POSTED BY John Wait on 16:56 under , ,
1 Korintiers 15:54-58

Almal van ons is betrokke by die grenssituasies van hierdie lewe. Ons lewens word begrens deur geboorte en sterwe. Alhoewel ons by beide betrokke is, is dit nie in ons hande nie.

Prediker het gesê: die lewe bestaan uit vasgestelde tye; ook geboorte en sterwe. Ons almal moet hierdie grense oorsteek.

Die lewe is soos ‘n treinreis tussen twee stede, tussen wie daar nie ‘n direkte verbinding is nie. Dit maak oorklim noodskaaklik.

Die reis neem ons deur lyding, siekte, benoudheid, vervolging, honger en gevaar( Rom.8:35). Die reis is nie altyd presies te beplan nie. Die vertrekpunt en tyd van die eindbestemming is nie in ons hande nie. Prediker sê: “Ons tyd is uitgemeet; ons oorstappunte is bepaal.

Die dood is ‘n werklikheid – hoe ons ookal redeneer. Ons hoor en lees van mense wat sterwe. Ons sien dood op T.V. Ons staan by ‘n graf van ‘n kennis of ‘n geliefde. Ons weet almal: die dood is ‘n werklikheid. Dit wag op ons almal. Nie een van ons is gevrywaar om nie te sterf nie. Die vraag is dan: Hoe ervaar ons dit?

Sien ons die dood as ‘n vyand? Dan kan ons daarteen veg of probeer om te ontvlug. Probeer jy dit vermy of ignoreer? Want dit help nie. Een of ander tyd word ons daarmee gekonfronteer.

Sien ons dit as ‘n afskeidsgeleentheid? So ‘n finale afskeid van iemand. Of as die tyd dat ons moet afskeid moet neem van alles en almal.

Of sien ons dit as ‘n grensituasie. Waar die grens oorgesteek sal word en ons vanuit hierdie bedeling sal oorstap in ‘n ander, nuwe bedeling. Is dit ‘n eindpunt of ‘n beginpunt?

Paulus sê aan die Korintiërs dat die opstanding van Chrsitus ook belangrik is vir die mens. Die opstanding van Christus verander die gelowige se persepsie van die dood. Hy kom tot die gevolgtrekking dat ons nie sal sterf nie. Die oorwinning behoort nie aan die dood nie, maar aan Chrsitus wat oorwin het oor die dood. Daarom is die dood nie die oorwinnaar en eindpunt nie. Christus is die oorwinnaar.

Wat is die grond van so ‘n uitspraak? Paulus het Christus geken. Hy weet dat Christus opgestaan het. Hiervan was daar baie getuies. Dit is die grond en basis van ons geloof. Dit is die grond van die lewensverandering en lewenswyse van baie. Dit het sy lewe verander en sin gegee aan sy lewe wat voorheen nutteloos en ‘n najaag na wind was.

Hy sê dan: As Christus nie opgestaan het nie, is ons geloof nutteloos. Verniet sal ons dan glo en hoop op lewe na die dood.

Is dit vir ons vandag belangrik? Ons leef. Ons moet aangaan met ons lewens. Moet ons in die skadu van die dood leef? Altyd leef in die vrees van die dood?

Nee. Vandag is ‘n voorbereiding vir more, vir die toekoms. In die lig van die oorwinnig oor die dood deur die opstanding van Christus moet ons kyk na die oorwinning oor die dood. Deur die opstanding van Christus moet ons kyk na ons verhoudings. Na ons verhouding met die opgestane Jesus, met die lewende Here. Maar ook na ons verhoudings met ander mense.

Hier is twee aspekte ter sake: omdat ons weet die dood op almal wag, moet ons in liefde leef omdat ons nie weet wanneer ons nie meer hier sal wees nie. Terselfdertyd moet ons in liefde leef juis omdat ons met Christus opgestaan het in ‘n nuwe lewe.

Dit dring ons om aandag te gee aan ons verhoudings… Hoe leef ons: liefdevol of liefdeloos? In die lig van die kortstondigheid van die lewe, die finalitiet, moet ons onsself elke dag ondersoek en vra of ons werklik ‘n opstandingslewe leef. Kan ander sien dat ons met Christus opgestaan het tot ‘n nuwe lewe?

Paulus skryf dan: “Daarom, liewe broers, wees standvastig, onwankelbaar altyd oorvloedig in die werk van die Here, omdat julle weet dat julle inspanning in diens van die Here nie tevergeefs is nie”(1Kor. 15:58). Hier word drie dinge genoem wat kenmerkend is van die lewe deur die opstanding van Jesus.

Wees standvastig. Die nuwe lewe wat deur die opstanding van Jesus ingelei word, is ‘n standvastige lewe. Nie ‘n lewe waar die gelowige heen en weer geslinger word deur omstandighede nie. Die gelowige is nie soos ‘n riet wat in die wind heen en weer gewaai word en wat deur sterk stormwinde geknak of gebreek word nie…wat ookal mag gebeur, ons hou vas aan die verlossing in Christus, die lewe deur Hom en aan Hom. Niks kan ons van koers af kry nie. Wees standvastig, betroubaar want ons weet dat Jesus opgestaan het en oorwin het oor graf en dood en hel…

Teedens sê Paulus…wees onwankelbaar. Soos ‘n rots. Is dit nie juis moontlik omdat die grond van ons geloof onwankelbaar is nie. Die lewe van die gelowige is mos gebou op God. Hy is die onwankelbare. Al sou die berge bewe en die aarde ineen stort, bly die Here die Onwankelbare. Hy verander nooit nie. Jesus is gister en vandag en tot in ewigheid dieselfde. Op grond van ons verbondendheid aan Hom kan ons onwankelbaar wees. Al is die storm ook hoe erg. Al is daar verskriklikke aanslae. Al val alles rondom ons!

Derdens sê Paulus dat die nuwe lewe wat op die opstanding van Jesus volg, ‘n lewe van oorvloedige werke is. Wees altyd oorvloedig in die werk van die Here. Wat beteken dit? Dui dit daarop dat ons net maar in die kerk en op geestelike gebied werke moet lewer? Nee. Dit gaan om oorvloedige werke na die voorbeeld van die Here. Let op: nie baie werke nie, maar oorvloedige werke. Werk voluit. Doen alles wat jy kan en nog meer….

Dwarsdeur die Bybel word bely dat die Here naby Sy kinders is en veral naby is aan diegene in nood. Om oorvloedig te wees in diens van die Here beteken dan ook dat ons baie keer naby mense in nood moet wees. Wees daar vir ander. Wees daar vir jou kinders. Wees daar vir jou ouers en ander ou mense. Wees daar vir almal wat jou dalk mag nodig hê. Die nuwe lewe wat ingelei word deur die opstanding van Jesus word gekenmerk deur nabyheid aan ander.

Wees altyd oorvloedig in die werk van die Here. Dit is ‘n kenmerk van die nuwe lewe wat deur die opstanding van Jesus moontlik gemaak is. Dit is ‘n vol en ryk lewe. ‘n Sinvolle lewe. “n Lewe wat gekenmerk word deur die oorvloed van werke na die voorbeeld van Jesus. Deur die opstanding van Jesus het daar ‘n einde gekom aan die sinlose bestaan wat by die graf eindig!

1 Korintiers 15 beklemtoon dat die gelowiges ‘n nuwe lewe leef; dat die dood nie ‘n skeidig en vernietiging is nie, maar ‘n grenskruisig. Dit sluit aan by Romeine 8 waar Paulus sing dat niks ons kan skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus ons Here is nie…
0 Kommentaar: so far: