POSTED BY Steven Sass on 05:32 under
9 November 2014 Patensie
Vreemde vouens?
Nehmeia 13 :23-31
In die laaste hoofstuk van die boek Nehemia word vertel dat dinge erg skeefgeloop het tydens die afwesiheid van Nehemia. Die priester Eljasib het ‘n kamer in die tempelkompleks vir Tobija ingerig; die Leviete en sangers moes hulle diens in die tempel staak omdat die mense nie hulle beloofde offergawes gebring het nie; die Sabbat is nie onderhou soos hulle plegtig belowe het nie en baie mans het met vreemde vouens getrou...

 So tree verval in op alle lewensterreine. Die inrigting van die kamer vir Tobija dui op politieke verval, die nie-onderhouding van die tempel en nie-gee van offergawes sowel as die nie-onderhouding van die Sabbat dui op godsdienstige verval. Die ondertrouery met mense uit ander volke dui op sosiale verval...en dit alles het baie ernstige godsdienstige implikasies.

In al die gevalle het hulle die plegtige onderneming wat hulle volgens hoofstuk 10 gemaak het, vergeet. Ons het in Nehemia 13:1-3 gelees dat hulle na die boek van Moses gelusiter het en op grond van wat hulle gelees het, opgetree het. Toe hulle besef dat hulle nie met Ammoniete of Moabiete mag trou nie, het hulle almal wat van gemengde herkoms was, van Israel afgeskei (Neh. 13:3) Tydens die verloop van ‘n relatief kort tyd wat Nehemia geneem het om terug te gaan om aan die koning verslag te doen en om vir ‘n tweede termyn aangstel te word as goewerneur, trou hulle alweer met vrouens van Asdod en met Ammonitiese en Moabitiese vrouens.

Nehemia moes tot sy skok ontdek dat van hulle kinders Asdods of ander tale praat...die kinders het die tale van hulle ma’s gepraat, hulle word opgevoed in die taal van hulle ma’s. Dit beteken dat hulle ook in die kultuur en godsdiens van hulle ma’s opgevoed is. Wat meer is, hierdie kinders kon nie eers Judees, die destydse vorm van Hebreeus, praat of verstaan nie. Dit beteken dan mos dat Hebreeus nie die husitaal was nie.

Die pa’s was afwesig in die opvoeding van die kinders, en dit het baie implikasies gehad. Dit het onder andere beteken dat die kinders nie die wet van Moses of selfs die Ou-Testamentiese boeke wat toe al bestaan het, kon lees of verstaan nie. Met ander woorde, hulle godsdienstige opvoeding het daaronder gely. Hulle is nie opgevoed as kinders van die Here nie.

En dit is waaroor dit hier gaan. Nie oor die huwelike met vrouens uit ander volke as sodanig nie, maar eerder oor die impikasies wat dit gehad het vir die opvoeding van die kinders en veral die godsdienstige opvoeding en die aanbidding van die Here. Daarom word daar verwys na Salomo en wat gebeur het as gevolg van sy sonde en hoe Israel tot ‘n val gekom het as gevolg van “vreemde vroue” en hulle invloed op koning Salomo. Nou vang die mense dieselfde dinge aan. Leer mense dan nooit uit die geskiedenis en die foute van ander nie?

Nou kan ons maklik redeneer dat huwelike tussen mense van verskillende volke en tale vandag nie meer gesien kan word soos in die tyd van Nehemia nie, maar dan mis ons die punt. Dit gaan nie net om huwelike nie, maar eerder die impikasies daarvan. Dit gaan eerder oor die opvoeding van kinders en die aanbidding van die Here! En dis mos nou aktueel!

Dit kan nie ontken word dat ons ‘n krisistyd ten opsigte van ons kinders se opvoeding beleef nie. Nou kan ons  maklik die skuld vir die agteruitgang in die opvoeding van ons kinders voor ander mense/die regering se deur gooi. Maar ons moet eerder die hand in eie boesem steek. Wat leer ons kinders by die huis? Wat sien hulle? Wat hoor hulle?Is ons pa’s betrokke by die opvoeding van ons kinders? Watter voorbeelde stel ons vir ons kinders? Mens wonder soms of ons kinders nog “die taal van die Bybel” verstaan? Of is die “taal” wat in ons huise geleer word die van haat en selfsug en materialisme en so aan?

Die ondertrouery het in Nehemia se tyd ook die gevolg gehad dat die hele gesin nie die Here aanbid het nie. Die feit dat die mans Hebreeus kon verstaan en derhalwe kon deel in die aanbidding van die Here, en nie die vrouens en kinders nie, kon selfs daartoe lei dat die gesin as geheel nie die Here aanbid het nie.

 Die vraag kan dan gevra word of dit ook nie vandag een van ons probleme is nie. Hoeveel gesinne aanbid die Here as gesinne? Hoe dikwels word kinders nie sommer net kerk toe gestuur nie? Of kom vrouens of mans alleen kerk toe? Meer nog: voed ons ons kinders so op dat  hulle die Here aanbid en dien en orals en altyd volgens Sy Woord leef?

Nehemia was so kwaad toe hy hierdie wanpraktyke sien en die gevolge daarvan besef, dat hy woedend geword het. “Ek het met die mense geraas, hulle vervloek, party van hulle geslaan, hulle hare uitgetrek en hulle voor God ‘n eed laat aflê: Julle sal julle dogters nie laat trou met die heidene se seuns en hulle  dogters nie met julle seuns of met julleself nie” (Neh. 13:25). Dat Nehemia hieroor baie sterk gevoel het, is duidelik. Hy het nooit vantevore so opgetree nie. Dis asof hy homself verloor in sy woede.

Drastiese stappe is geneem om toe te sien dat die opvoeding van kinders en die aanbidding van die Here suiwer gehou word..... Is ons bereid om dieselfde te doen?


Nehemia sluit af met ‘n gebed. Nehemia bid dat die Here sal onthou hoe die mense, insluitend die priesters en Leviete die aanbidding van die Here besoedel het. Hy bid ook dat die Here sal onthou dat die diens aan die Here herstel is. So eindig die boek met ‘n verwysing na verval maar met die klem op herstel. Daar was nou hoop omdat die verhouding met die Here herstel is....mag dit ook ons gebed wees: dat die Here sal onthou dat ons ook opgetree het in tye van agteruitgang en verval en dat ons bygedra het tot die heropbou van die gemeenskap en die aanbidding van die Here.
0 Kommentaar: so far: