17 Mei 2015 Patensie
Markus 8:34-38
‘Om Jesus te volg”
As deel van ons tema van die kwartaal waar ons saam fokus op
die werking van die Heilige Gees, het ons laasweek gekyk na die verhaal van Markus2 waar
Jesus die verlamde man genees het. Ons behandel ook hierdie selfde gedeelte met
die Bybelstudies en ons wyksbyeemkomste van hierdie kwartaal, en met al hierdie
geleenthede moet ek sê, doen ons nogal baie moeite met hierdie gedeelte, maar
herhaling is dalk juis wat ons nodig het, en volgehoue herhaling is juis ook
deel van die ‘taal’ van vanoggend se teks.
Ons het gesien, en
opnuut beleef hoedat Jesus dit ‘raakgesien het’ dat die vriende van die
verlamde man nie omgedraai het by die huis toe hulle daar aangekom het met hul
vriend op sy draagbaar, en hulle gesien het dat dit eintlik onmoontlik was om
tot by Jesus te kom, asgevolg van die samedromming van ‘n skare mense by die
ingang van die huis waar Jesus op daardie stadium was.
Hulle het nie tou
opgegooi nie en eeder aangehou planne maak, en het toe mos besluit dat hulle
hulle vriend op die dak sal optel en op so ‘n manier deur die dak tot by Jesus
te kom: ‘n ware storie van ‘aanhouer wen!’.
In hierdie gedeelte het ons iets ook beleef van wat dit dan van ons vra
om ook op hierdie manier (van nie tou opgooi nie) na Jesus toe te gaan...
Dit vra van ons dat ons in die eerste plek sal erken en
besef dat Jesus die antwoord op ons probleme is, en ons grootste probleem is
dat ons verlos moet word van ons sondes. Dis primêr, ons geestelike gesondheid....
en eers daarna...dalk enige ligaamlike
of fisiese probleem wat ons dalk sou
gehad het.
Die tweede dinge wat ons besef het, is dat ons nie in die
proses van om Jesus te nader, moet moedopgee as daar dinge oor ons pad kom wat
ons wil verhinder om fisies by Jesus uit te kom nie: Dat die hele ding van ‘aanhouer
wen’ ook ten diepste vir ons elkeen sal moet
waar wees.
In vanoggend se teksgedeelte kyk ons bietjie verder na wat
dit dan nou behels om Jesus te volg in ons alledaagse bestaan. Dit gaan hier
soos een kommentaar dit beskryf soos ‘n kinder-speletjie van “follow the leader”
dat jy netsoos ‘n kind die leier sal volg en dus oral sal gaan waar Hy gegaan
het sonder om te blik of te bloos of te aarsel.... want die leier was mos al
daar, het dit gedoen en netso moet ek ook! Dat ek dus alles moet doen wat Jesus
gedoen het!
Ja dit beteken veral ook dat ek my kruis gewillig sal moet
opneem om Jesus te volg. En hiermee is daar geen verwysing na die gesegdes wat
aan ons so bekend geword het soos ‘elke huis het sy kruis’ en waar ons dalk vir
mekaar sal sê: ‘ ja jong, om met hom/haar getroud te wees is nie maklik nie en
ek sal maar seker maar my kruis moet dra, of my kind is onhebbelik en het nie
maniere nie en ek sal maar seker my kruis moet dra, nie. Dit is glad nie wat
hierdie gedeelte wil sê nie, en dit het eintlik ‘n heel ander betekenis.
Dit gaan hieroor dat
jy sal afstand doen van jou eie (dikwels sondige begeertes), en jou eie
behoeftes...dinge waaraan ons so baie aan krampagtig vaskleef, soos ons
persoonlike gemak en gerief ens. Dat ons van hierdie ou lewe sal afstand doen,
en ons kruis gewillig sal opneem ( die afsterwe van ons ou lewens sal
aanmoedig), en in Jesus, ons leier, se
voetsproe sal volg.
In Jesus se tyd is Hy
veroordeel en het Hy nie as veroordeelde regtig ‘n keuse meer oorgehad toe Hy
Sy kruis gedra het nie, aangesien Hy daarmee Homself volkome onderwerp het aan
die Romeinse reg sodat Hy in ons elkeen se plek kon sterf. Maar nou kan ons elkeen
absoluut vrywillig ons kruis opneem, en sterf aan ons ou sondige self en leef
as volkome oorwinnaars in Hom!
Hoekom? Omdat Jesus dit van ons vereis.... sodat nie een van
ons ons ooit weer kan roem op ons eie krag en ons eie insigte nie maar eerder
onsself sal roem daarin dat ons besig is om vir Jesus te volg. Ons weet moes
goed dat Jesus ons antwoord is en dat ons elkeen soos die verlamde man ook
nodig het om by Jesus uit te kom. Daarom doen ons vrywilliglik afstand van ons
eie lewens, en neem ‘n nuwe lewe aan wat in diens is van die Here.
Dis duidelik dat hierdie hele ding van ‘om Jesus te volg’
nie net ‘n eenmalige iets is wat maar net eenkeer gebeur, en dan is dit nou
maar so tot in lengte van dae nie. Dis ‘n aanhoudende nimmereindige afsterwe
van die oue en begin met die nuwe. Elke dag vir die res van ons lewens.
Alhoewel dit elkeen van ons se eie persoonlike keuse is om
Jesus te volg, is dit ook nodig om te besef en te erken dat dit eintlik die
leiding van die Heilige Gees is wat ons in hierdie besluitneming help en ons
aanhou daartoe dring... Johannes 3:3 en 5 praat juis van die aanhoudende
wedergeboorte. Ek het oor hierdie verhaal van Jesus en Nikodemus ook al in 2010
gepreek... kan iemand nog daardie preek onthou? As julle nie kan nie, is dit te
verstane en daarom weereens versterk dit juis die punt: Ons eie insigte en
selfs ook ons eie verstandelike vermoëns en –prosesse kan ons net tot op ‘n
sekere en dikwels ook wankelrige punt bring, maar die Heilge Gees neem ons
verder, neem ons tot by Jesus.... Ek en jy moet net luister, en volg!
Die uiteinde is dat ons dan ‘n wonderlike en ‘n doelgerigte
lewe sal kan lei, wat sin maak, wat vreugde en vrede gee! As ons nie voluit
hiervoor lewe nie, en ons daarvoor skaam of wegskram daarvoor moet ons ook weet
dat die Here Jesus ook netso by Sy wederkoms vir ons sal skaam en vir ons sal
wegskram (Markus 8:38).
Pak dus vanoggend saam met my jou ou lewe voor die Here
uit... doen afstand van die dinge wat ‘n hindernis is tussen jou en die Here,
en as dit dan nie moontlik is om hierdie dinge te vernietig nie, vermy dit dan
eenvoudig soos wat die verlamde man se vriende die gedruis by die ingang na Jesus
se huis vermy het, en sorg dat jy saam met my by Jesus uitkom en Hom vir die
res van ons lewens sal volg, sal doen wat Hy van ons vra! En... sal gaan na
waartoe Hy ons stuur!
Post a Comment