POSTED BY John Wait on 05:53 under ,
Joahannes 21:15-25

Dit is duidelik as ons die Nuwe Testament lees dat Petrus en Johannes grootliks van mekaar verskil het. Petrus was ‘n voortvarende en impulsiewe persoon terwyl Johannes weer ‘n besadigde persoon was. Beide het sterk leierseienskappe gehad en het deel uitgemaak van die binnekring van die dissipels.

Uit die ontwikkelinge na die hemelvaart blyk dat daar verskillende groepe (of noem dit kerke) was. Hier word onderskei tussen die Petrus, Johannes en Paulus groep of kerk ( as mens nou die groepe onderskei op grond van die stigter-leiers).. Die groepe, of kerke, het nie altyd oog tot oog gesien. Die eienskappe van die stigters het neerslag gevind in die karakter van die groep en so was die Johannesgroep baie meer verdraagsaam as die Patrusgroep.

Na mate druk van buite (van beide Joodse en Romeinse kant) toegeneem het, het die behoefte aan groter kontak en eenheid sterker na vore getree. Hiervan vind ons ‘n neerslag in die laaste hoofstuk van die Johannes-evangelie. Hier word positief na Petrus verwys en word gevra of hy Jesus liefhet meer as die ander dissipels. ‘n Regstelling word ook gemaak ten opsigte van ‘n tradisie wat in die Johannesgroep geleef het, naamlik dat Johannes nie voor die wederkoms sou sterf nie.

In die gedeelte word twee sake aangespreek, naamlik jaloesie en ‘n verkeerde tradisie.

Pas nadat Petrus verneem het wat sy opdrag is en wat die prys is wat hy sal moet betaal, draai hy om en sien vir Johannes. Eintlik word Johannes nie by die naam genoem nie. Hy word die “dissipel vir wie Jesus baie lief was, wat ook by die maaltyd na Jesus se kant toe oorgeleun en gevra het: Here wie is U verraaier?”(Johannes21:20).

Hiermee word beklemtoon dat Johannes ‘n besonderse posisie beklee het omdat Jesus baie lief was vir hom en omdat hy so na aan Jesus was, ‘n verrtoueling wat die moeilike maar belangrike vraag kon vra.

Daar was dus ‘n mate van afguns van die kant van Petrus. So tipies menslik wil hy dan weet of dit met Johannes netsoos met hom sal gaan. Sal Johannes nie dalk voorgetrek word nie? Moet hy wat Petrus is die harde werk doen en swaarkry terwyl alles nou net voor die wind sal gaan met Johhannes? (2)So tipies menslik: hoe vergelyk my situasie en opdrag en lot met die van ander?

Hierop antwoord Jesus dat dit hom nie aangaan wat die lot van Johannes sal wees nie. Trouens as Jesus sou wou dat hy tot die wederkoms moet bly leef, dan het dit nog niks met Petrus te doen nie. Petrus moet besef dat hy hom nie moet bekommer oor die lot van Johannes nie. Hy moet homself nog minder vergelyk met Johannes. Hy moet luister na wat vir hom gesê is en dit dan net doen. Hy moet Jesus volg (Johannes 21:22).

Dit is so dat daar in die kerk mense met verskillende persoonlikhede is. Party lyk meer soos Petrus en ander weer soos Johannes. Die opdrag van Jesus is in beginsel dieselfde vir almsl, naamlik om Hom lief te hê en  te dien met die hele lewe en om  ander diensbaar te wees.

Tog is ons ook so dikwels bekommerd oor die lot van ander. Ons wil weet wat met ander gaan gebeur. Hoekom moet ek so swaar kry en gaan dit so goed met ander? Waarom kan ek nie rolle ruil met eiemand anders nie? Waarom het ander dit altyd beter as ek? Hoekom word almal nie maar net eenders behandel nie? Dit is mos nie regverdig nie?

Miskien moet ons ook maar weer ‘n keer maar hoor dat ons nie onsself moet blindstaar teen die situasies van ander nie. Die lot van ander gaan ons nie aan nie. Die gras lyk in elk geval altyd groener aan die ander kant van die draad (ons weet mos hoekom), en as ons aan die ander kant van die draad sou wees sou die gras net weer aan die ander kant groener gelyk het. Ons moet elkeen ons eie taak volvoer en ons eie las dra(3) en ophou om heeldag ons lot met die van ander te vergelyk. “Volg My!”

Die tweede saak wat hier aangespreek word is die feit dat mense so maklik hoor wat hulle wil hoor. Jesus het gesê: “As Ek wil hê dat hy in die lewe moet bly totdat Ek weer kom, is dit nie jou saak nie”(Johannes21:22).

Van die volgelinge van Johannes het dit gehoor asof Jesus gesê het dat Johannes nie sou sterf voor die wederkoms nie. Daarmee het hulle die “as” nie gehoor nie en het hulle van ‘n bysin ‘n hoofsin gemaak. En dit is nie wat Jesus gesê het nie.

Hulle het gehoor wat gesê is, maar het die konteks nie in ag geneem nie. Dit het bygedra tot ‘n selfpersepsie: hulle behoort aan die groep van iemand wat nie voor die wederkoms sou sterf nie en wat dus beter is as die persone wat behoort aan ‘n groep van wie die leier ‘n marteldood sou sterf.

Selfverheffing op grond van ‘n verkeerde interpretasie van woorde. Nou is dit maklik om hulle te oordeel. Maar dit pas nie, want ons trap nog gereeld in dieselfde strik.

Ons hoor so maklik net gedeeltelik en maak dan absolute gevolgtrekkings. Ons vergeet so maklik om die konteks waarin dinge gesê is, in ag te neem. Ons vergeet dat nie net die woorde wat geuiter is nie, maar ook die konteks , die lyftaal en die stemtoon bepalend is vir die betekenis van woorde. En dan word die verkeerd gehoorde woorde baie later, soms jare later gebruik as stok teen ander.

Hoe dom kan ons dan nie wees nie? Soos die deel vir Petrus sê dat hy na homself moet kyk en sy werk moet doen, wil dit ook sê dat mens mooi moet luister en nie verkeerde afleidings moet maak nie.

Dit kan rampspoedige of verreikende gevolge hê. Miskien sou daar al vroeër groter eenheid onder die vroeë Christene gewees het as van die broers nie gedink het hulle behoort aan ‘n beter groep omdat hulle leier nie sou sterf nie.

Ook ons misverstaan kan gevolge vir onsself en ander na ons hê as ons nie mooi luister en hoor nie. Gerugte is gevaarlik!
0 Kommentaar: so far: