POSTED BY Steven Sass on 05:36 under
10 Mei 2015 Patensie
Markus 2:1-12
Gód vergewe sondes; daarom vra ons dit van Hóm Heidelbergse Katagismus 51
Dit wat die Here Jesus ons in die “Onse Vader” leer vra, is alles dinge wat ons nie self kan doen of kan regkry nie. Dis dinge wat Gód doen. En al skakel Hy ons partykeer in by wat Hy doen, is dit ten diepste Hý wat dit doen  − dis Hý wat sorg dat Sy Naam geheilig word − dis Hý wat Sy koninkryk laat kom− dis Hý wat ons Sy wil laat doen − dis Hý wat sorg dat ons brood het om te eet − en natuurlik is dit net Hy wat ons ons skuld/sondes/oortredings kan vergewe – iets wat in ’n sekere sin die heel grootste is wat met enige mens kan gebeur: dat jou sondes vergewe word!

Dis waaroor hierdie preek gaan, oor die feit dat Gód sondes vergewe en ons dit dus van Hóm moet vra. Ons gaan kyk - wat vergewing van sondes is - wie dit gee - dat ons dit dus van Hom moet vra.
1.            VERGEWING VAN SONDES Dis seker nie nodig om vir jou te sê wat sondes is nie. Dis al die verkeerde wat ons in ons lewens gedoen het en gepraat het en gedink het en gewens het en al die goeie dade en woorde en gedagtes en wense wat ons in ons lewens nagelaat het om te doen. En as jy wil weet wat die verkeerde is en wat die goeie is, dan gaan lees jy die Bybel, want die Here het dit daarin vir ons laat opskryf.

Sondes verwoes ’n mens se lewe - dit vat jou van God af weg - dit bring jou in die skuld by Hom - dit maak dat jy Sy straf verdien - dit sleep jou hel toe! Wat is vergewing van sondes dan? 

 Dis wanneer die verkeerde wat jy gedoen het en die goeie wat jy nagelaat het om te doen, nie meer teen jou gehou word nie. Dis wanneer jou skuld by God gekanselleer word. Dis wanneer jy die straf wat jy verdien, kwytgeskeld word. Dis wanneer jou sondes só van jou af weggevat word, dat dit tussen jou en God is asof jy nooit enige sonde gehad of gedoen het nie, en Hy jou dus as Sy kind behandel en jou vir ewig die rykdom van Sy liefde laat geniet. Dis seker die grootste wat met enige mens kan gebeur: dat jou sondes vergewe word.

Die ergste wat ooit met ’n mens kan gebeur, is dat jy die ewige straf van God in die hel sal moet dra. Dit wat jou dáárvan verlos, en jou in die plek daarvan die ewige heerlikheid gaan laat geniet – die vergewing van sondes – is dan die grootste wat met ’n mens kan gebeur.

Met dit wat Jesus vir hierdie verlamde man gedoen het, wýs Hy dit ook vir ons. Hierdie verlamde word na Jesus toe gebring, hy kom na Jesus toe, om liggaamlik gesond gemaak te word. Wat al klaar iets wonderliks sou wees: - om verlam te wees, ’n parapleeg of ’n kwadrupleeg – en gesond te word! - om iemand te wees wat permanent van ander se hulp en sorg afhanklik is – en skielik is jy fisies sterk en gesond en kan jy ’n normale lewe lei, dis iets onbeskryflik groot!

Maar wat doen Jesus? Voordat Hy enige iets aan hierdie man se fisiese gestremdheid doen, vergewe Hy hom sy sondes, gee Hy vir hom dit wat meer is en groter en belangriker as liggaamlike gesondheid: die vergewing van sondes, met alles wat daarmee saamgaan,  dat jou saak met God reggemaak is, dat jy Sy kind geword het, dat jy die ewige lewe kry. En deur dit eerste te doen, wys die Here Jesus dat vergewing van sondes groter en belangriker as liggaamlike gesondheid is. Dis die grootste weldaad denkbaar! En daarmee wys die Here Jesus sommer ook baie duidelik wie Hy is, want wie kan sondes vergewe…?

2.            WIE SONDES VERGEWE: Jesus wys hiermee dat Hy God is, want net God kan sondes vergewe. Hý’s die Een wie se wil en wet deur sondes oortree word en daarom is Hý die Een wat die reg het om te besluit wat van die skuld en die straf wat hierdie oortredings verdien, word.

Mense kan verkondig dat God sondes vergewe. Een mens kan byvoorbeeld vir ’n ander mens sê: As jy jou sondes bely, dan sal God jou vergewe, want God self het dit so gesê. Maar een mens kan nie vir ’n ander mens die sondes wat daardie een teen God gedoen het, vergewe nie. Net God kan dit doen. Daarom dat hierdie skrifgeleerdes, wat nie geglo het dat Jesus God ook is nie, gereken het dat Hy Godslasterlik praat toe Hy vir hierdie mens Sy sondes vergewe. In hulle oë was Hy maar net ’n mens, wat nou maak asof Hy God ook is! Maar dan wýs Jesus vir hulle dat Hy God ook is. En Hy doen dit deur iets te doen wat net God kan doen en wat hulle met hulle eie oë kon sien gebeur. Dis net God wat bloot met die krag van Sy woorde ’n verlamde mens onmiddelik gesond kan maak en dadelik só sterk dat hy self sy bed kan optel en daarmee huis toe loop.

Niemand kon hierna hieraan twyfel nie, want hulle het met hulle eie oë gesien hoe Jesus met Goddelike mag en gesag optree. Vergewing van sondes gebeur nie sigbaar nie, en daarom sou skeptiese mense kon sê: - as Jesus sê dat sy sondes vergewe is – hoe weet ons of dit regtig gebeur het? Maar daarom wys Jesus dan Sy goddelike mag deur iets wat getoets kan word: - as jy vir ’n verlamde man sê: Staan op, neem jou bed op en gaan na jou huis toe, dan gaan almal wat daar is, met hulle eie oë kan sien of dit gebeur of nie.

Hoe oortuig die Here Jesus mense dat Hy sondes kan vergewe? Deur vir hulle te wys dat Hy God is en dus sondes kan vergewe, want net God kan sondes vergewe. Die res van die Bybel bevestig dit dat Gód sondes vergewe. Dis God, in wie se hart daar liefde is, selfs vir mense wat teen Hom oortree het, en wat ’n verlossingsplan maak, en wat dit uitvoer – dink aan Christus aan die kruis, en wat ons hier binne oortuig dat dit vir ons ook bedoel is en met ons ook gebeur: dat ons sondes vergewe word – met álles wat dit inhou… Gód vergewe sondes.

3.            DAT ONS DIT DUS VAN HOM MOET VRA: Die Here Jesus leer ons nie om allerhande dinge te doen waarmee ons die skuld, wat ons met ons sondes gemaak het, self moet probeer betaal nie. Hy gee nie vir ons ’n program van aksie wat ons moet volg om die straf wat ons verdien, vry te spring en weer in God se goeie boekies te kom nie. Hy leer ons bid daarvoor. Hy leer ons om te glo dat God se liefde so groot is dat jy net kan gaan vra, en Hy vergewe – álles, ál jou sondes, volledig; daar bly níks oor waarvoor jy nog eendag op een of ander manier sal moet boet nie.

Die Here Jesus leer ons met die Onse Vader om gereeld – daagliks – vir die vergewing van ons sondes te vra, sodat ons elke dag bewus sal bly van hierdie genade wat aan ons bewys is en wat ons as mense wat elke dag sondig, glad nie verdien nie. Dis vir ons geestelike belewenis van die Here se liefde nodig dat ons elke dag die sondes wat ons doen, bely en vergewing daarvoor vra. Sal ons hierdie vergewing kry? Wel, dis belówe vir elke kind van God, vir elke gelowige. Dis wat ons vanoggend ook gelees het: … toe Jesus hulle geloof sien, sê Hy vir die verlamde: Seun, jou sondes is jou vergewe!

Is ons gelowiges – regtig gelowiges? As jy is, sal jou veranderde lewe wys dat dit so is. En een baie belangrike faset van ’n veranderde lewe is dat jy dit ook regkry om mense wat teen jóú oortree het, te vergewe.


As ons eerlik vir God, wat tot in ons diepste binneste kan kyk, kan sê: soos ons ook ons skuldenaars vergewe, dan ís ons veranderde mense, nuutgemaakte mense, egte gelowiges – mense vir wie die vergewing van sondes bedoel is en gegee is… 
0 Kommentaar: so far: