheid op die mens. Ons mag nie God se skepping verniel of vernietig nie. Die mens is in ‘n besonderse posisie geplaas en mag nie misbruik maak van hierdie posisie nie. Die koning het in die Ou-testamentiese tyd ‘n definitiewe omskrywing van sy heerserstaak gehad. Dit het veral drie dinge behels: hy moes sy onderdane bekerm teen gevare van buite, hy moes omsien na die swakkes in die gemeenskap wat nie na hulle self kon kyk nie en moes sorg dat reg en geregtigheid geskied en die een nie benadeel word deur ‘n ander nie. Dit is wat dit beteken om te heers. Let op, dit gaan nie om ‘n ereposisie en om gedien en geëer te word nie, maar eerder om te dien. Het Jesus nie ook hierin die volmaakte  voorbeeld gestel nie? As ons oor God se skepping moet heers, dan beteken dit dat ons dit moet beskerm, moet omsien na die belange van die swakkes en die wat nie na hulleself kan omsien nie en dat ons moet sorg dra dat reg en geregtigheid geskied.


Die Psalm eindig dan soos dit begin het: die sirkel word voltooi met die bring van die lof en die eer aan die Here: “Here, ons Here, hoe wonderbaar is U Naam oor die hele aarde!” Nadat die Psalmdigter die grootsheid van die skepping van die Here beleef het, Sy lof besing het, in verwondering besef het wat die plek, posisie en taak van die mens is, besef hy weer eens dat dit alles deur die genade van die Here is. Daarom kan hy nie anders as om weer eens die lof aan die Here te bring nie. So moet die bring van die lof en eer aan die Here ook ons hele lewe omvat en omsluit. 
0 Kommentaar: so far: