POSTED BY Steven Sass on 18:12 under
31 Mei 2015 Patensie
Hoe lyk JY?
Handelinge 2:37-47

 Die enigste gepaste reaksie op die boodskap van Jesus is om jou te bekeer. Bekering beteken om te buig voor Jesus en jou lewe in te rig volgens die leer en voorbeeld van Jesus. Só dra jy vrug wat by die bekering pas. Op hierdie manier word God se koningskap 'n werklikheid in jou lewe.

Bekering is egter nie net 'n individuele proses nie...Volgens Handelinge is bekering ook 'n proses wat jou insluit by God se gemeente... Op die dag van Petrus se boodskap, die dag waarop die Heilige Gees uitgestort is, is omtrent drie duisend mense "by die getal van die gelowiges gevoeg." (41). God se werk in Christus, deur die krag van die Heilige Gees, skep altyd nuwe gemeenskap. Dit sluit mense altyd in by God se kerk. Bekering in die kragveld van die Gees is altyd om deel van 'n geloofsgemeenskap gemaak te word....

 In ons teks word die karaktertrekke van die geloofsgemeenskap wat die Heilige Gees deur bekering skep, op 'n besondere manier beskryf. Dis soos die gemeenskaplike vrug van bekering lyk. Die eerste Pinkstergemeente was volgens vers 42 volhardend toegewy aan:
· Die leer en onderrig van die apostels * Onderlinge verbondenheid aan mekaar
· Die gemeenskaplike maaltyd * Volhardende gebed Leer en onderrig van die apostels. Deur die uitstorting van die Heilige Gees het Hy aan die apostels die bevoegdheid gegee om in sy Naam herders en leraars van die gemeente te wees, bevoegdhede wat stelselmatig ook deur die Gees as gawes aan meer gelowiges as slegs die apostels gegee is (Ef. 4:11, 12).

Die geestelike versorging van die gemeente deur haar Hoof is dus vanaf die eerste dag van haar bestaan gewaarborg en daarmee saam is die gesagstruktuur vir die gemeenteliggaam ook vasgelê. Die Here se unieke gawes aan die liggaam van gelowiges is die herders wat direk teenoor Hom verantwoordelik is vir hulle taak om die liggaam van Christus, sy vrygekoopte kudde op te bou. Gehoorsaamheid aan die leer van die apostels is dus gehoorsaamheid aan Christus self. Dit is hierdie leer wat vir die gemeente van vandag in die Heilige Skrif opgeteken staan. Uiteindelik word die gehoorsaamheid van die gelowiges aan Christus gemeet aan hulle gehoorsaamheid aan die heilige Skrif (2 Tim. 3:14-17). Ons moet die Skrif se gesag onvoorwaardelik aanvaar.

 Onderlinge verbondenheid: (vers42) Die woord koinonia wat in die OAV met “gemeenskap” vertaal word, is meer as net “onderlinge verbondenheid” (NAV). Dit is ’n onderlinge verbondenheid wat praktiese uitlewing vind in gemeenskaplike verkeer, aanbidding, dienslewering asook bediening van mekaar tot opbou van die liggaam van Christus in liefde (Ef. 4:16b).

Hierdie Pinkstergelowiges het mekaar opreg liefgehad, dikwels onderling gesprek gevoer en voortdurend bymekaar gekom. Hulle het hulle nie as kluisenaars aan die samelewing onttrek nie, maar hulle gemeenskap ook in die openbare plekke beoefen, veral in die tempel waar hulle daaglikse samekoms plaasgevind het (2:46). Hierdie gemeenskapsbeoefening was hulle helderste getuienis van hoe die Goeie Herder verlore en verstrooide skape tot ’n goedgeordende en lewenskragtige kudde wat Hom getrou volg omskep. Hierdie gemeenskap met mekaar berus op ’n dieper gemeenskap, naamlik die van die gelowiges met die Vader en met sy Seun, Jesus Christus (1 Joh. 1:3). Gemeenskaplike aanbiddingsgemeenskap met die Vader en sy Seun is die beste gemeenskap wat gelowiges met mekaar kan hê . Onderlinge verbondenheid is nie ‘n teorie nie. Dit is prakties waar gemeente God dien, mekaar dien, versorg en liefhet.

Die gemeenskaplike maaltyd Die eerste gemeente is gekenmerk deur die eet van die gemeenskaplike maaltyd (NAV) of te wel die breking van die brood (OAV). Dit is moeilik om te sê of ons hier te doen het met die nagmaalviering of met die gewone maaltye. Die breking van die brood was ’n handeling deur die hoof van die huis of feesviering wanneer hy die seën oor die gebruik van die voedsel gevra het. Jesus het dit waarskynlik gereeld by die maaltye met sy dissipels gedoen (sien Matt 26:26 en Luk 24:30). Dit is ook deur hierdie handeling dat die Emmausgangers Hom herken het. Die Verklarende Bybel verklaar dat dit lyk of die nagmaal en gewone etes in die vroeë kerk nie duidelik geskei is nie. Die daaglikse etes sou waarskynlik ook ’n ‘nagmaalsbetekenis’ gehad het; dit is met ander woorde beleef as ’n herinnering aan die tafelgemeenskap met Jesus. Die sakramentele aard van hierdie gemeenskap was uiteraard onmiskenbaar.

 Die gemeente het voortgegaan met die viering van die herinnering aan hulle Meester se dood, as mense wat nie skaam was vir hulle eie verhouding tot Hom en afhanklikheid van Hom, Christus die gekruisigde, nie. Hulle kon sy kruisdood nie vergeet nie, maar het hierdie herdenking daarvan in stand gehou as ’n volgehoue praktyk omdat dit die instelling van Christus was wat aan die kerk deurgegee moes word vir die eeue wat sou volg.  Die nagmaal was van die begin van die lewe van die kerk af die liturgiese handeling wat die verhouding tussen Jesus en sy liggaam bevestig. Elke keer as hulle saam eet onthou hulle wat Jesus gedoen het. Jesus het brood gebreek en uitgedeel. Dit is my liggaam, dit is my bloed.

Volhardende gebed Voor die uitstorting van die Heilige Gees (die gawe wat die Vader belowe het), op wie die apostels gewag het (Luk 24:49), het hulle saam met ander gelowiges eensgesind volhard in die gebed (Hand 1:14).

Gebed in hierdie sin is ’n bewuste wisselwerking van gedagte en woord tussen God en die bidders en die bidders onderling. Dit is die kommunikasiestelsel deur die liefde gedryf wat die ganse funksionering van die Hoof en sy liggaam (1 Kor. 12:12- 31; Ef 4:15, 16) rig en beheer. Na die uitstorting van die Heilige Gees het voortdurende gebed die lewenswyse en uitstaande kenmerk van die Geesvervulde jong kerk geword. So belangrik is hierdie bedrywigheid geag dat Paulus in die eerste sendbrief wat hy aan ’n nuutgestigte gemeente geskryf het die opdrag kon gee: “Bid sonder ophou!” (1 Tess 5:17). Op hierdie wyse is die gebedskultuur van die eerste oomblikke af deel van die lewe van die kerk. Gedring deur die liefde vir die Here volg die gelowiges Hom na – altyd in gebedsgemeenskap met Hom sonder wie hulle niks kan doen nie (Joh. 15:5). Kan nie gelowige wees sonder gebed nie. Gemeente kan nie funksioneer sonder gebed nie.

 Gesonde gemeente In die Bybel is die Handelingegemeente kort na die uitstorting van die Heilige Gees waarskynlik ’n goeie voorbeeld van ’n groep mense wat geestelik gesond geleef het. Hulle lewenstyl was so aantreklik dat mense graag soos hulle wou geleef het. Clinton McKinley het in ’n preek oor Handelinge 2 met die titel "Getting W.E.L.L." die Engelse woord WELL as ’n akroniem gebruik om vier kritiese eienskappe van die eerste gemeente in Handelinge 2 uit te spel:
 · W– Worshipping – hulle het gereeld saamgekom om te aanbid.
 · E – Evangelizing – hulle leefstyl was aantreklik – ander mense wou ook só leef.
· L – Learning – hulle het God se Woord met daaglikse dissipline verorber.
 · L – Loving – hulle was liefdevol en het regtig omgegee vir mekaar en ander mense.


Gesonde kerke wat groei, vertoon vandag nog steeds dieselfde eienskappe. Om geestelik fiks en gesond te wees, het ons in die lewe ook hierdie dissiplines nodig – ons moet saam aanbid, saam uitreik na mense, saam leer en saam liefhê. Dit beteken dat God se Gees ons gees moet beheer....en dis hoe jy moet lyk...
0 Kommentaar: so far: