POSTED BY John Wait on 11:35 under ,
Johannes 20:11-18

(2)Hoe hanteer ek hartseer? Hoe hanteer ek die dood van ‘n geliefde? Wat doen ek as ek diep ontnugter is in tye van nood en rou?

In die verse lees ons van ‘n vrou in diepe rou. Maria Magdalena het ‘n besonderse verhouding met Jesus gehad. In Lukas 8:2 lees ons dat Jesus sewe duiwels uit haar gedryf het. Sy was dus ‘n vrou wat deur ander verag en vermy was omdat sy van die duiwels besete was. Jesus het haar lewe total verander. Sy word dan ‘n vroee volgeling van Jesus en volg Hom van die oomblik dat Hy haar genees het tot met Sy dood.

Sy was ‘n dinamiese vrou wat opreg omgegee het vir ander en nie net saam met Jesus gereis het nie maar ook bygedra het om in die groep se behoeftes te voorsien. Elke keer as ons van haar lees, is sy besig om haar dankbaarheid teenoor Hom te toon deur haar dade. (3)Tereg sou ons kon sê dat haar lewe om Jesus gedraai het.

Nou is sy in rou gedompel want Jesus is dood. Saam met ander gaan sy vroeg die Sondagoggend na die graf om Sy liggaam te balsam. Maar dan wag ‘n verskriklikke ontdekking op hulle. Hy is nie daar nie!

Die graf is oop en leeg. Hulle gaan terug en bring die skokkende nuus aan die dissipels. Dan gaan twee van die dissipels (Petrus en Johannes) na die graf en na alle waarskynlikheid volg Maria hulle. Die dissipels gaan weer terug, waarskynlik om vir die ander te gaan sê dat dit wat die vroue gesê het, waar is. Maria bly alleen by die graf agter. Sy staan daar en huil. Hartseer en pyn het haar oorweldig. Haar lewe het in duie gestort. Jesus is dood en sy liggaam is weg.

As sy buk en in die graf inkyk, sien sy twee engele wat vir haar vra waarom sy huil. Sy antwoord hulle: “Omdat hulle my Here weggevat het en ek nie weet waar hulle Hom nou begrawe het nie” (Joh. 20:13). Haar hartseer oor die dood van Jesus word vererger deurdat sy van mening is dat iemand Jesus se liggaam weggeneem het en sy nie weet waar Hy begrawe is nie. Die optrede van ander mense vergroot haar hartseer. Hoe kon iemand tog so iets gedoen het? Wie kon so iets doen? Waarom? Wat kan ek nou doen?

Sy is verslae en verward te midde van al haar rou. Dit is asof sy nie heeltemal by is nie want sy is nie te geskok oor die manne met die wit klere in die graf nie en wag nie vir ‘n antwoord nie.

Sy draai om en sien nog iemand. (4)Sy herken egter nie vir Jesus nie en dink Hy is die tuinier. Dit is opvallend dat die mense aan wie Jesus verskyn het, na Sy opstanding hom nie een herken het nie. Waarom sou dit dan die geval wees? Miskien sou ons kon sê dat Maria so in smart gedompel was en so verward en hartseer was dat sy Jesus nie herken het nie. Sy het Hom ook nie daar verwag nie.

Miskien is dit juis omdat Jesus Homself telkens moes bekendstel soos God Homself in die Ou-Testament telkens bekend gestel het.

Weer vra sy of Hy nie weet wie Jesus se liggaam weggeneem het en waar Hy herbegrawe is. Opvallend is dat sy nie bang is om die vraag te vra nie. Mens sou kon verwag dat sy bang sou wees want as die Jode die liggaam sou steel en sy hierna vra, kon dit vir haar probleme besorg het. Mens sou dalk kon sê dat die tuinier nie as een van die Joodse leiers kon deurgaan nie en dus ‘n neutrale persoon sou wees aan wie sy wel so ‘n vraag souk on stel.

Dit is eers as Jesus haar op haar naam aanspreek dat sy Hom herken. Dan roep sy uit: “Rabboeni!” –dit is die naam waarmee sy Hom waarskynlik altyd aangespreek het. Ons moet onthou dat ‘n vrou in daardie tyd ‘n man nie op sy naam aangespreek het nie. So het ‘n vrou haar man as “my heer” aangespreek. Met hierdie aanspreekvorm word die verhouding tussen Jesus en Maria aangestip. Sy het of wou Hom dan vashou, om daarmee te wys hoe dankbaar sy is dat Hy leef en om miskien daarmee te sê dat Hy nooit weer moet weggaan nie. Jesus spreek haar dan aan en wys daarop dat Hy juis oppad is. Sy verskyning is net tydelik en anders.

Soos ons haar teen die tyd al deur die Evangelies leer ken het, is sy dadelik bereid om te gehoorsaam en voer sy die opdrag van Jesus uit deur na die dissipels te gaan en vir hulle te vertel wat gebeur het, al sou sy so  maklik kon redeneer dat dit ‘n riskante daad sou wees.

Sy het al saam met die ander vroue vir hulle vertel wat gebeur het. As sy nou weer kom, is die moontlikheid groot dat hulle haar nie sal glo nie en selfs kan wegjaag. Tog skrik dit haar nie af nie. Sy doen wat Jesus haar beveel ongeag wat die gevolge mag wees.

Wat wil hiedie gedeelte vir ons sê? Dit lyk vir my of die gedeelte vir ons nie net wil beklemtoon dat Jesus opgestaan het en leef nie, maar ook iets wil sê oor ons hantering van smart.

Hoe reageer ons as ons hartseer is?(5) Maria het uiting gegee aan haar hartseer: sy gaan na die graf en sy huil….. ………………       ……………..      ……..

Al was sy verward en geskok het sy gemeen dat hier gemene spel gepleeg is, is sy nie verwytend nie. Sy slinger nie beskuldigings nie. (6)Sy verwyt nie. Sy bars nie woedend uit nie…………….. ………. …

Heel kalm, so lyk dit, soek sy na antwoorde. Dit is nog meer opvallend as sy in die uur van smart en verwarring heeltemal alleen is. Nie een van die ander het by haar gebly nie. Is sy nie herin ‘n voorbeeld nie? Hoe tree ons op? Is ons nie dikwels woedend of verwytend nie?

Die gedeelte, so lyk dit my, wil ook vir ons sê dat Jesus eintlik al die tyd teenwoordig is maar dat ons Hom so dikwels nie raaksien nie.

As ons egter ontdek dat Hy by ons is en ons in ‘n persoonlike verhouding met Hom staan, vervaag die hartseer en verdwyn die onsekerheid en woede. Dan kry die lewe weer sin en betekenis.. Dan kan ons weer ‘n keer teruggaan en voortgaan om vir ander te sê dat ons in ‘n lewene verhouding met Hom staan. Kan ons die lewe in die oë kyk en doelgerig en sinvol voortgaan- soos Maria.

(7)Die gedeelte wil ook vir ons sê dat ons ons nie moet blindstaar teen die aardse, die duisternis, smart, lyding en dood nie. Jesus het opgestaan en leef. Hy het ‘n nuwe perspektief geopen: die uitsig op die hemel. Dit is nou nie meer ‘n droom wêreld wat onbereikbaar is nie, maar ‘n werklikheid wat ons in Jesus kan betree. En die belangrikste: dit is nie iets in die verre toekoms, “ ‘n pie in the skie when you die” nie, maar het reeds aangebreek. In Jesus het ons die ewige lewe.

Met Hom leef ons nou reeds in die koninkryk van God. Nou kan ons la iets van die hemel hier op aarde beleef; iets van Sy liefde en oorvloed. Dit versterk ook ons hoop op dit wat na die dood wag op die wat in Jesus glo…
0 Kommentaar: so far: