POSTED BY Steven Sass on 20:20 under
11 Oktober 2015 Patensie

Ons lewe in ’n tyd waarin die Evangelie soos nog nooit tevore in die geskiedenis nie beskikbaar is vir mense. Die Bybel is die top boekverkoper sedert die uitvinding van die boekdrukkuns. Trouens, ek dink in die meeste van ons huise is daar ’n hele paar Bybels. In my studeerkamer alleen is daar 25 Bybels, bo en behalwe die 10 verskillende vertalings wat ek op my rekenaar het. En behalwe die Bybels is daar geestelike leesstof in oorvloed beskikbaar. Dan is daar die geestelike tydskrifte, geestelike video’s, gospelmusiek en geestelike programme oor radio en TV, en Radiokansel . . . Kortom, nog nooit in die geskiedenis van die mensdom was die Evangelie só beskikbaar soos vandag nie.
En tog is dit vandag nog net so moontlik om aan al dié boodskappe te ontkom as jy wil. ’n Radio of TV kan jy afskakel, die kerk kan jy vermy, en jy hoef nie ’n Bybel te besit of ’n geestelike boek te lees as jy nie wil nie. Om die waarheid te sê, ek dink dis vandag, in die naam van godsdiensvryheid, makliker as vroeër om jou ore toe te druk vir die verkondiging van die Evangelie. Baie van ons het grootgeword met skole waar die Bybel baie sigbaar en hoorbaar is; deesdae is daar al meer druk op skole om geen godsdiens te hê nie, kwansuis omdat dit diskriminerend is..
Hulle vertel mos die storie van die seun wat so opgewonde was omdat sy ouer broer se popgroep ’n CD gemaak het. Hy het dadelik vir hom die CD gaan koop. Sy broer was nogal verbaas daaroor, want sy boetie het nooit ’n geheim daarvan gemaak dat hy niks van dié groep se musiek hou nie. Toe hy sy boetie vra hoekom hy dan die CD gekoop het, sê hy: Dis vir my so lekker, want nou kan ek dit afskakel sodra dit begin speel.
En so het daardie mense besluit wat die Bybel uit die skole wil ban: Hulle skakel die Evangelie af in hulle kinders se lewe. Nee! sê Johannes. Dit kan nie gebeur nie! Want al is dit so dat ons God nie kan sien in hierdie wêreld nie (vers 12), is Hy nie afwesig nie, en kan Hy nie vermy of afgeskakel word nie. Want, sê Johannes, Hy word sigbaar en hoorbaar deur óns, sy kinders, as ons liefhet. Niemand het God nog ooit gesien nie, maar as ons mekaar liefhet, bly God in ons en het sy liefde in ons sy doel volkome bereik. Dít is ons roeping in hierdie wêreld: om God sigbaar te maak vir hulle wat Hom andersins nie kan sien nie. Want God wíl gesien kan word. Hy wíl geken word. Hy wíl hê die hele wêreld moet weet hoe lief Hy ons het, hoe betrokke Hy by ons is, hoe Hy vir die wêreld sorg.
Het jy al gewonder hoekom daar ’n wêreld is? Hoekom ons hier is? God het mos nie nodig gehad om alles te maak nie! Hy kon mos lekker daar in die hemel gebly het sonder al die moeite van ’n skepping wat Hy moet onderhou, en mense met wie Hy moet sukkel. Die antwoord is: God is liefde. Dit is in sy wese om lief te hê, en daarom móés Hy die wêreld maak, sodat ons daarop kan wees, sodat Hy ons kan liefhê. En toe die mens die rug op Hom gedraai het, het Hy nie gerus nie, totdat Hy ons teruggewen het en die mens weer met Homself versoen het. Daarom het die Seun van God mens geword. God se liefde het Hom aarde toe gedrywe, om ons te kom red. God het die wêreld so lief gehad, dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê (Joh 3:16).
Jy en ek is hier, omdat God liefde is, omdat Hy liefhet. Omdat die lewe sonder ons vir Hom ondenkbaar is. Daarom het Hy ons gemaak, en kom red. En daarom het die Seun van God mens geword en onder ons kom woon; daarom is die Gees op Pinksterdag uitgestort op die gelowiges: omdat God se liefde Hom uitdryf na ons toe, omdat Hy by ons, sy geliefdes, wil wees, in ons wil woon, elke dag.
Natuurlik, as jy God se kind is en God deur sy Gees in ons woon, kan jy nie dieselfde bly nie. Dan begin jy hoe langer hoe meer soos Jesus lyk, soos God lyk, soos Hy dink, soos Hy optree – dan begin jy hoe langer hoe meer ook, soos Hy, liefhê. Begin sy liefde jou ook uitdryf na ander toe. En só word God sigbaar in hierdie wêreld. In jou en my lewe, en in ons liefde, sien mense vir God. En terwyl mense die radio kan afskakel en kan weier om ’n Bybel oop te maak of ’n erediens by te woon, kan hulle jou en my nie afskakel nie. So word jy en ek God se stem, God se hande, God se omgee, God se liefde in ander mense se lewens. So word ons deel van God se liefdesuitreik na mense wat verlore is.
Dit is wat op daardie eerste Pinksterfees gebeur het: toe die Heilige Gees op die dissipels gekom het, het hulle onmiddellik na die mense om hulle begin uitreik. God het só sigbaar geword in hulle lewens, dat daar op daardie selfde dag omtrent 3000 mense tot bekering gekom het.
Ek droom van ’n dag dit dit ook van ons kerk waar sal wees: die Heilige Gees só in jou en my woon en werk dat ons soos Jesus sal begin lyk en liefhê! Dat ons Hom toelaat om só in ons te leef dat ander Hom in ons kan sien! Dat ander God in ons kan ontmoet! Dat sy liefde so deel van ons lewens sal word dat dit ons sal uitdryf na ander toe! Na die duisende wat verlore gaan om ons! Na daardie vrou wat saam met jou werk, of dalk die persoon wat langs jou woon, of saam met jou sport beoefen, of in die klas langs jou sit! Dat sy liefde ons só sal dryf, tot by die straatlopers wat kom aanklop vir ’n stukkie brood! Dat God se liefde deur my tot by hulle gekom!
“Julle is die lig vir die wêreld,” het Jesus gesê. In ons word God se liefde sigbaar, skryf Johannes.
Mag die weredl God sien in ons, die lidmate van die NGKerk in die Gamtoos!

Amen.
0 Kommentaar: so far: