POSTED BY Steven Sass on 22:53 under
7 Junie 2015 Patensie
HANDELINGE 3:1-10 COMMITMENTS
 Hierdie is die verhaal van die kreupeles en die gesondes – en God wat ingryp in die lewe. ‘n Paar dinge staan uit in hierdie gebeure by die tempel... Almal hier betrokke is kerkmense en almal is doenig in en by die tempel. Daar is die groep wat die moeite doen om die kreupel man elke dag tempel toe te bring sodat hy by die kerk versorg kan word. Hulle laai hom af en dan gaan hulle huistoe en môre kom hulle weer terug om die arme man te help sodat hy darem nie vergaan van die ellendes nie. Die kreupele is ook betrokke by die kerk, want dis waar hy geld kry. Hy sit in die voorportaal en kyk in die oë van die klomp wat binne toe gaan. Die klomp wat vir hom ietsie gee is ook betrokke by die kerk. Dis hulle wat by hom verbyloop om binne in die tempel te aanbid. Die 2 dissipels is die betrokke middag ook in die tempel om te bid. Al die mense is by die kerk betrokke en almal verwag dat die Here vir hulle iets moet doen. Elkeen het sy eie verwagting maar elkeen doen sy ding op sy eie manier.

Die kreupel man doen niks nie. Hy is immers hulpeloos en kyk in ander mense se oë sodat hy kan oorleef. Sy soort was nog altyd daar en sal ook altyd in die kerk wees - die kreupeles wat wag. Dis diegene wat niks doen nie en bedel. As daar moeilikheid is en hulle trek swaar kyk hulle in die oë van ander gelowiges en vra dat iemand vir hulle moet kom bid sodat hulle uit die moeilikheid kan kom – ander moet hulle kom help. Self kan hulle nie iets doen nie, want sien ”ek is mos kreupel.” Hulle kreupel-wees kan enigiets wees: te besig, te siek, te slim, te dom, te liberaal, te konserwatief, te gesond, te seer... Hulle is in die kerk maar kom nie verder as die ingansportaal nie. O ja, hulle is hier in die Gamtoos, maar hulle weet nie hoe lyk die binnekant van die tempel nie. Al wat hulle sien is die ander mense wat die dinge doen, se oë. Hulle steek bak-hand uit om ook te kry

 Die tempelgangers is betrokke. Dis hulle wat die kreupel ou aan die gang hou, want dis hulle wat sorg dat hy vanaand iets het om te eet. Sommige is nie onwillig om te gee nie en doen dit graag. Ander wil nie meer gee nie, want die kreupele is elke dag daar om te bedel en nou raak dit ‟n gewoonte en ”as jy aanhou gee maak jy hom net sleg want dis maklik om te bedel.” Die tempelgangers is altyd teenwoordig – dis hulle wat die heeltyd aan die beweeg is. Die probleem is dat kreupeles nie gesond word waar hulle beweeg nie. Hulle stap van buite na die binnekant van die kerk, luister aandagtig en doen ook die nodige en stap ook weer uit. Maar behalwe vir ‟n paar aalmoese wat uitgedeel word, gebeur niks nie. Die arm man se helpers gaan huis toe. Dis hulle wat sorg dat die kreupele op die regte plek kom sodat hy die beste kan kry. Hulle sorg dat hy in die Gamtoos  sit waar die meeste mense in en uit die tempel beweeg. Hulle sorg dat die kreupele met die maksimum gevolge blootgestel word aan die kerk se mense, want dis hier waar hy die beste aalmoese gaan kry! Maar hulle kom ook nie verder as die ingangsportaal nie. Want as hulle hul werk klaar gedoen het, is hulle klaar en gaan huis toe en kom môre weer.

 Die kreupel man se helpers is ook springlewendig in ons gemeenskap. Hulle laai hulle kinders af sodat dié ‟n aalmoesie by die kerk se Sondagskool moet kry (en dit moet die 2 beste wees!), maar ry dan huistoe om die koerant te gaan lees. As daar by die tempel iets aangebied word wat die moeite werd is om te kom kyk, is hulle daar maar sodra dit verby is gaan hulle huistoe. As hulle van die ding gehou het, is dit vir hulle lekker – as hulle nie daarvan hou nie is hulle ongelukkig oor die tempelgangers wat nie genoeg doen om die kreupel man te versorg nie.

Petrus en Johannes het outoriteit. Hulle kyk nie in ander mense se oë nie, hulle sê: ”Kyk in my oë.” Hulle laai nie af en loop dan en sê hulle is net by die saak betrokke nie - hulle verander die geskiedenis. Hulle loop nie en bedel nie, maar deel Jesus uit. Hulle staan nie in die voorportaal rond nie, maar gaan die binnekant in om te bid. Hulle praat nie en reel nie dat die kreupele die erediens van ‟n bekende spreker moet bywoon nie; hulle organiseer nie ‟n spesiale biduur vir hom nie... Hulle doen die ding en gryp hom aan die hand en beveel hom om op te staan en te loop. Hulle is uitdagend in die geloof en hulle doen dit in die Naam van Jesus! Hulle glo werklik dat Jesus die verskil maak en dat hulle saam met Jesus ook die verskil kan maak. Die dissipels neem standpunt in vir God.

Dié klompie mense en dinge maak ongemaklike dinge by ons los. Want die evangelie is eintlik ’n baie eenvoudige saak: as jy aanspraak maak op die Naam van Jesus het jy outoriteit en as jy nie outoriteit het nie moet jy jouself vra of jy Jesus het. Die opsies is baie min: (1) jy sit hulpeloos in die voorportaal rond en wag dat ander jou moet ronddra; (2) of jy dra ander in die voorportaal rond; (3) of jy stap by die kreupeles verby en gee net ‟n aalmoesie... en niks gebeur nie. (4) Of jy is uitdagend in die geloof... en die Here laat dinge deur jou gebeur. Ø Laat jou dade vandag die skeidsregter hieroor wees: watter opsie is joune? Wat is die verskil tussen al dié mense en hul opsies? Die antwoord is net so eenvoudig: die een het ‟n commitment gemaak en die ander nie; die een klomp hang in die voorportaal rond en die ander groep het gesnap wat Jesus beteken. Let op dat die verskil nie soseer ”geloof” is nie, want almal maak daarop aanspraak dat hulle glo.

Almal met hul opsies in die kerk sê dat hulle in Jesus glo, maar dit help nie om net ‟n belydenis te maak dat jy ”hemel toe gaan” en sê dat Jesus jou Verlosser is nie. Want blote geloof red niemand nie (Heb 2:14vv). Maar ‟n commitment aan jou geloof in die Naam van Jesus verander sake drasties! Want God ontmoet jou op die vlak van jou commitment. As jou commitment die kreupele of die helpers van die kreupeles in die voorportaal is, stap jy inen-uit by die Here en loop en kyk vir ‘n ietsie om te bedel. Dit is ook die vlak waarop die Here jou gaan ontmoet en niks gaan in jou lewe werk nie. Jy gaan ‘n bedelstukkie hier en-daar kry en tevrede wees met krummels; jy gaan hier-en-daar iemand ronddra en dink dat jy groot werk vir die Here doen en ook jy is tevrede met krummels. Jy kan ‘n leeftyd so aangaan maar mettertyd gaan niks in jou lewe werk nie – jou verhoudings, jou gemeente, jou huwelik, jou lewe… gaan saai en vervelig word en mettertyd uitmekaar val. Want niks gebeur nie omdat God jou ontmoet op die vlak van jou commitment. Die aflaaiers, oogkykers, verbylopers en bedelaars mis alles! As jou commitment die een van die dissipels is, sal die Here jou op daardie vlak ontmoet en God sal dinge in jou lewe laat gebeur.

3 Ø Toets jouself: wat gebeur in jou lewe? Bedel jy of deel jy Jesus uit? Jy weet vandag presies wat die vlak van jou commitment aan die Here is want jou dade en jou lewe bevestig dit. Hoe word ‘n commitment gemaak? „n Paar dinge staan uit: 1. Geen commitment kan gemaak word voordat daar nie in ‟n verhouding met Jesus gestaan word nie. Soos met die dissipels moet jy eers ‟n ontmoeting met Jesus gehad het voordat jy ‟n commitment kan maak. Dit is die geloofsdeel van die toewyding aan die Here. Dit is die punt waar jy voor die lewende God kniel en bely dat Jesus die Verlosser uit die sonde is, dat Hy jou uit die sonde haal en dat jy in die Naam van Jesus meer as ‘n wenner is. Ø Ek weet dat ek gered is en niks sal my ooit weer uit sy hande ruk nie! Dit is die eerste commitment.

2. Maar dan kom die tweede commitment en dit beteken dat jou lewe moet verander. Dit is die praktiese deel van die toewyding aan die Here. Dan kan jy soos die dissipels sê: ”Kyk na my – ek het dit, ek kan die ding doen!” Omdat jy die Here Jesus gekies het, maak jy ‟n commitment om heilig te leef soos wat Hy dit van jou verwag om te doen. Ø Ek het gekies om dit te leef.

3. Nou kan jy groot dinge in die Naam van Jesus doen. Jy kan vir ander sê om op te staan en te loop. Jy hoef nie bang te wees dat jy dalk/gaan misluk nie, want jy is ”tot alles in staat deur Hom wat jou die krag gee” (Fil 4:13). Jy maak ‟n commitment om namens die Here dinge te doen en jy is nie langer tevrede met krummels nie! Jy kan kreupeles, aflaaiers en verbygangers aan die hand vat en vir hulle wys wat God in staat is om te doen. Ø Ek het gekies om dit te doen. Die impak hiervan is geweldig! Die vraag is: Wie kies jy om vandag te wees?


 Niemand vat die klomp in die voorportaal ernstig op nie. Maar iemand wat Jesus in die oë gekyk het en ander aan die hand gevat het, veroorsaak „n opskudding! Twee dinge is opvallend 1. Mense neem kennis hiervan (vers 9) en begin hieroor praat. En as mense begin praat, is daar ander mense wat ook ‘n commitment maak en dit begin in die ingangsportaal en van die een na die ander versprei dit dat die Here Jesus regtig werk en dat sy dissipels Hom vertrou! Dit sit ‘n ding aan die gang. Want mense is moeg vir krummels en soek honger na mense wat ‘n commitment maak sodat daar iets kan gebeur. 2. Commitments lei tot nuwe vuur – kreupeles staan op, aflaaiers en verbylopers sing en prys saam in die tempel. Want as jy in die oë van die Here Jesus gekyk het, kan jy nie meer stilstaan, niks doen en met krummels leef nie. Jy het ‟n nuwe verwagting van God en God ontmoet jou op daardie vlak. ‟n Vuur word deur die Here aangesteek wat in jou mond, stem, voete, geld, aalmoese... weerklank vind en en ‘n stroom van lof en krag word in jou losgemaak. 
0 Kommentaar: so far: