POSTED BY Steven Sass on 20:53 under
26 Oktober 2014 Patensie
Agteruitgang vra kragtige optrede
Nehemia 13:10-14
As die kat weg is, is die muis baas. Ver van jou goed, naby jou skade. So lui die spreekwoorde. In hierdie spreekwoorde is groot waarde opgesluit. Is dit nie so dat as iemand weg is, ander sy goeie werk soms ongedaan maak nie? Agteruitgang en verval tree so maklik in. Hoe tragies dat daar gedurig toesig gehou moet word. Mense het nou eenmaal die geneigdheid om dinge na te laat of die wet te oortree as hulle nie dopgehou word nie. Dink maar net aan wat ons kinders al aangevang het in ons afwesigheid of wat ons self al aangevang het toe ons kinders was en ons ouers weg was of ons baas dalk weg was.

Nehemia was ook vir ‘n tyd lank afwesig. Hy moes teruggaan na die Persiese koning en was ‘n tyd lank daar voor hy toestemming gekry het om weer na Jerusalem te te gaan (Neh. 13:6-7). By sy aankoms het hy gevind dat dinge nie so goed gegaan het tydens sy afwesigheid nie. Hy vind uit dat die Leviete en sangers nie hulle aandeel aan onderhoud ontvang het nie (Neh. 13:10). Die Leviete en die sangers wat moes diens doen, was daarom gedwing om na hulle eie grond terug te gaan. Hulle het immers nie meer salarisse ontvang nie en moes maar self hulle eie potjies gaan krap om liggaam en siel aanmekaar te hou.

Hoe vinnig kan dinge nie agteruitgaan nie. As mens nie jou hand op dinge hou nie, val dit sommer gou-gou uitmekaar. As mens nie jou hand op jou tuin hou nie, vergaan die blomme en neem die onkruid oor. As mens nie jou huis gereeld onderhou nie, sal jy naderhand agterkom dat groot herstelwerk nodig is. As jy nie jou besigheid oppas en jou hand daaaraan hou nie, kan dit ten gronde gaan. Dit het baie al ervaar. Dit geld ook vir verhoudings....as jy nie aandag aan jou verhoudinge gee nie, vat dit nie lank voor dinge begin skeefloop nie. Huweliksmaats leef bymekaar verby en dan kan dinge lelik skeefloop en verbrokkel ‘n huwelik. Waar ouers nie tyd maak vir hulle kinders nie, raak die generasiegaping al groter en tree vervreemding in. Nou gebeur dit vandag nog, dat waar ‘n projek met sukses voltooi is, mense maklik agteroor sit en dink dat alles nou maar goed sal verloop. Helaas is dit nie die geval nie. Is dit nie wat ons ook in Openbaring lees oor die gemeente van Laodisense nie: dat hulle lou geword het. Hulle het nie meer met ywer en toewyding gewerk nie. Waar is die ywer en toewyding in ons dienswerk aan die Here en ons betrokkenheid by koninkrykswerk in ons gemeenskap?

Wat die agteruitgang in die tyd van Nehemia in ‘n ernstiger lig gestel het, is die feit dat hullle nie lank tevore nie plegtig belowe het om hulle bydraes te gee en om die tempel en die tempeldiens in stand te hou. Hulle het dit plegtig onderneem en met hulle handtekeninge bevestig. Hulle het selfs hulle onderneming afgesluit met die woorde: “Ons sal die huis van ons God nie verwaarloos nie” (Neh. 10:39). Nou doen hulle presies dit wat hulle onderneem het om nie te doen nie! En ons?

Nehemia het juis uitgevind dat die tempel verwaarloos was (Neh. 13:11). Dit was die gevolg van die swak bestuur en die afwesigheid van mense soos die Leviete en sangers wat die tempel in stand moes hou. Bestuur is ten diepste ook ‘n geloofsaksie. Die wyse waarop ons ons sake en huise bestuur, reflekteer ons verhouding met die Here. Is die agteruitgang in ons gemeenskap, die verval van morele standaarde, die gebrek aan respek en dissipline nie tekens van ons swak bestuur van ons huise, skole, kerke en gemeenskap nie? Laat ons nie maar God’s waters oor God’s akkers loop nie?

Nou is dit maklik om hierdie gedeelte letterlik toe te pas op ons situasie. Ons kan daarop wys dat elke gelowige die verantwoordelikheid het om ‘n bydrae te maak sodat die predikant betaal kan word. Dit is waar. Het ons nie almal ook onderneem om ons deel by te dra tot die opbou en instandhouding van ons kerk nie? Dit behels ook finansiële bydraes om die kerk aan die gang te hou. Die rekeninge en salarisse moet betaal word. Die kerk moet sy verpligtinge na buite nakom. Daartoe het elke lidmaat hom of haar mos verbind.

Dit gaan hier om meer as net dit. Hierdie is eintlik ook ‘n voorbeeld van agteruitgang en verval wat ook in ons gemeenskap na vore kom. Dit is egter simptomaties van dieper liggende geestesingesteldheid. Dit gaan mos in die geval van die Leviete daarom dat daar ‘n totale gebrek aan ondersteuning en hupverlening was. Dit was die gevolg van selfgesentreerdheid. Eie belange het het voorp gestaan en die lot van ander het hulle nie veel geskeel nie. Dit is juis presies wat tans daartoe lei dat ons gemeenskap agteruitgaan en verval. Is dit nie waaraan ons ook skuldig is nie? As ons werklik luister na die eis wat Jesus gestel het,naamlik dat ons ons naaste moet liefhê soos onsself, sal dit nie die geval wees nie. Dra ons mekaar se laste op die hart? Ondersteun ons mekaar? Help ons mekaar?

Nehemia, het onmiddelik opgetree. Hy het die Leviete opgesoek en teruggebring. Dit kon nie ‘n maklike of aangename taak gewees het nie. Baie het seker vir hom gesê dat hulle nie sal terugkom nie omdat hulle nie verseker is van ‘n inkomste nie, of dat hulle verwerp is en nie kans sien om weer te begin nie. ... op die ou ent het woorde gewek maar voorbeelde gestrek. Nehemia se optrede en inisiatief lei daartoe dat almal weer hulle verantwoordelikhede nakom en bydraes maak....

Spoedige optrede is noodsaaklik. Let op dat Nehemia hier stilweg en beslis optree, maar dat hier nie sprake is van groot projekte of radikale optrede nie. So is dit dikwels nie nodig dat ons ook radikale stappe moet neem of dinge aan die groot klok moet hang nie. Ons moet net beslis optree en dit wat verkeerd loop, regtel en maatreëls tref dat dit nie weer sal gebeur nie.


Hierdie gedeelte sluit af met die gebed van Nehemia: “Onthou tog wat ek gedoen het my God! Moet tog nie dat my liefdesdade wat ek vir die huis van my God en vir Sy diens gedoen het, vergeet raak nie”. (Neh. 13:14). Kan ons ook bid dat die Here ons liefdesdade nie sal vergeet nie? Of het ons nie sulke goed nie? 
0 Kommentaar: so far: