POSTED BY Steven Sass on 05:41 under
Oktober 2015 Patensie

Kyk, dis natuurlik ’n groot probleem as elkeen doen wat reg is in sy eie oë. Elkeen maak soos hy lus het. Soos Miga (lees Rig 17:1-6). Hy het besluit hy wil sy ma se geld hê, toe vat hy dit eenvoudig. Nogal 13kg silwer. Maar toe hy hoor sy ma spreek ’n vloek daaroor uit, raak hy bang, en gee dit gou terug.

Maar toe is sy ma bang die silwer bring vir haar ellende, want sy het dit dan vervloek! Wat nou gemaak? Toe besluit sy Miga moet daarvan ’n afgodsbeeld maak. Want Miga het sy eie tempel gehad, en daarin was daar al klaar ’n paar beeldjies. Maar niks was so mooi soos hierdie silwer afgodsbeeld wat hy nou het nie. Die feit dat die Here in sy Wet dit uitdruklik verbied dat ’n mens ’n beeld mag maak en dit aanbid, pla hom blykbaar nie.
’n Tempel het natuurlik ’n priester ook nodig, en daarvoor het Miga ook ’n plan: hy stel sommer sy eie seun as priester aan.

Dit was alles natuurlik heerlik gerieflik. Om jou eie tempel op jou werf te hê, en jou eie priester, en alles. Daar was natuurlik die groot heiligdom van die Israeliete by Silo, waar die priester Eli en die ark van God was, en waar Samuel groot geword het. Dit was nogal nie ver van Miga af nie (net ’n paar kilometer), en al die Israeliete was veronderstel om daar te gaan offer. Maar dit was darem regtig onnodige baie moeite as jy net sowel op jou eie werf jou godsdiens kan bedryf.

Dit laat my dink aan die mense wat deesdae hulle eie kerk sommer by die huis hou. Jy luister kerk in oor die radio of jy kyk die TV se godsdiensprogramme. Dis mos heeltemal genoeg. Waarom sou jy dan nog die moeite doen om elke Sondag kerk toe te kom as jy sommer net daar in jou huis jou godsdiens kan bedryf?

Miga was behoorlik in sy skik met sy eie kerk op sy werf. Dit kan amper nie beter nie. Maar kom ons lees nou verder: Lees Rig 17:7-13

Dit gáán nog beter, want op ’n goeie dag daag daar ’n werklose Leviet by sy huis op. En dit was boonop nie sommer enige Leviet nie, hy was niemand minder nie as ’n kleinseun van die groot volksleier Moses! Sy naam was Jonatan, lees ons in 18:30. En Miga stel hom op die daad as sy priester aan. Wat van sy eie priester-seun geword het, weet ons nie. Hy moes seker nou weer gaan boer op sy pa se plaas. Want Miga het besef hy het so ’n bietjie gekroek. Net Leviete mag eintlik priesters gewees het, so sy eie seun was nie regtig-egtig ’n priester nie. Maar hierdie Jonatan was enige tempel-eienaar se droom. Die kleinseun van Moses! En Miga is doodgelukkig. Hoor wat sê hy: “Nou weet ek die Here sal vir my goed wees, want die Leviet het my priester geword!”

As ’n man darem sy eie tempel en priester het, móét die Here mos vir jou goed wees. Die Here sal tog sien dat hy dit goed bedoel, dat hy baie geld bestee het aan die oprig en instandhouding van die tempel. Hy betaal tot sy priester ’n salaris. Nee wat, nou is hy reg vir die lewe, want hy het gesorg dat God aan sy kant is.

Miga het ’n baie belangrike ding nie verstaan nie. Hy het die belangrikste ding in die godsdiens nie verstaan nie, en dit is dat ’n mens nie maar net die regte klomp goed bymekaar kan sit en dan is jy reg nie. Om die Here te dien en eer, vra meer as ’n tempel, om maar liewer nie te praat van die afgodsbeeldjies daarin nie, en ’n priester wat offers bring! Om die Here te dien, vra liefde vir God, en daarom ook gehoorsaamheid aan Hom. Dit het Samuel later vir koning Saul moes uitspel in 1 Sam 15:22,23: Is brandoffers en ander diereoffers net so aanneemlik vir die Here as gehoorsaamheid aan sy bevel? Nee, gehoorsaamheid is beter as offerande, om te luister is beter as die vet van ramme. Weerspannigheid is net so erg as die sonde van waarsêery; eiesinnigheid net so erg as die bedrog van afgodery.

Hierdie is ’n woord wat ons almal maar dikwels weer moet hoor: ons kan nie God se seëninge koop met ons godsdienstigheid nie. En nou praat ek nie eers van eiesinnige godsdienstigheid nie! God se genade is nie te koop nie! Hy gee dit verniet vir almal wat Hom liefhet en vir Hom in gehoorsaamheid dien elke dag.

Maar wag, terug na ons verhaal. Terwyl Miga daar in die Efraimsberge vir hom sy eie kerk gestig het, het ander Israeliete van die stam Dan problem...
 Hulle is nie tevrede met die grondgebied wat hulle in die suide van Kanaän gekry het nie, en nou soek hulle nuwe blyplek in die noorde. En die vyf verkenners wat die soekwerk moet gaan doen, kom op hulle reis by Miga se plek uit, en priester Jonatan wys vir hulle sy mooi tempel, en hy spreek die Here se seën oor hulle onderneming uit. Die manne kry toe ’n wonderlike plek, Lajis, waar hulle sal kan gaan woon, en gaan terug huis toe om dit vir hulle mense te vertel. En daar trek hierdie klomp mense, met o.a. 600 gewapende soldate, weg uit Sora en Estaol om Lajis te gaan verower. Op pad gaan hulle weer by Miga se huis verby. Toe hulle daar kom, kry hulle die plan om die afgodsbeeldjies te gaan afvat en saam met hulle na hulle nuwe tuiste te neem. Hulle het mos die 600 soldate by, wie sal hulle kan keer?


Kom ons lees nou verder aan die verhaal: Rig 18:18 -20
Die priester Jonatan wou nog keer, maar sommer gou-gou praat hulle hom om om saam met hulle te kom. En hy help selfs om die afgodsbeeldjies te steel! Want as jy ambisie het, sal jy mos veel eerder priester vir ’n hele stam wil wees as vir ’n enkele gesin! Ek meen, ’n kleinseun van Moses is tog vir groter dinge bestem as vir ’n gewone ou huiskerkie!

Die mense van Dan het net soos Miga geredeneer. Hulle wou die tekens van God se teenwoordigheid en guns hê – die efodbeeld en afgodsbeeldjies en die priester – en hulle het nie omgegee hoe hulle dit in die hande gekry het nie. Vandag kry jy nog steeds mense wat die tekens van God se genade wil hê. Daarom trou hulle in die kerk, laat hulle kinders doop, sorg dat die kinders die Sondagskool en katkisasie bywoon – sonder dat hulle die Here self ken.

Die probleem is net: as jy ’n selfgemaakte godsdiens het, het jy nie regtig iets nie. Dit ontdek Miga ook daardie dag. Toe hy die diefstal ontdek, sit hy hulle agterna en skree dat hulle sy goed moet los. En dan lees ons: Lees Rig 18:23-26:

Dis seker een van die mees patetiese uitsprake in die Bybel: “Julle het my god wat ek gemaak het, gevat en ook my priester, en nou gaan julle weg. Wat het ek nou oor?” As ’n mens jou godsdiens só inrig dat dit jóú pas, sus dit dalk jou gewete vir ’n ruk, maar, so ontdek Miga daardie dag, dit is vir jou niks werd nie, want God is nie daarin nie. Só ’n godsdiens kan jou nie deur die lewe dra nie. So ’n godsdiens kan jou nie by God uitbring nie. Enigiemand kan dit van jou afvat.


So die vraag is: waaroor gaan dit vir ons in die kerk? Om die nakom van ’n klomp rituele? Oor kerk toe gaan en bid en dankoffer gee? Want as dít ons siening van Christen-wees is, is ons nie veel anders as Miga nie. Christenskap is nie ’n godsdiens nie, dis ’n lewenswyse; dis nie die nakom van ’n stel reëls en rituele nie, dis die navolg van ’n Persoon, Jesus Christus, en die lewe in verbondenheid met Hom. Dis ’n verhouding wat hoe langer hoe meer groei en verdiep en waar jy nie maak soos jý wil nie, maar soos God in sy Woord ons leer.
Mag ons elke dag nader aan Jesus leef!
0 Kommentaar: so far: