POSTED BY Steven Sass on 06:08 under
9 September 2013 Patensie
Galasiërs 1:6-10 

‘n Dienaar van Christus 


Die tema van vanoggend se preek  is: ’n Dienaar van Christus, en dan wil ek hierdie tema verder belig met ‘n gedeelte uit Efesiërs 2 vers 3: “Ons is deur ons sondige begeertes oorheers en het gedoen net waartoe ons luste ons gelei het en wat in ons gedagtes opgekom het ...”
Ek wil hê dat julle julleself vir ’n oomblik moet indink as passasiers op een van daardie groot plesierbote. Kom ons sê dat julle op reis is na een of ander bestemming - dit maak nou nie saak waarheen nie - terwyl julle die rustigheid op die oop see geniet. En net soos die flieks baiekeer met die kamera op sekere tonele in fokus, kom ons fokus onsself in op ‘n sekere toneel: Jy sien die kaptein van die skip wat in sy kajuit staan ... hy loop na ’n interkomstelsel toe, en maak die volgende aankondiging: “Aandag alle passasiers... dit is die kaptein hier. Ek wil julle almal uitnooi om nou alles waarmee julle besig is, net so te los, en dan te gaan doen waarvoor julle lus het. Julle hoef nie meer vir enigiets te betaal nie, alles is op die huis (skip). As daar enige persoon is wat lus is om kroeg toe te gaan, gaan drink net soveel as wat jy kan. As daar enige mans is wat wil gebruik maak van ons lieflike ontklee dames, wel, hulle is tot julle beskikking...verniet. En as daar dalk dames is wat ons Chippendales van naderby wil ontdek, hulle is ook tot julle beskikking... teen geen koste nie....”

Kom, sê nou vir my, wat sal julle eerste reaksie wees? Ek is seker dat die meeste mense onmiddellik van hierdie kanse gebruik sal maak ... ja, baie sal nie eers twee keer nadink oor die uitnodiging nie. Ja, hierdie is darem werklik ’n gawe kaptein. Dis mos nou nie my skuld nie, dis op sy boekie so hoekom nie?

Wel, kom ons neem so bietjie die kamera se fokus verder as net die kaptein in sy kajuit. Soos die kameralens groter word, sien jy ander kajuite wat in fokus kom; jy sien mense wat rondskarrel ... elkeen haastig om uit te kom by dít wat hulle die graagste wil doen; uiteindelik sien jy die hele skip soos hy vaar op die groot oseaan. Dan word die kameralens weer in gefokus op die agterkant van die skip ... op die naam ... TITANIC. As jy hierdie naam hoor, dan het jy net een gedagte: Hierdie skip gaan mos sink ... baie mense gaan verdrink! Ja, nou verstaan jy ook hoekom die kaptein so ’n lekker aankondiging gemaak het ... hy is nie gepla oor die passasiers nie ... hy weet die skip is stadig maar seker besig om te sink, maar hy skep ’n valse beeld van sorgeloosheid. Wat die passasiers egter nie weet nie, is dat die skip binne die volgende paar ure op die bodem van die see gaan lê ... met party van hulle nog daar binne-in gevange.

Dit is presies wat ons teksvers vir ons wil vertel. Hierdie verslawing aan die wêreld, of ons sondige begeertes, klink by die eerste oogopslag baie aanloklik en lekker. Sjoe, jy kan doen net wat jy wil ... jy kan kry wat jy begeer. Ja, dit is mos nou hemel op aarde! Máár wat jy egter nie besef nie, is dat hierdie wêreldse plesierrit binnekort in ’n absolute nagmerrie rit gaan verander ... wat jy nie besef nie, is dat hierdie skip sinkende is. Ja, die koninkryk van die duisternis is ’n sinkende skip, en jy is deel van daardie klomp passasiers wat gaan verdrink in hulle sondes.

Gemeente, omdat ons prediking vandag handel oor die feit dat ons niks anders is nie as dienaars van Christus, wil ek hê ons moet luister na wat Paulus vir ons sê. Sommer die eerste woorde waarmee ons vanoggend begroet is in die Skriflesing, was Paulus se verbasing oor hoe maklik ons afvallig word en ’n ander evangelie aanhang. En dan hoor ons hoe hy amper woedend uitskreeu: “Daar is geen ander evangelie nie” (v 7). Wat bedoel hy daarmee? En watter ander evangelie kan ons tog moontlik aanhang?
Om te verstaan wat hy hiermee bedoel wil ek begin met die einde. Paulus sê in vers 10 die volgende: “As ek nog steeds die guns van mense soek, sou ek geen dienaar van Christus wees nie.” Met hierdie woorde wil Paulus eintlik vir ons sê dat ’n gelowige nie optree in jou eie naam nie, maar in opdrag van die Naam van God. Die oorspronklike Griekse woord, wat ons oor vertaal het met “dienaar”, is eintlik slaaf. Met ander woorde, Paulus sê letterlik hier dat hy ’n slaaf van Christus is! En ons glo mos in die kerk dat ons base het, mense wat bo ons aangestel word ... mense soos die dominee, die ouderlinge en die diakens. Nou lees ons dat een van die grootste kerkleiers homself ’n slaaf noem.
Deesdae ken ons nie meer so iets soos ’n slaaf nie. Die naaste wat ons dalk aan so ’n begrip kan kom, is ons bediendes. Gewoonlik werk hulle vaste ure en boonop kry hulle nog ’n salaris ook. Destyds, in die eerste eeu na Christus, was slawe nog ’n realiteit. ’n Slaaf het geen vryheid of regte gehad nie ... daar was nie iets soos ’n vakbond of unie waaraan hy kon behoort om sy regte, as mens, te beskerm nie. Slawe en slavinne is gewoonlik ook op vendusies verkoop teen die hoogste bieër. Die nuwe eienaar het dan hierdie slawe gemerk soos wat ons vandag beeste brandmerk. Omdat hierdie slawe geen regte gehad het nie, kon hulle mishandel en selfs doodgemaak word as hulle nie doen wat hulle base vir hulle beveel het nie. Daarom moes die slawe maar eenvoudig doen wat vir hom of haar gesê is, ja, hulle het nie ’n keuse gehad nie. Soms het hulle darem goeie behandeling gekry as hulle doen wat hulle base sê.
Maar, geliefdes van ons Here Jesus, die Bybel sê iets heeltemal anders. Die beste base, sê die Bybel, is juis dié wat soos slawe is. Wat word daarmee bedoel? Wel, die persoon wat baas wil wees, moet eers weet hoe dit moet voel om slaaf te wees, jy moet ook weet hoe dit voel om agter in die ry te staan sodat jy uiteindelik voor kan kom. ’n Leier is iemand wat help waar hy kan, dit is iemand wat nie omgee om self te werk as dit moet nie, dit is iemand wat praat van “ons” en nie van “ek” of “my” nie. Ja, ’n leier is nie iemand wat die heeltyd sy eie beuel blaas en bevele uitskree nie, dit is nie iemand wat die heeltyd bedien en “aanbid” wil word nie. Om in hierdie boos en donker wêreld te oorleef, het die kerk vandag sulke mense nodig. Christene wat eerder dienaars wil wees, as base.

Dit is nie net Paulus wat homself ’n dienaar, ’n slaaf, van die Here noem nie. Nee, selfs Jesus se eie ma, Maria, het haarself ’n slavin van die Here genoem in Lukas 1 vers 38: “Ek is tot beskikking van die Here. Laat met my gebeur wat u gesê het.” Nou kan die vraag by julle opkom: Hoe kan ek vandag ’n slaaf, ’n dienaar, van Jesus Christus wees? Wat maak van ons slawe? Wel, kom ek probeer dit so verduidelik: die Here Jesus het ons op die markpleine van hierdie sondige wêreld gesien. Hy het die goeie kwaliteite in ons raakgesien en besluit om ons aan te koop. Ja, Hy het vir ons betaal, nie met geld nie, maar met sy lewe, met sy eie bloed. Ons is slawe van Jesus Christus, Hy is ons Here, of te wel “Baas”. Ons behoort aan niemand anders meer nie! Ons is nou die Here se eiendom (vgl Joh 1:11). Voorheen het ons dalk behoort aan ’n ander “baas”. Die Bybel noem hierdie vorige eienaar die sonde, die wêreld of Satan. Maar nou het ons van eienaars verwissel ... ons behoort nie meer aan die sonde nie, maar aan Jesus Christus. Luister maar wat staan in Romeine 6 vers 18: “Ons dank God dat julle van die sonde vrygemaak is en slawe van God geword het wat Sy wil doen.” Paulus het dit baie goed besef toe hy die volgende woorde geskryf het: “Niemand van ons leef tog vir homself nie, en niemand sterf vir homself nie. As ons leef, leef ons tot eer van die Here; en as ons sterwe, sterf ons tot eer van die Here. Of ons dan lewe en of ons dan sterwe, ons behoort aan die Here. Hiervoor het Christus ook gesterf en weer lewend geword: Om Here te wees van die dooies en die lewendes” (Rom 14:7-9). Daarom moet ons deeglik besef dat ons nie base in die kerk het nie; nie een van ons is die ander se baas of slaaf nie. In die kerk van Jesus Christus is daar net een Baas, en dit is die Here Jesus sélf. Die res van ons is almal slawe en slavinne, broers en susters, medeslawe van Jesus Christus.
En as jy jouself ’n dienaar van Christus noem, dan móét jy doen wat jou Eienaar van jou vra. En wat is dit wat jou Eienaar, Jesus Christus van jou vra? Net een ding: Wees gehoorsaam! Daarom is dit onontbeerlik dat jy soms op tone sal trap, dat jy soms mense - ja, selfs familie - sal moet aanspreek oor hulle leefwyse. Boonop sal jy jouself ook gereeld moet aanspreek oor jou eie leefwyse! Jy moet nie huiwer om reguit te praat nie.
Dit is eintlik baie voordelig en lekker om ’n slaaf van die Here Jesus te wees ... dit is wonderlik om te weet dat jy ’n Eienaar het wat vir jou lief is, en wat jou nie net sien as ’n besitting nie. As dit nie vir jou ’n lekker gedagte is nie, of as jy nie wil hê dat die Here Jesus jou Eienaar moet wees nie, moet jy besef dat jy iemand of iets anders se slaaf gaan wees. Dit is waarom ek vir julle die voorbeeld van die plesierboot gegee het. Ons teksvers sê mos baie duidelik: “Ons is deur ons sondige begeertes oorheers en het gedoen net waartoe ons luste ons gelei het en wat in ons gedagtes opgekom het ...”
Ja, dink maar wat vang mense alles in die laaste oomblikke van die koninkryk van die duisternis aan. Dit is ’n gejaag en gewerskaf agter wêreldse dinge aan, agter plesier en genot aan, agter aardse skatte aan. Ja, hulle het behoorlik, soos Paulus sê, “afvallig geraak en ’n ander evangelie aangeneem.” Maar daar is géén ander evangelie nie ... julle moet dit baie deeglik besef! Jy kan nie naas die Here Jesus ook nog vir Mammon dien nie, jy kan nie twee base dien nie, want jy sal “óf die een minder ag en die ander een hoër, óf vir die een meer oorhê en die ander een afskeep ...” (vgl Mat 6:24). En soos ek vir julle gesê het, is Paulus woedend as hy in hierdie brief met die Galasiërs raas. Nie omdat sy eie eer aangetas of sy persoonlike gesag deur die mense ontken word nie, maar omdat hulle met hulle leefwyse God se eer aantas en die enigste ware evangelie verdraai vir hulle eie selfsugtige begeertes, net omdat die kaptein van die wêreldse skip gesê het hulle mag. En daaroor is Paulus baie reguit as hy sê dat die een wat ’n ander evangelie verkondig as die ware evangelie, deur God se vloek getref sal word. Dit maak nie saak of dit jou ouers, jou man of vrou, jou vriende of wie ook al is nie, ja, Paulus sê selfs hý is ook nie daarvan uitgesluit nie, want iemand wat ’n ander evangelie as die ware een verkondig, soek moeilikheid ... jy speel op AVBOB se stoepe!
Gemeente, dit is waarom ons as Christene, as slawe van Jesus Christus, nie kan toelaat dat die kerk ’n ander evangelie verkondig as die ware een nie. En die ware evangelie is dat nét Jesus Christus vir ons die verlossing kan bring, en dat jy aan Sy kerk móét behoort om deel te hê aan sy genade en liefde. As jy dit nie glo nie, as jy dit nie uitleef en verkondig nie, is jy besig om ’n ander evangelie te verkondig. Dan is jy besig om eerder in die mense se goeie boekies te wil bly. Dit is jou plig as slaaf van die Here Jesus om aan Hom gehoorsaam te wees, en daarom moet jy ook vir ander medeslawe aanspoor tot gehoorsaamheid. Jy móét hulle aanspreek oor hulle swak kerkbywoning, die swak uitleef van hulle Christenskap en hulle swak en flou verskonings. Daarom, as jy besig is om met jou kinders, jou ouers of jou familie te praat oor hulle kerklewe, vra jouself af, soos Paulus: “Klink dit nou asof ek die guns van mense soek, of soek ek die guns van God? Probeer ek by mense in die guns kom?” (v 10). Wat gaan jou antwoord hierop wees?
Wel, kom ek probeer dit vir julle uit die Bybel beantwoord. Ons lees in 2 Korintiërs 12 vers 14 die volgende: “Dit is nou die derde keer dat ek gereed is om na julle toe te kom, en ek sal nie vir julle ‘n las wees nie: Ek soek nie julle geld nie, maar vir julle ...” Kyk, die mense op daardie plesierboot besef nie dat hulle besig is om onder te gaan nie, hulle besef nie dat hierdie lekker plesierrit in ’n nagmerrie rit gaan verander nie. Ja, die kaptein van die plesierrit van die wêreld, die eienaar van die koninkryk van die duisternis, ja, Satan, is besig om hulle onder ’n valse voorwendsel te verlei. Luister wat staan in 2 Timoteus 4 verse 4b tot 5: “Hulle sal eerder liefde vir genot hê as liefde vir God. Hulle sal nog die uiterlike skyn van godsdiens hê, maar die krag van die godsdiens sal hulle nie ken nie. Bly weg van sulke mense af.”

Ek weet dat dit nie maklik is nie. Ek weet dat dit dalk vir jou probleme gaan veroorsaak tussen jou en jou familie of vriende, maar jy moet besluit wat is vir jou die belangrikste: Om in die goeie boekies van mense te bly, of om guns by God te soek? As ’n slaaf van Jesus Christus sal jy partykeer weggejaag word, sal jy dalk leë hande teruggestuur word, sal jy afgemaak word as baasspelerig of beterweterig ... ja, jy sal slae kry ter wille van jou gehoorsaamheid aan die Here Jesus Christus. Verduur maar hierdie houe omdat Jesus in jou plek gespoeg, gegésel en gekruisig is. As jy dit verdra soos ’n slaaf van jou Eienaar, Jesus, al is dit soms nie lekker nie, dan sal jy beloon word. So sal jy nuwe sin en betekenis in jou lewe kry. Jy sal besef dat die Here Jesus se slawe waardigheid het. Ja, hierdie laastes, die slawe van die Here Jesus, sal die eerstes wees in die Koninkryk van God. Maar die eerstes, die slawe van hierdie sondige wêreld, hulle sal die laastes wees op die dag as die Here Jesus weer kom. Dan sal hulle besef dat die kaptein van hierdie wêreldse plesierboot hulle onder valse voorwendsels - verniet, sonder enige betaling - dinge laat geniet het. Dan sal dit te laat wees! Die wêreldse plesierboot sal ondergaan met kaptein en al sy passasiers.
Ek hoop en vertrou dat almal van ons vandag met ’n sekere hart kan sê dat jy ’n dienaar, ’n slaaf, van Jesus Christus wil wees. En as jy dit wil wees, dan moet jy soos Paulus ook kan sê: “As ek nog steeds die guns van mense soek, sou ek geen dienaar van Christus wees nie.”
0 Kommentaar: so far: