POSTED BY Steven Sass on 19:46 under
25 Oktober 2015 Patensie Zola en haar vier dogters

Ons was vanoggend getuies van die doop. Ons het gesing dat dit ons troos is dat ons gedoop is. Maar die doop het oor die afgelope paar jaar al hoe meer ’n omstrede saak geword. Sommige  lidmate het hulle laat  groot doop, omdat hulle dalk op een of ander manier voel die kinderdoop het dit nie vir hulle gedoen nie.

Ek wil nie vanoggend my in dié debat begewe nie. Ek wil net sê ek glo baie van die onsekerheid oor die doop spruit uit die feit dat ons nie regtig uit die hart bedoel wat ons gesing het nie: die doop troos mense nie meer nie. Dalk omdat ons nie altyd goed verstaan wat in die doop gebeur nie, of wat die doop bedoel is om te wees nie.


Hulle vertel dat Martin Luther op ’n keer, toe die duiwel hom erg lastig geval het, met ’n mes in sy lessenaar uitgekerf het: “Ek is gedoop!” Dís waaraan hy vasgehou het, waaraan hy homself én die duiwel herinner het toe dié met hom gesukkel het. Hy is gedoop. Hy behoort aan God en is nie beskikbaar vir die duiwel se nonsens nie.

Vir Martin Luther het die feit dat hy gedoop is, ’n verskil in sy geloofslewe van elke dag gemaak; dit was ’n anker waaraan hy kon vashou in tye van geloofsworsteling.

Hoekom? Wat presies is die doop dan, dat dit ’n mens kan troos? ’n Beeld wat my help as ek oor die doop dink, is dié van ’n boer wat sy lammers merk.Daardie lam word nie eers die boer se eiendom as die plaat in sy oor is nie; hy is dit van geboorte af. Maar die plaatjie sê vir almal wat die lam sien, dat dit die boer s’n is.

Iets daarvan is ook van die doop waar. In die doop kom God en kom merk Hy sy eiendom. Elkeen van ons wat gedoop is, het daardie merk. Ek en jy en Zola en haar vier dogters dra God se merk. Ons is Syne!

Nouja, as julle mooi na my voorkop kyk, sal julle nie ’n merk hier sien nie. En julle kan maar in die spieël gaan kyk by die huis; jy sal nie jou doopmerk kan sien nie. Maar dit beteken nie dat hy nie daar sit nie. Die lammetjies en die skape weet ook nie van die merk wat hulle aan die ore dra nie. Maar dit beteken nie dat hulle nie gemerk is nie. Want die merk is nie daar sodat húlle dit moet sien nie, die merk is daar sodat die boer en ander mense dit moet sien. En so werk die doopmerk ook. Al sien ons nie die merk van die doop hier aan ons voorkoppe nie, hy sit daar. Óns kan dit nie sien nie, maar God kan! Hy weet wie gedoop is, wie Syne is, sy eie spesiale kinders! En vir hulle pas Hy baie goed op, want hulle behoort mos aan Hom. Die Here Jesus sê hier in ons teks: Ek is die goeie herder. Ek ken my skape. Hy het ons dan self gemerk, soos Hy vanoggend ook vir Zola en haar dogters gemerk het.

Want dit moet ons baie mooi weet: Toe Zola en haar dogters netnou gedoop is, was dit nie sommer net ek wat daar gestaan en hulle gedoop het nie – dit was God self wat hom gedoop het! Daarom is hulle gedoop in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees. Dit is God wat ons elkeen gedoop het. Hy het ons self gemerk, en daarom ken Hy ons elkeen baie goed, op ons name. Hoor wat sê die Here Jesus in die gedeelte wat ons gelees het (vs 3): Die ... herder ... roep sy skape op hulle name en lei hulle uit. En in vers 14 en 27 sê Jesus dit nog ’n keer: Ek ken my skape.

As ons nou so dink oor die skaapwagter wat sy skape op hulle name ken, moet ons nie aan ’n moderne boer dink wat sy skape in kampe hou wat met draad toegespan is nie, want in die tyd van die Here Jesus was daar nog nie so iets soos drade nie. Nee, in daardie tyd het die skaapwagter met sy skape na die weiveld toe geloop en die hele tyd daar by hulle gebly om hulle op te pas en te keer dat hulle verdwaal, of dat wolwe of ander roofdiere hulle kom vang. En as hulle nou na die weiveld moet gaan, dan jaag die skaapwagter hulle nie aan soontoe nie, nee; hy loop voor en hy roep sy skape, en omdat hulle hom ken en sy stem ken, loop hulle agter hom aan waar hy hulle wil neem (vs 4). Nou dink ek nie die klein ou lammertjies het van die begin af die skaapwagter se stem geken nie; hulle het sommer so agter hulle ma's aangeloop. Maar soos hulle ouer geword het, het hulle tog ook die skaapwagter se stem leer ken, en self ook geweet om agter hom aan te loop.

En so werk dit met die doop ook. Babatjies wat gedoop word, ken natuurlik nog nie die Here nie. Hulle sal nie self weet om agter Hom aan te loop nie. Maar hulle ouers ken die Here, en elke keer, net voor die babas gedoop word, belowe hulle die Here dat hulle hulle babas sal leer om ook die Here te leer ken, sodat, as hulle groot is, hulle self ook, net soos hulle ouers, agter die Here sal aanloop. Dan sal dit waar wees wat die Here in ons teksvers sê: Ek ken my skape, en my skape ken My.

Mag ek dit vanoggend vir julle vra, broer en suster, julle wat self kinders het, julle wat ook al hier voor die kansel met julle kinders gestaan het, vir God belowe het om jou kind te leer om Hom lief te hê: Doen jy dit nog getrou? Sal jou kinders, as hulle agter jou aanloop, op koers agter die Here Jesus aan wees? Leer hulle God se stem ken in jou huis?

Maar kom ek vat saam. Net soos ’n boer sy lammers merk, net so merk die Here sy kinders met die doop. Want Hy is lief vir ons, en wil ons graag oppas en bewaar.

Liewe gemeente, ons is die Here s'n! Hy het ons gemerk! Hy ken jou op jou naam, want jy is vir Hom belangrik!

Kom ons lewe dan soos die Here se kinders, soos gedoopte mense!

Amen.
0 Kommentaar: so far: