5 Oktober 2014 patensie
Luister na die Woord van die Here en
vier Fees!
Nehemia 7:73-8:13
Die samekoms
van gelowiges het nog altyd ‘n sentrale rol in die lewe van gelowiges gespeel.
Dit is so dat die mens ‘n sosiale wese is. Mense soek mekaar op en wil in
groepsverband leef. Ons sien dit mos sterk by ons kinders wat net nie sonder
hulle maatjies wil wees nie. Jongmense soek lewensmaats. Namate mens ouer word,
word die samesyn met familie en vriende ook al hoe belangriker. Dit is ‘n
natuurlike verskynsel dat mense in groepsverband wil leef. Dit is daarom voor
die hand liggend dat gelowiges ook die begeerte het om saam met ander gelowiges
te wees.
Dit behoort
in die samekoms van gelowiges egter nie alleen te gaan om die saamwees nie,
maar die doel van die saamwees behoort te sentreer om die aanbidding van die
Here en die luister na Sy Woord.
In hierdie
gedeeltes lees ons in die eerste plek dat almal wat uit ballingskap teruggekeer
het hulle gevestig het in die stede waar hulle vandaan gekom het. Almal keer
dus terug na die plek van herkoms. Dan word dit genoem dat Israeliete hulle
oral in die land gevestig het. Oral in die stede was Israeliete wat teruggekeer
het na hul vaderland. Dit beteken dan ook dat hulle oor die hele land versprei
was. Ons lees egter nie van enige vorm van gesamentlike organisasie van hierdie
teruggekeerde ballinge nie, en die vraag kom dan: hoe gaan hulle hulself as
groep oragniseer?
In Nehemia
6:6-7 lees ons dat Sanballat beweer dat daar ‘n gerug was dat Nehemia homself
as koning sou wou laat uitroep. Dit beteken dat die vyande van Israel gevrees
het dat die Judeërs ‘n politieke staat wou stig en so die gesag van die
Persiese Ryk verwerp en daardeur onrus en onstabilitiet in die ou Nabye Ooste
sou kom. Gaan die Jode nou weer probeer om ‘n nasionale eenheid te vorm en die
ou Dawidsryk en koninkryk probeer oprig? Dit is hierop dat Nehemia 8:1-13 ‘n
duidelike antwoord gee. “Die hele volk het soos een man bymekaargekom op die
plein voor die Waterpoort en vir Esra die Skrifgeleerde gevra om die wetboek
van Moses waarin die bevele van die Here aan Israel opgeteken is, te bring.”
(Neh. 8:2).
Opvallend dat ons nie hier lees dat die hele
volk opgeroep is om bymekaar te kom nie. Ons lees nie van ‘n bevel of versoek
van die kant van Nehemia of Esra of die leiers nie. Dit word as ‘n spontane
byeenkoms beskryf. Dit was ‘n volksbesluit. Leer ons nie hieruit dat daar nie aldag
gewag moet word dat die leiers die besluite moet neem nie? Die gemeenskap moet spontaan
self na vore kom in sake wat hulle na aan die hart lê.
Die samekoms
rig ‘n duidelike versoek, naamlik dat Esra die wetboek van die Here moet bring.
Die doel van die samekoms is dan baie duidelik.... hulle het nie politieke
motiewe gehad, of hulle wou nie in opstand kom nie en hulle wou ook nie kla oor
allerhande dinge nie, nee hulle kom almal saam omdat hulle na die wetboek van
Moses wou luister....
Hierdie
begeerte hang saam met die feit dat baie min mense destyds kon lees en skryf,
heel moontlik kon minder as 5% van die bevolking lees of skryf, so die oorgrote
meerderheid kon dus nie self die wetboek lees nie. Die begeerte was ook dieper...hulle
weet dat hulle die gemeenskap moes herbou, nou is die fisiese heropbouproses
afgehandel, die tempel, en die stadsmure en huise is herbou en die landerye en
die wingerde is aangelê...en nou moet hulle die gemeenskapslewe herbou. Wat
moet die karakter en norme, die basis van die gemeenskap wees? Hulle vra dan
dat Esra die wetboek van Moses waarin die bevele van die Here aan Israeel opgeteken
is, aan hulle voorhou. Dit is baie duidelik: hulle wil die gemeenskap heropbou
op grond van die bevele van die Here aan Israel.
Esra doen
wat gevra is, en hy het daaruit voorgelees op die plein voor die Waterpoort van
ligdag af tot die middel van die dag ten aanhore van almal... die aandag van
die hele gemeente was by die wetboek”(Neh. 8:4)...dit was ‘n baie lang
diens...wat hulle met toewyding bygewoon het! Hulle is nie net daar nie, maar
hulle gee aandag want dis vir hulle ‘n saak van groot erns.
Ons lees
hier dat die gemeente verstaan het. Daar word nogal dikwels hier na die woord
verstaan verwys. Die gemeente luister met aandag. Hulle hoor en begryp waaroor
dit gaan. Hulle reageer dan ook daarop. “Die hele gemeente het gehuil by die
aanhoor van die wet” (Neh. 8:10).
Mense huil
om verskillende redes. Party uit blydskap, maar dit lyk nie of dit hier die
geval was nie. Party huil omdat die oomblik te groot is, ander huil uit
herhinnering aan die vorige geleenthede wat hulle lank gelede gehad het om na
die wet van die Here te luister. Sommige huil omdat hulle skuldig gevoel het...
Nehemia en
Esra sê dan: “Hierdie dag word gewy aan ons Here. Moenie bedroef wees nie; as
julle die Here met blydskap dien, sal Hy julle beskerm”(Neh.8:11). Die Leviete
het die woorde herhaal. Die gemeente het geluister en toe gaan eet, lekkkernye
uitgedeel en groot feesgevier (Neh. 8:13).
As ons byeenkomste tog maar so sou afloop! Dien die Here met blydskap.
Vir die
eerste lesers het hierdie gedeelte gesê dat hulle nie daarna moet streef om ‘n politieke
ryk daar te stel nie. Die riglyne van die gemeenskap van gelowiges wat hulle
moes opbou, is te vinde in die wetboek van die Here. Die kernsamevatting
daarvan is dat die Here met blydskap gedien moet word en dat die gelowiges dan
versker kan wees dat die Here hulle sal beskerm.
Dit is ook
die boodskap van hierdie gedeelte aan ons. Sal ons nie ‘n slag ons verdeeldheid
laat staan en geestlike eenheid nastreef nie? Moenie julle heil soek in
politieke of sosiale struktire nie. Luister met aandag na die betekenis van die
boodskap van die Bybel. Dien die Here met blydskap in die wete dat Hy ons
verlos het en ons as Sy kinders aangeneem het en ons sal beskerm!
Post a Comment