POSTED BY John Wait on 07:57 under ,
Handelinge 1:9-11

Is dit nie so dat ons maar tot ‘n mate partykeer wegskram van die hemelvaart nie? Dit is asof Christene maklik praat oor die kruisiging van Jesus, moeiliker oor die opstanding van Jesus uit die dood en nog moeiliker oor die hemelvaart van Jesus.

Daar is dan ook baie wat sê dat die hemelvaart nie regtig plaasgevind het nie. Dit is natuurlik nie iets nuts nie. Van vroeg af was daar stemme wat opgegaan het en gesê het dat dit ‘n storie is wat die dissipels uitgedink het.

 Deesdae kom die historiese feite van die opstanding en hemelvaart dikwels in die spervuur. Daarop reageer mense dikwels deur te sê dat dit in die Bybel staan en die Bybel is tog waar en daarom moet dit waar wees. En dit is waar.

Vandag wil ek veral let op die betekenins van die opstanding en hemelvaart in die lig van die deurtog deur die Skelfsee en en verkskyning van God in die Ou-Testament. Dan wil ek dit deurtrek na die gebeure in die Nuwe Testament en toepas op ons situasie vandag hier in Patensie.

Die verhaal van die tog deur die Skelfsee is goed bekend. Ons ken almal die verhale in Eksodus oor die onderdrukking en verlossing uit Egipte en hoe die Israeliete by die Skelfsee uitgekom het. Daar het die Egiptiese leër hulle ingehaal en was hulle in ‘n baie groot krisis situasie. Dit het gelyk of hulle in ‘n doodloopstraat beland het: voor hulle was die see en agter hulle die oprukkende Egiptiese leërmag.

Hoe sou hulle ooit weer lewend hieruit kon kon? Dan lees ons hoe God die waters gekloof het en hulle droogvoets deur die see geloop het. Kort daarna het die see weer aanmekaar gevloei en is die Egiptenare gedood.

Nou is daar baie wat sê dat die uittog uit Egipte nie ‘n historiese berig is nie. So is die getalle van die Israeliete net te groot: dit beteken dat daar geen bevolkingsgroei van die tyd tot die tyd van Salomo was nie; dit sou onmoontlik gewees het dat so ‘n groot klomp mense in een nag uit Egipte kon trek, ensovoorts. As ons mooi na die verhaal kyk, dan sien ons dat hier eintlik vier verhaallae (ofverhaal moontlikhede)is.

In die eerste verhaallaag gaan dit om die stryd tussen die Here en die gode. Dit is parallel met die godestryd tussen gode van orde en die gode van chaos waarvan ons in baie ander verhale in die Bybel lees. Hier gaan dit dan om die fiet dat die Here die see, die woonplek en simbool van die gode van die doderyk en van chaos, middeldeur skeur en vernietig. So oorwin God oor die chaos. Die mag van die gode en van die doderyk word verbreek.

In die tweede verhaallaag gaan dit om swerwelinge wat in moerasse beland en deur ‘n groot waatermassa oorweldig word. Maar dan stuur God die oostewind wat die waters wegdryf sodat hulle gered word.

Die derde verhaallaag handel oor die verlossing van mense wat in ‘n militêre opersasie in die krissis beland het en wat dan gered word as God die waters kloof, hulle droogvoets deurgaan en die vyand in die waters omkom.

 Laastens vind ons in die verhaal tekens wat daarop dui dat dit kulties herdenk en gevier is. Ons moet dan nie enkelvoudig na die verhaal kyk en sê dat dit dalk nie histories kan wees nie. Hier word beklemtoon dat God Sy kinders gered het. Hy het hulle verlos deur die mag van die chaosgode en die dood te verbreek. Hy het hulle verlos uit die eksistensiele krisis waarin hulle hulle bevind het . Hy het hulle as volk verlos uit die noodsituasie waarin hulle hulle bevind het…

Dit het hulle jaarliks herdenk in die kultus- (dit is die georganiseerde aanbidding van die Here). As hulle dit doen, dan doen hulle dit met die wete dat dit nie hulle vaders is wat die Here uit Egipte verlos en met wie Hy ‘n verbond gesluit het nie, maar dat dit met hulle self is wat lewe en feesvier dat Hy ‘n verbond sluit. Die Here het ons verlos – daarom gebruik die skrywer onder andere die getalle van die volk op sy tyd. Hiermee word die historisiteit van die gebeure nie ontken nie. Daar word nie gesê dat dit nie gebeur het nie. Inteendeel, daar word gesê dat dit eintlik op verskillende vorme baie keer gebeur het en nou weer ‘n werklikheid word as hulle dit vier.

Dit is die basis waarop hulle geloof berus het. Dit is die grondslag van hulle lewe. Dit word dan meer as ‘n eenmalige gebeurtenis wat baie lank gelede plaasgevind het en wat met die tyd vervaag het. Dit word die basis waaruit hulle elke dag lewe. Die kernbelydenis wat hulle lewe bepaal.

Die kernbelydenis van die Ou-Testament word ook die kernbelydenis van die Nuwe Testament. Die kruisiging en opstanding van Jesus beteken die oorwinning oor die magte van die duisternis en die dood. Hy het deur Sy sterwe en opstanding die mag van die Satan verbreek; die dood oorwin. Hy het gekom om die mens te verlos uit die persoonlike krisisituasie waarin die mens hom bevind; om volke te bevry en Vryheid te bring. Dit word gevier in die nagmaal en in die doop.

So word die kruisdood en opstanding nie net historiese dade wat lank gelede plaasgevind het nie, maar word dit elke keer opnuut herhaal en geaktualiseer. Dit word ‘n werklikheid vir elkeen wat in Hom glo. Deur die belewing daarvan word dit opnuut historiese werklikhede wat my historiese werklikheid bepaal. Dit is die basis van ons geloof en lewe.

In die Ou-Testament lees ons dikwels dat die Here aan mense verskyn het. Die Godsverskynings het op verskillende maniere plaasgevind. Tog word dit dikwels beskryf dat God na die mens kom en aan die mens verskyn in ‘n wolk. So lees ons dat die Here aan Moses verskyn op die berg in ‘n wolk; dat Hy aan Elia verskyn in ‘n wolk.

In daardie tyd is dit gesê dat wolke van die hemel af kom. Dit is die woonplek van God kom en dat dit eintlik die voertuig is waarmee God na die mense toe kom. In die lig van die feit dat die verskyning van God dikwels met wolke gepaard gegaan het, is dit ook so dat hulle die teenwoordigheid van die Here met wolke verbind het. Soos die reenboog die simbool van Gods genade was en die teken dat God nie die wêreld met water sou verwoes nie, was wolke vir hulle die simbool van die teenwoordigheid van God. Waar daar wolke is, is God. Op die wolke kom Hy.

Hier vind ons dan ‘n ander interpretasie van die wolk: Jesus gaan weg in ‘n wolk. Hiermee word weereens die wesenseenheid tussen die Vader en die Seun uitgedruk. Soos God in die Ou-Testament gekom en gegaan het, so gaan Jesus op die wolk na die hemel en so sal Hy ook weer kom. So seker as wat daar wolke is, so seker is sy teenwoordigheid; Sy gaan en Sy koms. Daarop moes die volgelinge van Jesus steeds waaksaam wees en elke keer as hulle wolke sien, moes dit hulle herhinder aan die koms van Jesus.

Elke wolk moet die gelowige herhinder aan die hemelvaart en met verwagting laat uitsien aan die wederkoms. Ja, gelowiges moet nie aldag te stip vaskyk in hulle omstandighede en net op die grond bly vaskyk nie; gelowiges moet opkyk. En as ons wolke sien, moet ons weet: God is hier; Jesus het opgevaar en Hy sal weer kom.

Die gelowige is soos ‘n boer wat in tye van droogte met verlangende oë na die hemel kyk in die verwagting dat die wolke reën en lewe sal bring. So wag die gelowige op die teken van die teenwoordigheid van God en wederkoms van Jesus wat die begin van ‘n totale nuwe lewe sal inlui.

In ons tyd is daar ook talle mense wat die werklikheid van die opstanding en hemelvaart van Jesus ontken en dit wil afmaak as feëverhale of stories wat deur mense opgedis word. Netsoos in die tyd van die eerste Christene. Dit gaan egter om meer. Dit is die kern van ons geloof. Dit is die basis van ons lewe. Dit is nie iets wat tot die verre verlede hoort nie. Dit moet vandag nog en elke dag opnuut ‘n werklikheid vir ons word.

Soos ons elke dag die verlossing in Jesus moet ervaar, moet ons ook elke dag herhinner word aan die hemelvaart en elke dag met verlange uitsien na die wederkoms…
0 Kommentaar: so far: