POSTED BY John Wait on 07:58 under ,
Jesaja 7:10-16; 43:1-4

Waar is God? Is dit nie ‘n vraag wat ons almal al gevra het nie? Baie mense worstel ernstig met hierdie vraag. Verskillende antwoorde is al op hierdie vraag gegee.

 Daar is diegene wat sê dat die Here in die verlede te vinde is. Kyk maar na die geskiedenis en jy sal vind dat God van die vroegste tye al daar was. Ander beklemtoon die feit dat die Here in die toekoms is. Ons is oppad na Hom toe en Jesus het beloof dat hy weer na ons toe kom. Nog ander sê mens moet maar net opkyk: die Here is in die hemel daarbo. Hy is ver bo ons verhewe…

Nou dit mag alles dalk waar wees, maar daar is ook ‘n ander antwoord wat baie sterk in die Bybel na vore kom. Die Here is nou hier! Hy is by ons. Hy is in ons. Kyk net rondom jou en jouself en jy sal sien: die Here is hier!

Die vraag:  Waar is God? Kom veral na vore as dit nie met ons goed gaan nie. In tye van rampe en lyding, vra al meer mense, sommer ongelowige mense ook: Waar is God? Waar was God toe my kind in ‘n ongeluk gesterf het? Waar was God toe alles in duie gestort het? Waar was God toe die wrede misdadiger ons aangerand het? Waar was God toe ek my werk verloor het?

Dis nie net vandag die geval nie. Dit was nog altyd so. So het mense in die Ou-Testamentiese tyd gevra. Na Jesus se dood het die dissipels geworstel met die vraag: Waar is Jesus?

Toe dit op die swaarste met die Israeliete gegaan het toe hulle in ballingskap was, en hulle ver weg van hulle vaderland was en soos slawe moes leef en alles net nie vir hulle wou uitwerk nie, was daar vir hulle ook nie veel hoop nie. Wat sou tog van hulle word? Baie het gevra: “Waar is God?”

Dit is toe dat die Here die onbekende profeet, wie se woorde ons in Jesaja 40-55 het, gestuur het. Hy praat namens die Here met die volk en sê vir hulle dat die Here leef en in beheer is. Hy is nie weg of afwesig nie. “Luister, so sê die Here wat jou geskep het, Jakob, wat jou gevorm het, Israel: moenie bang wees nie, Ek verlos jou, Ek het jou op jou naam geroep, jy is myne (Jesaja43:1).”

Die Here wys eerstens daarop dat Hy die Skepper is. Hy is bo tyd verhewe. Dood ken Hy nie. Hy is gister en vandag en tot in ewigheid dieselfde. Boonop staan Hy in ‘n intieme verhouding met hulle. Hy het hulle gemaak en by die naam geroep.

Hierop volg ‘n wonderlike bemoedigingswoord: “As jy deur water moet gaan, Ek is by jou, deur riviere, hulle sal jou nie wegspoel nie, as jy deur vuur moet gaan, sal dit jou nie skroei nie, die vlamme sal jou nie brand nie, want Ek die Here jou God, die Heilige van Israel, jou Redder is by jou.” (Jes. 42:2-3).

Die Here beloof nie dat daar nie swaar tye sal kom nie. Trouens nêrens in die Bybel beloof die Here dat Sy kinders gevrywaar van gevaar sal wees nie. Ons lees ook dikwels van diep gelowiges wat ook diep moes ly. Maar wat die Here wel beloof, is dat Hy altyd by Sy kinders is! In die diepste lyding laat Hy Sy kinders nie in die steek nie. Hy is by ons! “Moenie skrik nie, moenie bang wees nie, want Ek die Here jou God, is by jou oral waar jy gaan”(Jos.1:9).

In Jesaja 7 lees ons weer van hierdie belofte van die Here. Die voortbestaan van Juda is bedreig toe Peka en Resin opgeruk het en Jerusalem beleër het. Dit het hulle gedoen omdat Agas geweier het om aan te sluit by die anti_Assiriese koalisie. Die leërmag was oorweldigend en dit het gelyk of daar geen uitkomkans was nie. Geen wonder dat ons lees dat die koning en die hele volk baie bang was en soos riete in die wind gebeef het nie.

Dit is toe dat Jesaja na die koning kom en sê dat die Here sê dat hulle nie bang moet wees nie, want Hy is by hulle. Die Here gee aan die koning die geleentheid om ‘n teken te vra om die waarheid van Sy woorde te bevestig. As Agas weier, gee die Here self ‘n teken…

Die jongvrou sal swanger word en ‘n seun in die lewe bring en hom Immanuel noem. Dit sluit  direk aan by ‘n regsgebruik van destyds. As mens nie ‘n getuie gehad het nie, kon jy na ‘n swanger vrou wys en sê dat voor sy geboorte skenk, of voor haar kind groot is, die waarheid van jou getuienis bevestig sal word. Dis presies wat hier gebeur. Hier word na die koningin verwys en gesê dat voor haar kind wat binnekort gebore sou word en wat Immanuel genoem sou word, dertien jaar oud sou wees, die lande van Peka en Resin verwoes sou wees. Dit hetso gebeur. Die Here was inderdaad by hulle.

Hierdie woorde is deur Matteus aangehaal en het ‘n dieper betekenis gekry met die koms van Jesus. Waar die seun van Agas ‘n teken was vir die teenwoordigheid van die Here en van die verlossing uit ‘n politieke-militêre siruasie, was Jesus die teenwoordige Here wat alle gelowiges verlos van die sonde. Die vervulling in Christus was dus veel groter as die belofte in Jesaja! Jesus is Immanuel, God by ons. Hy was waarlik God en het volkome mens geword. In Hom was God hier op aarde teenwoordig.

Jesus het op konkrete wyse getoon wat dit beteken dat God by ons is. Hy het op die stofpaaie van Palestina geloop. Hy het geëet en gedrink. Hy het honger en moeg geword. Hy het gelag en gehuil. Hy het gepraat en opgetree. God was Jesus konkreet sigbaar.

Jesus was in die besonder by mense in nood. Hy was by die sieke en verlamdes, die dowes en die blindes. Hy was by die wat getreur het. Hy was nie net by mense in fisiese nood nie, maar ook in die besonder by mense in hulle emosionele en geestelike nood. Hy het mos juis gekom om ons te verlos uit die mag van die bose en al die sonde bande. Jesus was by die skare wat na Hom geluister het. Hy het met woord en daad getoon dat Hy Immanuel was: God by ons.

In Johannes 14 praat Jesus met Sy volgelinge oor Sy komende dood, en opstanding en hemlvaart. Dan sê Hy ook: “Ek sal die Vader vra, en Hy sal ‘n ander Voorspraak stuur om vir ewig by julle te wees, naamlik die Gees van die waarheid. Die wêreld kan Hom nie ontvang nie, omdat hulle Hom nie sien en Hom nie ken nie. Maar julle ken Hom, omdat Hy by julle bly en in julle sal wees” (Joh. 14:16-17).

Op  Pinksterdag het hierdie belofte van Jesus waar geword. Die Heilige Gees is uitgestort. Die Hielige Gees het gekom en al die gelowiges gevul. Hy het gekom om in alle gelowiges te wees…

Die Heilige Gees is God in ons. Ons is dus nie alleen nie. God is by ons. Die Heilige Gees is in ons. Hy leer en lei ons. Hy ondersteun en bemoedig ons. Hy troos en vertroos ons. Hy is altyd by en in ons. Soos die lug altyd om ons is, so is die Gees altyd om en in ons. Soos ons kan leef omdat ons suurstof inasem, kan ons waarlik leef deur die lewende Gees van God. Hy maak die lewe moontlik. Sonder Hom wag daar net die dood.

Waar is God? Hy is hier. Kyk rondom jou. Sien , jy, Hy is teenwoordig in ander gelowiges, want as die Gees in ons is, dan is God mos in ons teenwoordig. Ons is dan in die hande en voete en ore en oë van God. Mense moet God in ons kan sien. Hulle moet Hom kan hoor praat as ons praat. Hulle moet Hom sien werk waar ons besig is om te werk.

Die vraag kom dan: As God by Sy kinders is, en Jesus is Immanuel, God by ons, en die Heilige Gees God in ons is… waar is ons? As ons deur die Gees leef, beteken dit mos dat ons dit wat ons oor God bely, moet uitleef. Ander moet God in ons lewe kan raaksien. Dit baat niks dat ons bely dat God by ons is, as ons nie by ander is nie. Is ons naby die wat swaarkry? Is ons by mense wat hartseer is. Gee ons brood vir die wat honger is, en water vir die wat dors is? Is ons daar vir die wat alleen en eensaam is. Dit baat niks om te bely dat God naby is, as ons onbetrokke en afwesig is nie.

Waar is God? Die Here is by Sy kinders. Jesus is Immanuel, God by ons. Die Heilige Gees is God in ons. Maar waar is ons?
0 Kommentaar: so far: