15 September 2013 Patensie
Die Here soek die mens op, al loop
alles skeef
Genesis 3
Een
skemermiddag, so vertel Genesis 3 vir ons, het die Here God by die mens kom
kuier. Die manier waarop dit vertel word, skep die indruk dat dit nie ‘n
uitsonderlike kuier was nie. Dit wil klink asof dit die gebruik van die Here
was om elke middag as die werk tot ‘n einde gekom het, by die mens te kom
kuier. Dit gebeur so laatmiddag. Dis mos daardie besonderse tyd van die dag.
Die tyd as die gejaag tot stilstand gekom het. As die sweet van die harde werk
afgewas word...as die mens met ‘n lekker koppie koffie kan sit en ontspan. As
man en vrou die verloop van die dag met mekaar kan deel. Sommer net saam sit en
alles van jou laat afrol.
Die manier
waarop dit hier vertel word, laat mens dink aan ‘n pa wat teen skemertyd by sy
kinders gaan kuier. Hy wil hoor hoe dit gaan en wil die mooi tyd van die dag
saam met hulle geniet en deel in hulle vreugdes.
Helaas, die
middag toe die Here God weer kom kuier, het ales skeef geloop. Eintlik het
dinge die hele dag gelol en dit het hoe later hoe kwater geword. Die dag was ‘n
totale mislukking. Hoe sou hulle nie wens dat die dag anders verloop het nie!
Die Here het nie robotte gemaak nie, maar mense. Dit beteken dat hulle ‘n vrye
keuse gehad het en kon kies wat hulle wou doen.
Daardie dag
het die vrou die slang raakgeloop. Sy leen haar ore uit vir die slang en laat
toe dat hy haar ‘n gat in die kop praat. Al sê sy aan die begin vir hom dat hy
die woorde van die Here verdraai, begin sy vinnig twyfel en wonder of hy nie
dalk reg kan wees nie. Die Here het die vrugte van die bome in die middel van
die tuin vir Homself uitgehou, maar sy het nie daaraan gedink dat dit dalk kan
wees dat as hulle van die vrugte eet, hulle soos God sal word nie. Hoe lekker
sou dit nie wees nie. Dan hoef hulle nie meer namens die Here en tot Sy eer te
werk nie, maar kan hulle in Sy plek gaan staan en gelyk wees aan Hom. Dan is
hulle nie meer kleimensies nie, nie nietig en verganklik nie, maar groot en
ewig. Dit kan net lekker wees. Die gedagte was so aantreklik dat sy van die
vrugte gevat en geëet het. Boonop gee sy dan vir haar man daarvan. Hy dink nie
eers tweemaal nie, maar eet toe sommer ook.
Kom ons wees
eerlik: Is dit nie ook soos baie van ons dae verloop nie? Ons leen ons ore uit.
Ons wil so graag groot wees: soos God wees. Ons luister nie aldag na wat die
Here sê, en dis dan dat ons presies soos die vrou en haar man optree. Hoe
dikwels het dit nie al die afgelope tyd gebeur nie?
Helaas,
alles het toe verkeerd uitgewerk en skeef geloop. In plaas dat hulle soos God
word, besef hulle skielik dat hulle kaal is. Hulle is skaam vir mekaar. Van
skurwe en krapperige vyeblare maak hulle gou iets om hulle mee toe te maak.
Daar kom skeiding tussen hulle. As hulle teen die laatmiddag hoor dat die Here
God op pad is, kruip hulle weg. Hulle is skaam en bang. Die heerlike oop
verhouding met die Here is tot niet.
Die Here God
weet dadelik dat iets skeef geloop het. Maar Hy draai nie om en loop weg nie.
Hy vererg Hom nie so vir die mens dat Hy daar en dan besluit dat Hy nooit weer
iets met die mens te doen wil hê nie. Nee, Hy soek die mens op.Hy roep na die
mens: “Waar is jy?” Reeds op die eerste bladsye van die Bybel kom die liefde
van die Here sterk na vore. Hy soek na die mens. Hoe maklik kon die Here die
mens nie afgeskryf het nie. Hoe maklik kon Hy ons ook nie afgeskryf het nie. Hy
is immers nie afhanklik van ons nie. Ons is nie so belangrik dat Hy nie sonder
ons kan klaarkom nie. Hy soek ons op ten spyte van die feit dat ons vir Hom
wegkruip. Hy roep ons nogsteeds: “Waar is jy?”
Die mens
besef dat hy nie vir die Here kan wegkruip nie. Die Here sal hom in elkgeval
die een of ander tyd kry. Hy sê dan maar waar hy is en waarom hy daar wegkruip.
“Ek het U gehoor wandel in die tuin en het bang geword, want ek is kaal. Toe
het ek weggekruip”. Hy kom met die hele sak patats uit. Miskien moet ons
hierdie voorbeeld meer navolg. Ons kan tog nie vir die Here wegkruip nie. Ons sal
een of ander tyd tog vir Hom moet sê waar ons is en hoekom ons daar is.
Die Here
tree in gesprek met die mens. Uit die wyse waarop die Here begin praat, is dit
duidelik dat Hy dadelik by die kern uitkom. Die mens antwoord deur iemand
anders te blameer. Dis die Here se skuld, dis die vrou se skuld...die vrou wat
U vir my gegee het, het my verlei...sy het vir my van die vrugte gegee. Dit is
so, maar dit neem nie die feit weg dat hy geëet het nie, dit was sy eie keuse.
Nee om ander te blameer help niks nie. Ons kan nie die skuld op ander pak en
boonop die Here verwyt nie. Die Here wend Hom dan tot die vrou. Dieselfde
gesindheid vind ons weer by haar. Sy blameer die slang...en ook dit werk nie.
In plaas van ‘n aangename kuier, het ons dan ‘n hartseer storie van verwyte en
vrees.
Wat gebeur
dan? Gaan die liefdevolle Vader alles oorsien? Gaan Hy sê: ag hoe jammer,
miskien het hulle nie van beter geweet nie.Kom Ek sien dit maar oor. Nee, dis
glad nie wat ons hier gelees het nie. Die Here straf elkeen wat nie geluister
het na wat Hy gesê het nie. As hulle Sy huurooreenkoms verbreek, moet hulle die
gevolge dra. Elkeen kry ‘n besondere straf. Dis nie ‘n algemene straf vir almal
nie, maar eerder ‘n spesifieke straf vir elkeen. Die slang sal op sy pens seil,
wie hom teëkom, sal hom doodmaak. Die vrou sal met pyn en lyding kinders in die
lewe bring. Die man sal swoeg en sweet om ‘n bestaan te maak en aan die lewe te
bly. Die heerlike onbesorgde lewe is verby. Van nou af sal die lewe ‘n stryd
wees. Omdat die mens die huurooreenkoms met die Here verbreek het, word hulle
uit die tuin verdryf en moet hulle buite die tuin vir hulle ‘n plekkie onder
die son soek waar hulle kan probeer om liggaam en siel aanmekaar te hou.
Nou moet ons
ook nie soos die man en sy vrou waarvan ons in Gensis 3 lees, reageer en die
blaam op ander plaas nie. Hoe maklik doen ons dit nie? Hoe dikwels hoor mens
nie: as Adam en Eva nie gesondig het nie, het ons nog in die paradys gewoon.
Dis hulle skuld dat ons so swaarkry. Dis Eva se skuld dat vroue met smart
kinders in die lewe bring en die mans oor hulle heers. Dis Adam se skuld dat
daar dorings en distels is en ons so bitter swaar kry en sukkel om aan die lewe
te bly. Dis alles hulle skuld. As hulle maar net geluister het. Dit is egter
nie wat hierdie vertelling wil bereik nie. Dit word mos juis hier afgewys. Dit
werk nie. Nee, ons is die mens en sy vrou. Want het ons opgelet: die man en
vrou het nog nie hier name nie. Hier word net van die man of mens en sy vrou
gepraat. Ons is daardie man, daardie vrou. Dis mos ons wat nie luister nie, ons
volg ons eie kop. Ons doen wat teen die wil en bevel van die Here is. Ons kruip
weg, ons is bang. As die Here na ons toe kom, dan kruip ons weg uit vrees.
Daarom is die straf ons eie straf. Ons persoonlike straf. Ons verdiende loon. Dis
eers as ons dit besef en bely, dat daar hoop is.
Genadiglik
eindig die Bybel mos nie hier nie. Dit vertel hiervandaan oor en oor vir ons
hoe die Here na die mens kom en die mens soek. Hoe die Here die verhouding met
Hom weer wil herstel. Dit vertel mos vir ons dat God Sy Seun gestuur het om ons
vry te maak. Hy wil in Jesus ons aanneem as Sy kinders. Jesus wil ons volkome
vry maak. Hy wil dat alles nuut word, dat ons weer in die tuin van die Here God
sal bly. Dat Hy weer elke dag by ons sal wees en by ons sal kom kuier om al die
mooi dinge met ons te deel; en ons die ewige lewe met Hom kan deel.
Die Bybel
roep ons elke keer weer op om te vra of ons na die voorbeeld van die Here, ons
Hemelse Vader leef. Ons bely immers dat ons kinders van God is en die Bybel
leer ons dat ons die skaduwees van die Here moet wees. Daarom behoort ons immers
na Sy voorbeeld te leef.
Waartoe word
ons dan in hierdie verhaal opgeroep? Natuurlik dat ons nie soos die man en die
vrou moet leef nie, maar juis dat ons na die voorbeeld van God moet leef. Soos
Hy na die man en die vrou in die tuin gekom het, moet ons ook na ander uitreik.
Ons moet tyd maak om by ons kinders en ouers uit te kom. Ons moet ons familie
en vriende opsoek, ons moet ‘n draai maak by ons bure. Ons moet selfs na vreemdelinge
toe uitreik. Ons is so besig en so selfsugtig dat ons so bitter min tyd het om
ander op te soek. Nee, dis nie die voorbeeld wat ons Vader hier stel nie...
Die Here het
nie omgedraai en Sy rug gedraai op die mense wat Hom teleurgestel en seergemaak
het nie. Toe hulle vir Hom weggekruip het, het Hy na hulle geroep totdat Hy
hulle gekry het. As daar een ding is wat ons baie maklik doen, is dit om die
rug op ander te draai. Ons sê so maklik: hulle het my in die steek gelaat, of
hulle het my tena gekom, hulle wil my nie sien nie en daarom loop ek weg en wil
niks met hulle te doen hê nie...Maar dis nie wat die vader hier gedoen het nie!
Post a Comment