POSTED BY John Wait on 05:12 under ,
Daar is niks op hierdie aarde wat ons van die liefde van Chrsitus kan skei nie. Hierdie is ‘n loflied oor die allesoorwinnende liefde van God wat die gelowiges se toekomsheerlikheid waarborg…

Hierdie verse bring nie alleen Paulus se argumentasie vanaf hoofstuk 7;1 en veral hoofstuk 8:1 tot ‘n hoogetpunt nie, maar rond sy hele betoog ook af. Daar het Pualus begin met die oordeel van God oor die mense wat Hom nie wou ken nie, en hier eindig hy, nadat hy God se heilsweg met die mens in die verlossing en in die Christenlewe self breed geskilder het, nou met die allesoorwinnende liefde vir Sy versloste kinders

Die beklemtoning van God se onkreukbare trou (28-30) word ‘n loflied wat vol is van triomf en sekerheid; ‘n sekerheid egter wat volkome berus op God se liefde vir ons, en nie op ons eie vermoens nie. Dit is hierdie laaste feit wat hierdie gedeelte onderkei van soortgelyke uitsprake van die tyd waarin Paulus geleef het se destydse Griekse en Latynse filosowe aangaande die oorwinning van die wyse mens oor die hindernisse van die lewe.

By hulle het dit gegaan om die deug van die mens… en hier in hierdie gedeelte wat ons gelees het gaan dit om God. Die Verbondsgod bly altyd getrou! Sy liefde het die laaste woord. Nie die mens en al die praatjies rondom al hierdie gebeure van die afglopte tyd nie, maar God het die laaste woord…

Die sleutelvraag is of enigiets ons as Christene van Christus se liefde kan skei (vers35). Waar die liefde steeds die welsyn en die nabyheid van die geliefde verlang en die Almagtige God in Christus hier die liefhebbende is, is Paulus se triomfantlike antwoord dat God nie sal toelaat dat enigiets ons van Hom kan skei nie! (vers 39).

In sy tipiese gesprekstyl vra Paulus nou na die regte  “gevolgtrekking oor al hierdie dinge”. Dis duidelik dat hy nou sy bevindinge wil gee en hierdie deel van sy hele betoog wil afsluit. “Hierdie dinge” verwys veral terug na sy voorafgaande stellings, maar uit wat volg blyk dit dat hy rekening hou met bepaalde bedenkinge en kwelvrae wat deur die brose posisie en die lyding en swaarkry en hartseer van Christene in hierdie wêreld opgeroep word. Sy antwoord op die inleidende vraag bevat ‘n wedervraag wat eintlik ‘n stelling is: God is aan ons kant!

In die lig van hierdie feit verdwerg alle teenstand tot ‘n nietigheid…. Op grond van God se wonderlike liefdesdaad op Golgota kan ons seker wees van Sy goeie bedoelinge met ons ook vir die toekoms. Sy groot geskenk aan die kruis waarborg ook al Sy ander geskenke….

Voor die regbank van God kan niemand  meer ‘n wettige klag  teen God se uitverkorenes inbring nie. God self spreek hulle immers vry(vers34). Netso min kan iemand ons dus nou veroordeel. Nie alleen het Christus deur Sy sterwe in ons plek ons skuld versoen nie; God het Hom ook opgewek en verhoog , en sittende aan God se regterhand (Psalm 110:1) as teken van Sy mags- en bewindsaanvaarding, pleit Jesus nou vir ons… en hy pleit ook daar vir Andru.

Op grond van die versoening is Jesus hier ons advokaat of pleitbesorger voor God se regbank. Die vraag of enigiemand  ons van die leifde van Christus kan skei, word gekonkretiseer deur middel van sewe ontberings wat by wyse van voorbeeld vermeld word.

Maar midde in al hierdie ontberings wat genome word,  is die Christene egter meer as oorwinnaars. Hulle behaal ‘n klinkende oorwinning ( is meer as oorwinnaars).

Om die grootsheid van die Christene se oorwinning te beskryf, gebruik Paulus ‘n werkwoord  wat nêrens anders in die Nuwe Testament voorkom nie. Hierdie oorwinning bestaan juis daarin dat hulle verbondenheid  met Christus nie verbreek word nie, maar in en deur hierdie ontberings en harsteer en swaarkry juis  groei en triomfeer. Dit geskied egter gelukkig nie uit die mens se eie voortreflikheid nie, maar deur die onstuitbare krag van Jesus se liefde…

Die dood bedreig die mens as vyand wat hom vir altyd van God wil skei, maar Paulus weet goed dat dit vir die Christen geensins meer die geval is nie. Vir hom bring die dood juis dit wat verreweg die beste is, naamlik om met Christus te wees.

Ewe min kan die lewe met al sy lyding en hartseer ons van Hom skei. Ook teenswoordige of toekomstige dinge hou vir die Christene se verhouding tot Christus geen bedreiging in nie. Dieselfde geld vir die kragte en magte en dinge van die hoogte en diepte of enigiets anders in die skepping… Met enigiets anders in die skepping wil Paulus  finaal enige moontlike bedreiging vir die gelowiges insluit.

Kortom dus: Daar is niks en niemand wat ‘n wig tussen die liefde van God, soos geopenbaar en bewys in Christus Jesus onse Here, en die gelowiges kan indryf nie.

Op hierdie heerlike en triomfantlike noot sluit Paulus hierdie deel van sy brief af en kan ons dit in ons harte en op ons lippe vir ewig met ons saamdra.
0 Kommentaar: so far: