POSTED BY Steven Sass on 20:12 under
                                                                  2 November 2014 Patensie
                                         GEESTELIKE GEBOORTEMERKE (Belydenisaflegging)
                                                                   Skrif: 1 Johannes 5: 6-13
Asemhaling/polsslag/oogrefleks/bloeddruk. Aan hierdie lewensfunksies weet jy met sekerheid dat iemand fisies lewe. Net so kan jy ook met sekerheid weet of jy geestelik lewe en of die Heilige Gees 'n werk in jou lewe gedoen het. Johannes gee in sy 1ste brief 'n hele aantal sulke lewensfunksies om sy lesers te help om met sekerheid te weet dat hulle gered is. Die woordjie “weet” kom meer as 20 keer voor. 'n Groot blydskap kom in 'n mens se hart wanneer jy ontdek dat die Here 'n egte werk in jou lewe gedoen het nie waar nie?

 Natuurlik berus 'n mens se sekerheid-van-redding altyd primêr op God se Woord/beloftes, nie op iets wat jy in jouself sien/voel nie. 'n Mens se innerlike is baie bedrieglik, jy kan nie waag om sekerheid dáárop te bou nie (Jer 17:9). Daarom laat Johannes geen twyfel wáárop egte sekerheid gebou word nie. Hy sê God het sélf 'n magtige beloftewoord gegee & daardie Woord is jou sekerheid wanneer jy jou vertroue daarop geplaas het (5:10).

Ons vertrou so maklik op mense se beloftes aan ons, hoeveel te meer behoort ons nie die Here se belofte te glo nie? (v9). En wat presies is Sy belofte? Hy HET aan jou die ewige lewe gegee en dit is in Jesus Christus. Nie, Hy WIL dit gee, nie. Hy HET dit gegee. Jou redding is op die kruis gegéé. Wanneer jy persoonlik dáárop vertrou, hét jy die Seun en wie die Seun het, hét die lewe! (v12). Maar wat maak jy daarmee?

 Jou vertroue rus daarop en op niks anders nie. Dit is wat “glo” beteken. Dit is waarvan hierdie jongmense vanoggend kom getuig. Maar let nou baie mooi op vers 10: Wie (op hierdie wyse) in die Seun glo, besit die getuienis in sy/haar hart. Wanneer 'n mens se vertroue op Christus se kruisredding & God se belofte rus, produseer dit outomaties sekere lewensfunksies in jou hart & lewe en wanneer jy dít eien/raaksien, versterk/onderstreep dit jou sekerheid. En natuurlik ook andersom: wanneer die lewensfunksies afwesig is, behoort jy te besef dat die Here nog nie 'n werk in jou hart gedoen het nie (al is jy dalk 'n godsdienstige mens) en behoort dit daartoe te lei dat jy onrustig raak en tot ware bekering kom.

Johannes se brief is deurspek met sulke lewensfunksies: "metertjies" met wysertjies wat beweeg indien die Gees werklik in jou woon. Die getuienis wat in die hart van die gelowige opgemerk kan word. Daarop fokus ons vanoggend: Waaruit kan jy weet dat 'n ware werk van die Here in jou hart plaasgevind het?

Die mens wat werklik wedergebore is, is in beginsel 'n “geestelike” mens. Jou eerste instink is altyd, altyd: Christus .. en Sy koninkryk. Lewensfunksies: 1) Baie sensitiewe gewete t.o.v. sonde > 3: 3-6 > Kan nie aanhou sondig nie. Dit beteken nie dat die kind vd Here nie sondig/kan sondig nie, maar die groot teken dat 'n persoon tot Lewe gekom het, is die sensitiwiteit vir sonde, die bekommernis wanneer daar sonde is, die stryd daarteen, die vlug na die kruis, die begeerte om die Here te wil behaag, die pogings om nie die Gees te bedroef nie, die strewe na 'n heilige lewe en om prakties te verbeter. 'n Mens wat vir 2 dae, 5 dae, 2 weke geen noemenswaardige besef van sonde, berou, gebrokenheid voor die Here & besliste stryd ervaar nie, behoort ernstig selfondersoek te doen óf die wedergeboorte enigsins plaasgevind het! Toets gerus jouself daaraan! Want onthou nou: elke mens is van nature: afgestomp, doen/maak/praat soos iets in jou hart opkom, jy regverdig jouself, jy gee ander die skuld. Jy het oor die algemeen nie eintlik slapelose nagte oor sonde nie.

Nou: jy kan egter nie 'n ware Christen wees en nog steeds wees soos die mens van nature is nie! Dis 'n rooi gevaarlig. Nee, waar die Gees inwoon, sal daar 'n definitiewe erns wees om aan God gehoorsaam te wees (2:3- As ons Sy gebooie gehoorsaam, weet ons dááraan dat ons Hom ken). Al misluk jy dikwels, haat jy dit. Lê selfs daaroor wakker. Want jy WIL so graag...! Wat 'n groot blydskap kom oor 'n mens wanneer jy besef dat jy waarlik verander is deur Gods genade. Jy is nou die teenoorgestelde van hoe 'n mens van nature is. Jy kyk met ander oë na sake. Dinge wat voorheen vir jou vanselfsprekend was, is nou afgryslike sonde en jy voer 'n stryd daarteen.

God se “geaardheid” is nou in jou (3:9) en die gewoonte om te sondig is verbreek. Jy het nie meer 'n lewenstyl van sonde nie. Dit is 'n groot teken dat die Here in jou lewe 'n genadewerk gedoen het.

2) Besondere aangetrokkenheid tot ander wedergebore mense > 5:1 > Spesifieke liefde vir almal wat dieselfde verandering ken as wat jy ken. Iemand wat 'n Geesgewerkte hartsverandering ondergaan het, voel 'n spesiale band met ander Christene, 'n verwantskap wat die gelowige nie met die ongereddene kán ervaar nie. Jy begin erg ongemaklik voel in die geselskap van vormgodsdienstiges wat oppervlakkig is. Voorheen was dit nooit só nie. Voorheen kon jy nie eintlik presies onderskei wie Christene is en wie nie. Almal wat goeterig geleef het en wat kerklik was, was maar in jou oë Christene.Kan jy sê dat jy 'n besondere band ervaar met ander wedergebore mense? Jy herken in iemand anders 'n passie vir die Here en jy ervaar 'n sterk band met hom/haar. Jy soek hulle doelbewus op.  Jy wil soveel moontlik deel wees van hul samekomste. Jy is absoluut siek indien jy jou op 'n Sondag in 'n sekere omstandigheid bevind waar jy nie iewers met ander gelowiges kan saamwees nie.Wanneer jy vir die eerste maal in Windhoek kom of in Londen of Parys, dink jy spontaan aan die kerk van die Here Jesus. Jy brand om dalk iewers 'n diens by te woon of kinders vd Here te ontmoet. 'n Onverklaarbare band. Die ongeredde mens se gedagtes is op totaal ánder dinge ingestel wanneer hulle vir die eerste keer op 'n plek kom. Jy sien, die éíntlike kentekens van wáre lewe, kom juis na vore in die alledaagse dinge waar ander jou nie sien of kontrolleer nie.

 O, wat 'n wonderlike kenteken van ware lewe – die spesiale band met ander gelowiges!

3) Drang om weg te vlug van die wêreld > 2: 15-17 > Voorheen was 99% van jou lewe in beslag geneem deur die tipiese dinge wat 'n ongeredde wêreldse mens so liefhet: die liefde vir die wêreld & wêreldse goed, begeertes, alles wat die oë sien & begeer. Johannes koppel ook daaraan in vv 18-20 die gees vd Antichris, m.a.w. leringe wat afwyk van die Waarheid van Christus. Die onwedergebore mens is maklik beïnvloedbaar deur dwaalleer/liberalisme, dit prikkel hom.Maar die ware kind v God, het die Waarheid lief en klou daaraan vas. Skrifgefundeerd en Bybelgeoriënteerd. Die mens in wie die Gees woon, ontwikkel 'n afstootlike allergie vir die wêreldse dinge en vlug liewer weg as om besoedel te word. Jy het net eenvoudig 'n nuwe onverklaarbare innerlike karakter/smaak/lewensuitkyk. Jou waardes is nou anders. Die wêreld aanbid sukses/welvaart/beroemdes. Jou fokus van aanbidding het verander. Jy weet die wêreld is van God verwyder en jy smag na sy redding. Hierdie allergie vir wêreldsheid & dwaalleer is 'n wonderlike teken dat 'n mens werklik uit die hemel weergebore is.

4) Begeerte om deur die Woord van God beheers te word > 2:3 > Jy vind by jouself die onophoudelike hunkering na die Woord. Altyd weer terug na die Woord. En daarby: 'n gewilligheid om jouself te onderwerp aan die heerskappy/absolute sê van die Woord. Sien 4:6- Wie God ken, luister gráág na die Woord van God.  'n Teken van egte lewe is  dat die Woord vir ons van lewensbelang is. Die Woord roer jou. Wanneer die Woord jou aanspreek, dan breek jy. Jy weet nie beter as die Bybel nie. Jy buig. Jy onderwerp jou. Dit is 'n teken van egte geestelike lewe indien 'n mens jouself onder die heerskappy van die Woord bevind. Die onwedergebore mens lees eerder storieboekies, spandeer ure aan TV sepies & allerlei oppervlakkighede. Die wêreldse gees is vir so 'n mens aantreklik, hy/sy vind aanklank daarby. En wanneer dit by die Woord kom sê hy: “Man, dit is hoe ék dit sien. Dit is wat ek wil doen.”
Persoonlike vraag: Is jou hart werklik siek en jou gemoed depressief wanneer omstandighede jou op 'n sekere dag weerhou van tyd met die Woord? Of kom jy byna nie eens agter dat dit gebeur het nie of is jy maar heel tevrede met 4 minute se Bybellees of dagstukkieboek lees? O, mag die Here deur Sy Gees jou & my oortuig.

 5) Bespeur die teenwoordigheid van die Heilige Gees in jou lewe > 4:13 > Deur die geloof wóón die Gees in die bekeerde mens (Rom 8:9). In kort: 'n Mens sien die teenwoordigheid van die Heilige Gees in jou lewe dáárin dat jy geestelik ingestel is – ook in jou privaatlewe waar niemand sien nie, want dit is jou ware/egte nuwe natuur. Jou hele lewensgerigtheid is op Christus en alles wat met Hom te make het. Wanneer jy net skrams iets op die radio hoor wat met die Evangelie te doen het, moet dit harder kom. Of jy spandeer eers tyd om te luister. Alles wat oor die Evangelieboodskap gaan, interesseer jou en trek onmiddelik jou aandag.

Johannes die Apostel het nou vyf metertjies voor ons neergesit. Die 5 wysertjies het - in elkeen van ons se geval - óf beweeg óf nie. Indien die Here reeds 'n werk van genade in jou & my lewe gedoen het, sál al 5 wysertjies beweeg en veroorsaak dit groot blydskap & sekerheid. Dít bely hierdie 5 jongmense vanoggend voor baie getuies. Daarvan getuig ook die nagmaal waardeur die Hére ons verseker dat Sy kruisverlossing 'n werklikheid is en dat dit vir ons op die naam bedoel is. Kom ons luister nou aandagtig na wat presies die belydenis van geloof-aflegging én die nagmaal presies beteken...

                                                                                                                                                                              
0 Kommentaar: so far: