POSTED BY Steven Sass on 06:04 under
19 Oktober 2014 Patensie
Onderneem plegtig om as kind van God te leef
Nehemia 9:38-10:39
Die heropbou van die gemeenskap kan nie op enkele vlakke geskied nie. Dit is eintlik ‘n allesomvattende taak wat al die fasette van die lewe insluit. Die heropbou van die gemeenskap is ook nie die taak van slegs enkeles nie, maar almal behoort daarby betrokke te wees. Die heropbou van die gemeenskap is ook nie ‘n taak wat ligtelik opgeneem kan word nie. Dit vra dat elkeen sy of haar verantwoordelikheid sal besef en sal onderneem om aktief betrokke te wees.

Die Judeërs wat uit ballingskap teruggekeer het na Juda, moes hulle gemeenskap van die grond af herbou. Dit het ingelsuit dat hulle vir hulle huise moes bou, landerye en wingerde moes aanlê of besighede begin en die stad moes herbou en beveilig. Hulle moes ook die tempel herbou en die kultus, die gesamentlike aanbiddding van die Here herstel. Dit was ‘n moeilike taak wat baie van hulle gevra het. Almal was daarby betrokke, en elkeen moes eenvoudig sy deel bydra.

Die omvattende taak is nie ligtelik opgeneem nie. Ons lees dat hulle ‘n skriftelike onderneming aangegaan het en dat hulle hierdie onderneming persoonlik onderteken het. Hulle het hulself dus verbind tot die heropbou van die gemeenskap. Opvallend is dat hierdie onderneming juis redelik na aan die einde van die boek vermeld word, nadat die tempel en die stadsmuur herbou is en die fisiese heropbouproses afgehandel is, verbind hulle hulself tot die deurlopende instandhouding van die gemeenskap. Die heropbouproses eindig nie as die heropboutake afgehandel is nie. Dan gaan die geestelike heropbouproses voort. Nou is die gevaar dat mens na die fisiese heropbouproses kan terugsit en dink dat alles nou afgehandel is. Dit gebeur al te dikwels.

Waartoe het die gelowiges hulself verbind? Hier word ‘n hele aantal sake genoem. Hulle onderneem om nie hulle kinders met heidene te laat trou nie, om die Sabbat en die Sabbatsjaar te onderhou en om elkeen jaarliks vier gram goud, die eersteling van alles, hulle tiendes en offergawes te gee. Nou wat beteken dit om nie hulle kinders met heidene te laat trou nie? (Neh. 10:30). Ons moet onthou dat die meeste huwelike destyds gesluit is na onderhandelinge tussen die ouers van die bruidegom en die ouers van die bruid. Dit was die taak van die ouers van die bruidegom om toe te sien dat hulle seuns met iemand trou wat na aan die familie was, verkieslik iemand binne dieselfde stam. Dit was noodsaaklik om die familiebesittings in die familie te hou, om die stam se relatiewe sterkte te behou en selfs uit te bou en veral om die godsdiens suiwer te hou. Hierdie onderneming het dan nie soseer te doen met volksuiweriheid nie, maar eerder met godsdienssuiwerheid.

Hulle onderneem verder om die Sabbatdag te onderhou deur selfs niks op die Sabbatdag van heidene te koop nie(Neh.10:31). Tydens die ballingskap was die onderhouding van die Sabbat die belangrikste uitwendige teken van hulle geloof. Toe kon hulle nie meer die Here in die tempel aanbid nie, hulle kon ook nie offers aan die Here bring nie. Die onderhouding van die Sabbat het toe, saam met die besnydenis, die uitstaande kenmerk van die lewe van gelowiges geword. Hieraan kon hulle onderskei word van ander mense. Noudat hulle terug is en weer in die tempel kon feesvier en offers bring, was daar sommige mense wat gedink het die onderhouding van die Sabbat was nie meer so belangrik nie. Terselfdertyd het ander mense ook saam met hulle in die land gewoon wat ander gode aanbid het, en hulle het byvoorbeeld nie die Sabbat onderhou nie. Gevolglik het hulle onder andere op die Sabbat handel gedryf. Hulle kon nie verbied word om dit te doen nie, en nou was die gevaar dat die Jode ook kon begin om op die Sabbat handel te dryf om die nie-Jode se besighede op die Sabbat te ondersteun. Deur dit te doen, sou hulle dan ‘n belangrike kenmerk van hulle godsdiensbeoefening ongedaan maak.

Hulle onderneem verder om die sabbatsjaar te onderhou deur elke sewende jaar die lande braak te laat lê en alle skulde vry te skeld (Neh. 10:31). Sou dit nie fantasties gewees het as ons elke sewende jaar vrygestel kon word van ons werk en boonop ons skuld nie? Maar dis nie waaroor dit gaan nie. In daardie tyd was die onderhouding van die Sabbat en ook die sabbatsjaar kenmerke van hulle geloof wat hulle onderskei het van die ander godsdienste. Op die unieke wyse het hulle deur hulle lewenswyse te kenne gegee dat hulle die Here aanbid en dien. Hulle onderneem daarom plegtig om so te leef dat almal kan sien dat hulle die Here aanbid en dien.

Dit is waartoe hierdie gedeelte van die Woord van die Here ons oproep. Leef so dat ander kan sien dat ons die Here aanbid en dien? Ons leef immers ook in ‘n land waar daar mense is wat ander godsdiesnte aanhang. Die vraag kom dan: waaraan kan die ander inwoners van die land en mense uit ander lande sien dat ons die Here aanbid en dien? Nou praat ons nie van kerkgeboue nie, maar van lewenswyses wat ons onderskei van die nie-gelowiges. In die lig van die groot gebod en Jesus se herhaalde beklemtoning van die uitlewing van liefde as teken van ons geloof, moet ons vra of ons plegtig onderneem om elke dag in liefde te leef en dus so te leef dat almal wat met ons in aanraking kom, kan sien dat die liefde van Jesus uit ons lewenswyses straal.

Onder leiding van Nehemia het die gelowiges verder onderneem om alles in hulle vermoë te doen en sorg te dra dat die huis van hulle God nie verwaarloos sou word nie. Dit beteken  dan dat hulle sou toesien dat die gebou wat hulle pas voltooi het, in stand gehou sou word. Dit gaan egter ook om meer as net die fisiese gebou... dit gaan ook en  miskien juis om die instandhouding van die aanbidding van die Here. Hulle onderneem plegtig om so te leef en sodanig op te tree dat die aanbidding van die Here kan voortgaan...hiervoor sou hulle opofferinge moes maak wat hulle aan hulle eie sake sou voel.


Nou moet ons nie gaan eis dat elkeen soos die Israeliete van ouds elkeen vier gram goud en hout en al die eerstelinge en tiendes en offergawes moet bring om die kerk, die eredienste en al die aktiwiteite van die kerk in stand te hou nie. Waartoe hierdie gedeelte ons wel oproep, is dat elkeen van ons, elke gelowige, plegtig sal  onderneem dat ons die huis van God nie sal verwaarloos nie, dat ons die aanbiddding van die Here nie sal verwaarloos nie, dat ons die diens aan die Here nie gering sal skat nie, dat ons elke dag so sal leef en sodanige opofferinge sal maak dat almal kan sien en weet dat ons die Here dien. Dit kan behels  dat ons op ander maniere opofferinge sal maak, soos byvoorbeeld om van ons tyd af te staan om betrokke te wees by allerhande dinge wat die Here vir jou deur Sy Gees ookal vra....Dien die Here met oorgawe en op alle lewensterreine. Nehemia 10 roep elke gelowige op om erns te maak met ons aanbiddding van die Here!
0 Kommentaar: so far: