POSTED BY John Wait on 18:34 under ,
Genesis 37:12-36, 39:1-23

Die lewe is nou eenmaal nie altyd gelykpad nie. Soms is dit jammer dat ons van die Bybelverhale so goed ken dat ons die einde van die verhale ook ken. Dan weet ons mos wat op die einde gebeur het en is dit asof ons nie juis erns maak met die gebeure wat die einde voorafgaan nie.

Ons dink dan dat die paadjie tot die einde nie te erg was nie. In die lig van die einde word die donker pad tot daar toe skielik ook lig. Dit was egter nie die geval vir die persoon wat daardie pad moes loop nie. Hoe waar is dit nie ook in verband met die Josef verhaal nie.

So is dit mos ook in ons lewe. As ons terugkyk kan ons mos sien hoe dinge op die ou end tog uitgewerk het. As ons midde in die teenspoed en terugslae is, kan ons dit glad nie beryp nie en kan ons dit soms selfs nie eens hanteer nie. Dis dan dat goedkoop antwoordjies soos dat alles ‘n doel het en ten goede sal uitwerk, nie slaag nie, maar eerder groter spanning bring. Soos die geval met Job ook mos was.

Josef se verhaal lees nogal soos ‘n drama en miskien selfs meer soos ‘n tragedie! Josef het aanvanklik ‘n baie besonderse en hoë posisie beklee. Hy was immers die eersgeborene van ‘n welvarende en gesiene stamleier. Sy pa was Jakob. Jakob het wel ‘n veelbewoë lewe gehad, maar was ok ‘n welvarende man gewees.

Uit die verwysings na sy besittings wil dit amper klink of hy nie die einde van sy skatte geken het nie. Sy reputasie het hom vooruit geloop en almal het met ontsag na hom gekyk.

Josef was wel nie die oudste van sy twaalf seuns nie, maar hy was nogtans die eersgeborene omdat hy die oudste seun van sy hoofvrou of geliefde vrou was. As eersgeborene het hy dus ‘n besonderse plek beklee. Hy sou tweekeer soveel as die ander seuns erf. Maar dis nie al nie. Hy sou ook die leisels by sy pa oorneem as hoof van die stam. In geval van krisis sou hy leiding moes neem .

Sy broers en susters sou na hom moes opsien vir leiding. Hy was die belangrikste van al die kinders! Die optrede van Jakob weerspieël hierdie besonderse posisie van Josef. Jakob maak ‘n pragige kleed vir hom om sy posisie te onderstreep. Josef word vrygestel van die harde werk wat sy broers doen op grond van sy posisie. Mens het al klaar bietjie begrip vir die feit dat die broers jaloers kon wees op Josef.

Josef was nie net in ‘n baie bevoorregte posisie nie, maar was ook nogal erg arrogant. Hy droom van die besondere posisie waarin hy hom bevind en maak sy droom aan sy broers bekend. As hy vertel van die gerwe wat voor sy gerf buig, is dit eintlik ook nie ver van die waarheid nie. Sy broers was immers ondergeskik aan hom, al was hy die tweede jongste en eintlik nog niks minder as ‘n verwaande tiener nie. Maar om darem so die sout in die wonde in te vryf!

Die tweede droom oorskrei egter die gewone grense. Nou droom hy dat sy pa en ma ook voor hom sal buig. Dis ‘n probleem. Dit rym nie met die tradisies nie. Geen wonder dat die broers se bloed gekook het nie.

Die broers is egter ook nie besonder vroom nie en tree ook nie reg op nie. Trouens hulle hantering van die saak vul mens met weersin. Hoe kan hulle dit oorweeg om hulle broer dood te maak. Selfs die verkoop van die broer is nie aanvaarbaar nie. Die liegstrories aan hulle pa is eweneens geheel en al onaanvaarbaar.

Josef word in ‘n put gegooi terwyl hulle oor sy lot beslis. Dan word hy verkoop en afgevoer na Egipte. Daarna beland hhy in die trunk . Sy paadjie loop af en af; al dieper af. Dit laat mens dink aan Jona wie se paadjie weg van die Here mos af en af geloop het, af na Joppe, af in die skuit, af in die onderste deel van die skip, af in die see, af in die vis en af tot by die diepste van die doderyk. Dui die afdraende paadjie van Josef ook op ‘n pad weg van die Here af? Lei arrogansie tot donker dieptes? Is dit nie so dat sonde lei tot ellende en donkerte en dipetes en dusiternis en al so aan nie?

Kan ons ons indink in sy situasie? Die eersgeborene, die een wat so ‘n besondere plek in die sosiale lewe beklee het, word nou van alles gestroop. Hy word nie net van sy kleed gestroop nie, maar hy wat op die hoogste sosiale trappie gestaan het, beklee nou die heel laagste sosiale posisie! Van eersgeborene tot slaaf! Van hoog geag tot verag! Van iemand met aansien en status tot persoon sonder aansien in ‘n vreemde land. Die son het nie meer helder geskyn nie. Het die drome soos mis voor die son verdwyn?

Wat opvallend is, is dat ons niks lees in verband met Josef se reaksie op die gebreure nie. Nie toe hy in die put gegooi is nie. Nie toe hy verkoop is nie. Nie toe hy as slaaf moes werk nie. Nie toe hy in die tronk beland het nie. Eers heelwat later lees ons iets in verband met sy siening van die pad wat hy moes loop. Beteken dit dat hy maar gelate alles aanvaar het? Was dit maar ‘n kwessie van laat God’s water maar oor God’s akker loop? Beteken dit dat gelowiges  maar net alles moet aanvaar en berus daarby?

Ons lees immers nie dat Josef in opstand gekom het nie. Nie dat hy weerstand gebied het toe sy broers hom gegryp, sy klere van hom gestroop het en hom in ‘n put gegooi het. Ons lees nie dat hy probeer het om te ontsnap toe hy na Egipte geneem en as slaaf verkoop is nie.

Wat ons wel lees, is dat hy as slaaf sy werk met toewyding gedoen het.Hy het hom so goed gedra en so hard gewerk dat hy gou bevorder is en in ‘n vetrouensposisie aangestel is. Selfs toe hy in die tronk beland het, het hy nie in opstand gekom nie.

Nou moet ons onthou dat tronke destyds slegs plekke vir verhoorafwagtendes was en dat tronkstraf soos ons dit vandag ken, destyds onbekend was. Josef is nooit verhoor nie. Hy het vir jare in die tronk gesit en wag om verhoor te word. Hy het nie in sak en as gesit en homself bejammer en ander vervloek of die skuld op iemand anders geplaas nie. Ook hier het hy sy bes gedoen. Weer het dit nie lank gevat voor hy weer in ‘n vertrouensposisie was nie.

Josef het nie in tye van krisis en te midde van traumatiese omstandighede gevlug, geveg of gevries nie. Dit is mos die drie tipiese reaksie op krisisse. Vlug, veg of vries. Al drie hierdie reaksies is gevaarlike reaksies. Dit kan soms uitingsvorme wees wat tydelike verligting bring, maar dit kan dikwels lei tot groter probleme. In tye van krisis is ons mos geneig om te veg, of te vlug of te vries. Miskien kan ons juis by Josef leer.

Al word dit nie direk gesê nie, wil dit blyk dat Josef die krissis hanteer het. Hy word nie disfunksioneel nie. As hy in Egipte beland doen hy sy werk as slaaf met oorgawe.

In die vertelling in Genesis 39 word dit op ‘n treffende manier gestel. Die klem val daarop dat die Here by Josef was en dat die Here alles wat Josef gedoen het, goed laat afloop het. Josef het nie gesit en homself bejammer nie. Hy het nie die skuld op ander geplaas nie. Hy het nie verwyte geslinger en gekla oor die onregverdigheid van die lewe nie. Hy doen sy deel. Maar hy doen dit nie alleen nie. Die Here was by hom.

 In die vertelling oor die gebeure in die tronk, vind ons presies dieselfde. Die klem val op die feit dat die Here by Josef was. Soos Josef gou in ‘n vetrouensposisie in die huis van Potifar was, is hy weer gou in ‘n vetrouensposisie in die tronk. Hierdie posisie kon hy slegs bereik indien hy sy deel gedoen het. Sy gesindheid en sy optrede moes sodanig gewees het dat mense kon sien dat hy positief ingestel is en te midde van die omstandighede sy bes doen. Josef het hom nie deur die omstandighede laat onderkry nie.

Hoe maklik reageer ons nie heel anders as ons in ‘n put beland nie. Ons vloek en skel. Ons slinger verwyte. Ons blameer ander. Ons vlug. Ons vries.

Hierdie verhaal leer ons dat Josef gefokus gebly het. Hy het in ‘n lewende verhouding met die lewende Here gebly. Hy hou die oog op die Here. Hy doen sy deel en vetrou die Here. Sal ons nie leer om te werk en die beste te doen wat ons onder die omstandighede.
0 Kommentaar: so far: