POSTED BY John Wait on 05:30 under ,
Johannes 1:43-51 en Johannes 2:23-25

Die afgelope week het ek gehoor, en dalk het baie van julle dit ook gehoor, dat daar in Duitsland ‘n seekat is wat kan voorspel watter sokkerspan die volgende wedstryd sal wen! Nou ek het myself regtig voorgeneem om nie gedurende die sokker wêreld beker baie oor sokker te praat in my preke nie aangesien ek nou nie juis ‘n sokkerentosias is nie, maar na hierdie storie oor die seekat kon ek nie myself keer nie.

Die seekat se naam is Paul(dalk ‘n verwysing na ons eie Bybelse Paulus?). Hy woon in ‘n akwarium in Duitsland, en word elke paar dae of so ‘n lekker mossel gevoer. Maar die mossel is in ‘n glasbak en Paul moet dit self daar uithaal met sy tentakels… hy kry dit ook baie goed reg.

Maar die afgelope paar jaar al kry hy twee glasbakke tydens ‘n voedingsessie, en buite op elke glasbak is die landsvlag van die lande wat se  sokkerspanne volgende gaan speel. Wanneer Paul dus een van die glasbakke kies om uit te eet,  en hy los die ander een uit,  dan is daar baie mense wat glo dat die seekat daardeur voorspel wie die sokkerwedstryd gaan wen!

Dit mag dalk vir jou nou snaaks klink en dalk bietjie te dik vir ‘n daalder maar Paul het ‘n geweldige groot aanhang en daar is duisende mense wat baie sterk in hom glo! Maar nou hou sy voorspelling vir hom ‘n gesondheidsgevaar in want hy het teen sy eie land (Duitsland) gekies en nou is daar van sy aanhangers wat teen hom gedraai het en nou praat van calamari steaks wat van hom gemaak moet word!

Is dit nie vreeslik hartseer dat daar soveel mense op hierdie aarde is wat in sulke onsin glo nie! Daar is soveel mense wat hierdie tipe goed glo dat dit eintlik hartseer is om net daaroor te dink. Maar die feit van die saak is dat dit nou eenmaal so is, die mens is maar ‘n vreemde ding partykeer wat die grootste klomp snert glo….

En Jesus praat ook hiervan in die gedeelte wat ons gelees het (Johannes 2:23-25) Die opskrif daar is mos dan ook “Jesus ken die mens”. Met ander woorde Hy weet van die mens, en Hy ken die mens se ‘dinge’ en veral die mens se maniere….

So hoe hartseer dit ook al vir Jesus moet wees om ons so te ken…ken Hy ons tog met al ons gewoontes en geneigdhede…soos om in ‘n seekat se vermoë te glo om die toekoms te voorspel! Ai tog!

“…..Maar Hy het Hom nie op hulle verlaat nie, omdat Hy geweet het hoe hulle almal is..”  (Johannes 2: 24). Hierdie vers gaan oor die feit dat baie mense al destyds al net in Jesus geglo het oor die wondertekens wat Hy verrig het en dat dit basies omtrent al was wat hulle na Hom getrek het. Hy het  dus goed geweet dat dit juis hierdie mense is watse geloof eintlik op niks gebasseer is nie, en dat hulle geloof nie regtig krag in het of sal hou in die toekoms nie. Want die lewe is nie altyd net wondertekens en wonderlik en lekker nie. Dis baiekeer vol uitdagings en moeilike tye…

 Jesus het dus toe al geweet dat mense so vreeslik vlak kan wees dat hulle dalk Hom vandag sal volg maar net more weer sal verlaat wanneer daar iets nuuts op hulle pad kom, selfs‘n seekat kan hulle aandag van Hom aftrek… Die vraag is nou of Jesus jou ook so ken? Is jou aandag op Hom gerig? Sê Hy dalk ook oor jou vanogend dat Hy Homself nie op jou kan verlaat nie. Is jou geloof ook so vlak dat jy in ‘n seekat glo en nie jou vertroue in Hom stel nie.

Waarop berus jou sekerheid in die toekoms vanoggend? Dalk op ‘n seekat wat net 8jaar lank het om te leef, of op die Ewige God wat hemel en aarde gemaak het?

Maar ons het ook van Natanael gelees…. Toe hy nog aangestap kom toe sê Jesus al oor hom “Hier is ‘n ware Israeliet, ‘n man in wie daar geen bedrog is nie.” (Johannes 1:47). Natanael was natuurlik heeltemal verbaas en verstom oor Jesus se reaksie. Hy wou onmiddelik van Jesus weet waarvandaan Hy hom dan so goed ken…. Jesus se antwoord spreek boekdele: “Voordat Fillipus jou geroep het, toe jy nog onder die vyeboom was het Ek jou al gesien.”

Dit wat ons van Natanael weet is maar beperk, maar wat ons wel oor hom weet is dat hy ‘n getroue en goeie Jood was, dus kan ons aflei dat Natanael dan volgens Joodse gebruik in die koelte van die vyboom gebid het en nagedink het oor geloofsake… soos ‘n goeie Jood se gebruik was. Met ander woorde Jesus het Natanael geken en het Goddelike insig oor hom gehad omdat Natanael naby aan God geleef het. Hulle het mekaar in gebed ontmoet, sonder om mekaar fisies te sien!

 Onmiddelik roep Natanel uit Rabbi, U is die Seun van God!; U is die Koning van Israel!... Ken Jesus jou ook vanoggend  so? Het jy Hom ook al in gebed so ontmoet?

Verder het Jesus vir Natanael en die mense rondom hulle gesê: “Dit verseker Ek julle; Julle sal die hemel oop sien en julle sal die engele van God sien op en af klim na die Seun van die mens toe. Nou hierdie heen en weer beweeg van die engele is ‘n simboliese voorstelling van die wisselwerking tussen God en die mens. Vir die gelowiges is die Seun van die mens, Jesus, waar God mense ontmoet en waar Hy ontmoet kan word….

Het jy vanoggend kerk toe gekom om God beter te leer ken? Is jy gefokus op God. Is jy totaal en al uitverkoop aan Hom. Is jou lewe in God se hand…. of stel jy ook soos soveel ongelukkige ander mense jou toekoms in die glibberige tentakels van ‘n seekat?

Die keuse is joune om te maak…. Ek het myne reeds gemaak en Jesus ken my persoonlik. Halleluja!
0 Kommentaar: so far: