POSTED BY John Wait on 19:55 under , ,
Lukas 24:36-49

Dit is baie interessant dat Jesus, volgens die Evangelie van Lukas, heel laaste aan die kerkleiers verskyn het. Vroue was die eerste getuies van Sy opstanding. Daarna het Hy aan die Emausgangers verskyn en toe eers aan Sy dissipels.

Dit lyk my of dit die belangstelling van Lukas weerspieel en veral sy beklemtoning van die posisie van die wat in sy tyd as minder belangrik geag was, naamlik vroue en onbekendes. Die bekendes en leiers staan ietwat terug. Tog is dit belangrik dat hier sprake is van drie groepe waarmee die volheid aangedui word: Jesus verskyn aan al Sy volgelinge: die minder hoog geagtes, die grootliks naamloses of onbekendes en die leierskorps.

Hierdie verskyning neem ‘n besonderse vorm aan. As ons let op die wyse waarop dit beskryf word, dan blyk dit dat ons hier ‘n tipiese “Godsverskyning” het. Netsoos (m.a.w) die Here in die Ou-Testament verskyn het, verskyn Jesus ook nou hier aan Sy dissipels.

Tipies van so ‘n Godsverskyning is die volgende elemente:

Groet: Vrede vir julle

Reaksie: Vrees

Gerusstelling: Moenie vrees nie

Selfbekendstelling van die Here

Reaksie:verwondering, stil word

Die woorde van die Here

Groet: Gaan in vrede

Jesus staan meteens tussen hulle en sê vir hulle: “Vrede vir julle”. Dit is die tipies tradisionele groet van daardie tyd. Tog is dit opvallend dat ons elke keer in die Ou-Testament as God aan mense verskyn, presies hierdie woorde as groet aantref.

Dan lees ons dat die dissipels geweldig geskrik het en bang geword het as die Here aan hulle verskyn het. Vrees is telkens die eerste reaksie as die mens besef dat die Here teenwoordig is.

Jesus troos hulle deur hulle daarop te wys dat hulle geen rede tot vrees het nie, omdat dit Hy is. Dit bevestig Hy deur hulle uit te nooi om na Hom te kyk en die merke aan Sy hannde en Sy sy te sien. Hy nooi hulle selfs uit om Hom aan te raak en hulleself te vergewis dat dit Hy is. So stel Hy Homself bekend. Oor Wie voor hulle gestaan het, kon en moes daar geen twyfel bestaan nie.

Dan maak hulle vrees plek vir blydskap en verwondering. Hulle blydskap was so groot dat hulle woordeloos gelaat was.

Jesus vra vervolgens vir hulle iets om te eet. Daarmee word alle twyfel dat Hy werklik opgestaan het en leef, uit die weg geruim.

Jesus gaan voort deur die Skrif vir hulle uit te lê. Hy sê vir hulle wat die betekenis is van Sy gesprekke met hulle voor Sy kruisiging en wys hulle daarop dat hulle die getuies is van die vervulling van Sy woorde en dan die Skrif. Daarna beloof Hy die gawe van God aan hulle en gee Hy aan hulle die opdrag om in die stad te wag totdat hulle met krag uit die hoogte toegerus is.

Dit is opvallend dat Lukas die vorm van die “Godsverskyning” kies om die verskyning van Jesus aan die dissipels te beskryf. Hiermee, so lyk dit my, word veral beklemtoon dat Jesus waarlik God is. Soos die Here volgens die Ou-Testament aan mense verskyn het, verskyn Jesus aan Sy dissipels. Daarmee word Jesus gelyk gestel aan God: Jesus is God.

Die gebeure word dan die baisis van die Nuwe Testamentiese erediens. Die volgorde van die erediens volg hierdie patroon. Dit het ook die basis gevorm van die Gereformeerde erediens, alhoewel daar elemente bygekom het. Miskien het dit tyd geword dat ons weer opnuut moet kyk na ons erediens as “Godsverskyning”. Wat hier gebeur, is niks anders as ‘n erediens nie!

Die dissipels beweeg hier van vrees tot verwondering, tot begrip en aanvaarding, tot toerusting en aksie. Waar hulle aan die begin baie bang is, is hulle later vol verwondering. Weereens word dit beklemtoon dat blydskap en verwondering ‘n integrale deel is van aanbidding.

Lukas skryf hierdie woorde aan ‘n gemeente waar vrees en die verlamming wat dit meebring deel van hulle daaglikse bestaan uitgemaak het. Hier wil hy vir hulle sê dat die erediens deel is van die beklemtoning dat Jesus leef. Hy het opgestaan. Hy is nie ver nie. Hy is in die erediens teenwoordig.

Lukas wil dat die gemeente sal oorgaan van vrees tot blydskap en verwondering. Die erediens is dan nie net die geleentheid waar die Skrif uitgelê en begryp word nie, maar waar die gemeente weer opnuut die beloftes van die Here hoor en rustig wag op krag vir die uitvoering van hulle take.

Wat gebeur in ons eredienste? Is dit maar formele byeenkomste waar mense bymekaarkom en van waar mense weggaan presies soos hulle daar aangekom het? Wat soek ons mense in die erediens? Met watter verwagting kom ons kerk toe? Is dit om by ander mense te wees? Is dit om te voldoen aan sosiale eise? Of gaan dit om die ontmoeting met die lewende Here? Is dit nie op die ou end so dat die gemeente selfs in die erediens so op homself gerig is dat die gemeentelid nie veel ontvang nie? Is ons nie te besig om die gemeente en sy aktiwiteite te propageer nie?

Die erediens behoort niks anders as ‘n “Godsverskyning” te wees nie. Dit is die plek van ontmoeting met die Lewende Here. Dit is hier dat Hy aan die gemeente verskyn – soos Hy in die Ou-Testament verskyn het en soos Jesus hier na die opstanding vaan Sy dissipels verskyn het.

Maak ons genoeg hiervan? As ons nie in die erediens die teenwoordigheid van die opgestane Jesus beleef nie, sal ons nie van vrees tot blydskap en verwondering kan vorder nie, sal ons nie kan begryp waaroor dit werklik gaan nie en sal ons nie toegerus kan word met krag van bo nie. Daarom is dit nodig dat ons telkens weer erns moet maak met die wese van die erdiens as plek van ontmoeting met die lewende Here…
0 Kommentaar: so far: