POSTED BY Steven Sass on 07:38 under
31 Augustus 2014 Patensie
Ag nee!
Nehemia 5:1-13
Bedreigings van buite kan ernstig en onstellend wees, maar bedreigings van binne is egter gewoonlik baie meer skokkend. So kan korrupsie en uitbuiting deur “ander” maklik veroordeel word. Ons almal lewer maklik ernstige kritiek op sodanige optrede. Maar wanneer korrupsie en uitbuiting in eie geledere voorkom, is dit ingrypender en ontlok dit nog hewiger emosionele reaksies.

In Nehemia 4 het ons gelees van bedreigings wat van buite gekom het. Sanballat en sy handlanger Tobija het die bouwerk bedreig met hulle smalende spotpraatjies en beplande aanval. In Nehemia 5 lees ons van ‘n bedreiging wat eintlik erger of ernstiger was.

Sekere mense en hulle vrouens het ‘n ernstige klag teen hulle Judese volksgenote ingebring. Wat het die klagtes behels? Hulle kla dat hulle nie kos het nie. Party moes vanweë hongersnood hulle land, wingerde en huise verpand om kos in die hande te kry. Ander moes geld leen om aan die koning belasting te betaal. Hulle moes hulle kinders as slawe verkoop vanweë die benarde finansiële posisie waarin hulle verkeer het. Uitbuiting was aan die orde van die dag. Armes is op groot skaal uitgebuit. Die rykes het van die moeilike omstandighede gebruik gemaak om hulle persoonlike posisie te verbeter ten koste van die armes.

Ons moet onthou dat die Jode pas teruggekeer het uit die Babiloniese ballingskap. Hulle moes van voor af begin het om ‘n lewe te maak, om huise te bou, landerye en wingerde aan te lê en ‘n bestaan te maak. Sommiges het bitter min gehad en het baie swaar gekry. Toe daar nog droogte en plae kom, het hulle gevou. Hulle kon net nie voorsien in hulle eie behoeftes nie, wat nog te sê belasting betaal. Die enigste uitkoms was om hulle landerye, wingerde en huise te verpand en selfs om hulle kinders as slawe te verkoop.

Kan ons ons in hulle situasie indink? Hulle kom terug in geloof en vol hoop op ‘n wonderlike nuwe lewe in hulle vaderland wat hulle baie lank gelede as ballinge moes verlaat. Nou lê al hulle drome aan skerwe. En dit deur omstandighede buite hulle beheer en die toedoen van medevolksgenote en geloofsgenote. Hulle eie mense, die wat week vir week saam met hulle aanbid en die Here geprys het, het die finale spyker in hulle doodskis geslaan!

Geen wonder dat Nehemia hewig ontsteld was toe hy dit gehoor het nie. Ons voel seker maar almal soos hy: kwaad vir die mense wat ander uitbuit, ander se teenspoed misbruik en hulle verryk ten koste van ander. Mens doen mos nie sulke dinge nie, maar laat ons nie te vinnig oordeel nie. Dit was nie net destyds dat sulke dinge gebeur het nie, want dit gebeur mos vandag nogsteeds. Daar is vandag talle mense wat vanweë omstandighede buite hulle beheer in die knyp is, sommige het hulle werk verloor, ander moes sien dat hulle besighede vou vanweë droogte of brande of ander rampe. Daar is so baie wat swaarkry. En dis ‘n tragiese werklikheid dat baie wat swaarkry, deur ander uitgebuit word...

Nehemia was hewig ontsteld . Hy oordink die saak deeglik en tree nie sommer onnadenkend of emosioneel of impulsief op nie. Hy roep ‘n volksvergadering byeen. Dit doen hy sodat hy die saak openlik kan hanteer. Nehemia sê dan: “Ons het ons Judese volksgenote wat aan heidene verkoop was, teruggekoop vir sover dit moontlik was” (Nehemia5:8). Hy sê eers wat hy en ander gelowiges gedoen het. Daarna spreek hy die uitbuiters direk en reguit aan: “Nou verkoop julle julle volksgenote en moet ons hulle ook uiteindelik terugkoop!” (5:8). Hy draai nie doekies om nie. Moet ons nie ook meer reguit en op die man af praat en die sonde wat teen ander mense gepleeg word, uitwys nie? Die kerk behoort die onreg wat gepleeg word netso hard aan te spreek. Dit beteken ook dat elke gelowige die onreg wat teen die ander gepleeg word, sonder huiwering en sonder om doekies om te draai aan te spreek.

Soos so dikwels gebeur, bly die beskuldigdes doodstil...Nehemia kon nie ‘n woord uit hulle uitkry nie. Toe al het die mense hulle swygreg gebruik. Toe al wou mense nie sommer hulle skuld erken nie...netsoos vandag nog.

Dis dan dat Nehemia sê “Dit is nie ‘n goeie ding wat julle besig is om te doen nie. Julle moet tog eerbied vir ons God hê in julle optrede en ons vyande, die heidene, minagting vir ons laat kry nie! (5:9). Wat Nehemia hier sê is verskriklik belangrik. Julle moet eerbied vir God hê in julle optrede teenoor ander mense. Wat ons teen ander mense doen reflekteer ons verhouding met die Here. Hoe kan ons sê dat ons God liefhet as ons nie ons naaste liefhet nie? Meer nog: is dit nie wat Jesus bedoel het toe Hy gesê het dat sover ons dit aan die geringste van ons medemens gedoen het, of nie gedoen het nie, ons dit ook aan Hom gedoen het, of nie gedoen het nie? Dit help net mooi niks om baie vroom in ‘n kerk te sit, terwyl ons ander mense uitbuit of selfs net ander in nood nie help nie maar in hulle nood die geleentheid sien om ons eie posisies te verbeter.

Nehemia stel ‘n duidelike eis: gee terug wat julle as pand gevat het en skeld hulle een persent van die geld wat hulle geskuld het, vry. Jy sien, godsdiens het praktiese implikasies. Godsdiens is nie iets waaroor mens maar net kan praat nie, maar dit is iets wat gelééf moet word, ook op materiële terrein. Jy moenie ander mense uitbuit nie, maar eerder die ekstra myl loop. Help die wat in nood is. As jy sê dat jy glo en as kind van God leef, moet jy bereid wees om op te offer om ander te help. Ja, om selfs self seer te kry om ander te help. Iemand het eenmaal gesê dat hulp wat jou nie seer maak nie, nie hulp is nie. Om ietsie af te knyp waarsonder jyself kan klaarkom, is geen gawe nie. Ware hulp is om te gee waarsonder jyself sal sukkel. Hulpverlening moet swaar aan eie lyf gevoel word.

Hoe gaan ons reageer? Die mense het na Nehemia geluister! Is ons bereid om hierdie ekstra myl te loop om ander wat in nood is, te help? Ek is nie seker of ons daartoe bereid sal wees nie...maar ons leer hier in die Bybel dat dit is wat gelowiges doen. Dra mekaar se laste en gee so uitvoering aan die Wet van God. Het God nie Sy eie Seun gestuur om ons skuld te betaal nie? Het Jesus Homself nie as offer aangebied en Sy lewe prysgegee ter wille van ons nie? As God ons so liefhet en so alles gee om ons skuld te vergewe en ons vry te spreek, behoort ons dan nie ook iets van so liefde te reflekteer in ons optrede teenoor ander nie? Behels liefde nie dat ons ook op materiële terrein bereid sal wees om mense in nood prakties by te staan en te gee sonder om terug te verwag nie?


 Behoort ons geloof nie ook sigbaar te wees in dit wat ons prakties doen vir mense in nood nie? Wat kan hiervan in ons lewens gesien word?
0 Kommentaar: so far: