POSTED BY Steven Sass on 06:23 under

Vrede
Luk.2:10-14
Fil.4:4-9
“Vrede laat ek vir julle na; My vrede gee Ek vir julle.” (Joh.14:27)
“En God wat vrede gee, sal by julle wees.” (Fil.4:9)
Jesus word genoem die “Vredevors, Immanuel, God met ons”. Die engele sing met Sy geboorte “vrede op aarde vir die mense in wie Hy ‘n welbehae het.” Ons lees op ‘n ander plek in die Bybel oor Jesus se verskyning aan Sy dissipels na Sy opstanding en twee keer groet Hy hulle met “Vrede vir julle.” Maar wat beteken hierdie “vrede”.


Die woordjie ‘Vrede’ het eintlik so baie dimensies.... Wat kom onmiddelik in jou gedagtes op as jy hierdie woordjie hoor? Dink jy dalk aan ‘n koerantopskrif wat lui: “Vrede in Midde-Ooste bewerkstellig” of dalk “Vredesamesprekings op Wes-Kaapse –plase gaan steeds voort”. Of dink jy eerder aan vrede in die lyn van “rus en vrede”, ‘n komende vakansie by die see of êrens in die natuur.

Die HAT het twee definisies van ‘vrede’, nl. “die afwesigheid van oorlog of konflik” of “ ‘n innerlike gevoel van rus en kalmte; algehele tevredenheid”.


William Wordsworth het eenkeer gesê dat vrede die kernkomponent van alle geluk is. Alle mense streef geluk na. Maar, om gelukkig te wees, moet die mens in vrede lewe. Vrede met jouself (innerlike vrede), met jou medemens, met die natuur (om in harmonie met die natuur te kan saamleef) en met die ‘godheid’.
In ‘n wêreld wat gestroop is van vrede, vol geweld, misdaad en oorloë, kom God in hierdie Adventstyd(Kerstyd) en raak te midde van die onstuimigheid in en om ons, ons harte aan met Sy vrede – vrede wat alle verstand te bowe gaan.
Nou kan die vraag gou by ons opkom: Is dit moontlik om waarlik God se vrede te ervaar en daarin te lewe te midde van ons en die wêreld se huidige omstandighede?
Jou omstandighede, sonde, vrees, onsekerheid, twyfel en talle ander emosies skep voortdurend konflik in die mens. God se vrede werk in ons harte om ‘n einde te maak aan hierdie negatiewe belewenisse sodat ons werklik vrede kan beleef. God se vrede het in die eerste plek nie met uiterlike omstandighede te doen nie – dit gaan hier oor jou verhouding met God en jou houding teenoor die lewe vanuit jou verhouding met God.
Daarom kan ons Jesus se vrede nie in aardse woorde omskryf nie – dalk juis daarom dat Hy bevestig dat Sy vrede nie wêreldse vrede is nie (Joh.14:27).

God se vrede word slegs in verhouding met Jesus Christus bewerkstellig. Daarom dat Fil.4 dit duidelik maak dat ons alles wat ons pla,waaroor ons besorg is, in gebed aan God kan bekend maak en dat God se vrede, wat alle verstand te bowe gaan, oor ons harte en gedagtes die wag sal hou in Christus Jesus. Interessant, daar word nooit belowe dat ons omstandighede noodwendig gaan verander nie!
En dis die boodskap van Kersfees: van hoop en liefde in ‘n gebroke wêreld - van VREDE - van Christus wat ‘n verskil kom maak in mense se lewens.


Maar wat beteken dit vandag vir my en jou, en meer nog, wat kom vra dit van ons? Wat maak ons met hierdie vrede van die Here?
Eerstens dink ek moet elkeen van ons in hierdie Kersfeestyd tyd maak om eerlik en ernstig na te dink oor Jesus, oor ons verlossing, oor Kersfees en oor ons lewe. Oor die verskil wat Jesus in my lewe maak, of behoort te maak. Oor my eie idee en belewenis van Kersfees, wat natuurlik die hele tyd gebombardeer word met die wêreld se gekommersialiseerde en gesekulariseerde idees van Kersfees.

Om dankie te sê vir Jesus – dat Hy Homself verneder het (Fil.2) en aarde toe gekom het, al het Hy geweet wat vir Hom wag. Dat Hy ook vir my vrede gebring het – vrede met myself, met my medemens en die natuur, en met God.


Tweedens dink ek moet ons dit dan met iemand deel. Al is dit net deur naas die “Geseënde Kersfees”, ook iets te sê soos “Mag Jesus vandag ‘n verskil in jou lewe maak” of “Mag Jesus se vrede jou omhels op hierdie dag”. Kom ons deel die ware boodskap van hoop en vrede met ons kinders, met ons familie en met ons vriende. Maak tyd op Oukersaand om oor Jesus te gesels, saam met die feesvieringe, die groot eet en oopmaak van geskenke. Kom ons deel die ware boodskap van Kersfees met mekaar. Want dan sal ons ook deel hê aan die ware vrede en vreugde van die Kersgety.


En derdens dink ek moet ons as Christene, as kerk, as liggaam van Christus, deur fisiese dade draers wees van God se vrede en liefde. Om Jesus se hande en voete te wees hier op aarde. Om vreugde te bring waar daar droefheid is, om blydskap te bring waar daar hartseer is, om dié wat moedeloos is op te beur. Kom ons elkeen maak in hierdie weke voor Kersfees ‘n daadwerklike verskil in iemand se lewe. Maar kom ons maak ook vrede met die mense om ons! En nie aardse vrede wat gekoppel is aan voorwaardes en kontrakte nie – God se onvoorwaardelike vrede. Vra God om jou te wys in wie se lewe Hy hierdie week deur jou ‘n verskil wil maak. Hy sal jou wys.


Mag God ons elkeen hierdie Kersfees opnuut ontmoet en mag Sy vrede, vreugde en liefde ons inspireer tot diens aan Hom en aan mekaar.
Ek wil vnaoggend se boodksppie afsluit met die gebed van St. Franciskus van Assisi:

Here, maak my ‘n instrument van U vrede. Waar daar haat is, laat my liefde saai; waar daar onreg is, vergifnis; waar daar twyfel is, geloof; waar daar wanhoop is, hoop; waar daar duisternis is, lig; waar daar droefheid is, blydskap. O Goddelike Meester, gee dat ek nie soseer sal soek om getroos te word nie as om te troos; om verstaan te word nie as om te verstaan; om bemin te word nie as om lief te hê. Want dit is deur te gee dat ons ontvang; dit is deur te vergewe dat ons vergewe word; en dit is deur te sterwe dat ons tot die Ewige Lewe gebore word.
0 Kommentaar: so far: