POSTED BY Steven Sass on 06:11 under
21 September 2014 Patensie
Steur jou nie aan bangmaakstories nie!
Nehemia 6:1-14
Geen heropbouprojek was nog ooit sonder teenstand nie. Daar was helaas nog altyd mense wat ander se goeie werk in die wiele probeer ry. Bangmaakpraatjies, skinderstories en verspreiding van vals gerugte was nog altyd van die mees algemene maniere waarop mense die goeie werk van ander onmoontlik of ongedaan wil maak. Baie keer het diegene wat ander wil afkraak en hulle werk wil stopsit, bybedoelings of geheime agendas. Soms gaan mense so ver om ander om te koop om hulle vuil werk te doen om mense wat met hart en siel hulle aan opheffingswerk wy, sover te kry om die goeie werk te staak. As godsdiens dan nog as rookskerm gebruik word om die doel te bereik, word die pogings nog meer verwerplik.

Dit is waaroor dit ook in hierdie gedeelte gegaan het. Sanballat en Tobija het gehoor dat die mure van Jerusalem klaar gebou was en dat dit nêrens meer vervalle was nie. Die enigste deel van die heropbouprojek wat nog nie voltooi was nie, was die poortdeure wat nog nie gehang was nie. Dit was die belangrikste deel van die projek, en sonder poortdeure kon enigeen nog die stad ingaan en kon ‘n aanval van ‘n vyndelike mag nouliksafgeweer word. Dis soos om ‘n hoë muur om jou erf te bou sonder ‘n hek.

Sanballat en sy handlanger het besef dat dit hulle laaste kans was om die stad weerloos te maak en eintlik al die werk wat tot nou toe gedoen is, ongedaan te maak. Al die vroeëe pogins om die werk te stop, het misluk.

Sanballat en Tobija stuur nou ‘n boodskap na Nehemia en vra of hulle nie in Kefirim in die Onolaagte bymekaar kan kom nie. Hulle wou dus buite die stad op ‘n neutral plek bymekaar kom. Nehemia sou sy werk moes laat staan om die reis daarheen te onderneem. Hy besef dat die doel van die byeenkoms was om hom by te kom, en hy sien deur die planne. Dis nie ‘n vriendskapssamekoms nie.

 Hy laat hulle dan weet dat hy besig is met ‘n groot werk en dat hy nie kan kom nie. Hoekom sou die werk moes stilstaan sodat hy na hulle kon gaan?

Sanballat’hulle het net aan en aan gehou. Hulle kry nie end om hom te oorval met versoek na versoek nie. Nie minder as vier keer stuur hulle dieselfde boodskap, en elke keer kry hulle dieselfde antwoord. Nehemia is besig...hy is volkome toegewy aan sy werk. Hy kan nie kom nie en stel nie belang in die ontmoeting nie.

Is dit nie waarmee ons soms te doen kry nie? Mense kan so knaend aanhou om jou te pla, aanhou om klippe in jou pad te gooi, aanhou en aanhou om jou daartoe te kry dat jy jou werk los of verwaarloos of sommer handdoek ingooi. Mense vind fout en kritiseer en doen alles in hulle vermoë om jou goeie pogings ongedaan te maak. Die Bybel sê hier baie duidelik: moet jou nie steur aan hierdie aanhoudende praatjies nie. Hou aan met werk! Doen wat jy moet. Gaan aan met die koninkrykswerk wat jy doen!

Maar nog gee Sanballat-hulle nie op nie. Hulle verander egter nou net van tegniek. Die vyfde keer stuur hulle ‘n amptenaar met dieselfde boodskap, maar ook met ‘n onverseëlde brief, en in die brief word beweer dat ‘n gerug in die omloop is dat Nehemia ‘n opstand beplan en dat hyself koning wil word. Daarvoor sou hy blykbaar reeds voorbereidings getref het deur profete aan te stel wat hom as koning sou salf. Die feit dat die brief nie verseël was nie, dui daarop dat hulle wou hê dat dit deur baie gelees moes word en dat die gerug waarvan hulle praat so kon versprei. Hulle versin self die gerug en versprei dit dan ook self. Op die manier wou hulle Nehemia afpers en dwing om homself te kom verdedig.

Nehemia antwoord in geen onduidelike taal nie: “Niks van wat jy sê, is waar nie. Jy suig dit uit jou duim” (Neh. 6:8). Uit dit wat ons alreeds in die vorige hoofstukke gelees het, blyk dit dat die aantygings teen Nehemia aan die belaglike gegrens het. Hy het selfs al die jare sonder salaris gewerk. Nooit het hy homself op die voorgrond gedwing nie. Trouens, hy was altyd besonder beskeie oor sy werk en sy rol in die gemeenskap. Weer sien hy deur hulle planne. Hulle wil  dat die werk tot stilstand moet kom.

Hoe belaglik kan skinderstories nie wees nie. Ons ken die spreekwoord wat lui dat waar daar ‘n rokie trek, daar ‘n vuurtjie is. En dan gebruik ons dit as verskoning om ons ore uit te leen vir skinderstories. Skindderstories is uit die duimgesuigde stories, en dis van alle waarheid ontbloot. Tog is dit so dat meer mense se lewens al verwoes is daardeur as deur gewere. Die ergste van alles is dat dit baie keer nie die Sanballats, die vyande van die kerk, is wat hulle hieraan skuldig maak nie, maar kerkmense. So word pogings aangewend om die goeie werk wat ander doen tot stilstand te bring. Hoe baie goeie projekte is nie al gestaak nie omdat mense beskinder is en hulle dan maar die handdoek ingooi.

Nehemia stel hier weer die voorbeeld. Steur jou nie aan bangmaakpraatjies nie. Leen jou ore nie uit vir skinderstories nie. Gaan aan met jou werk. Doen wat jy moet om jou gemeenskap weer op te bou. Sit skouer aan die wiel en bly betrokke by die heropbou van die mure, die norme van ons gemeenskap. Werk onverpoosd om alles in jou vermoë te doen om veral in jou gemeenskap aan te spreek. Wees betrokke by misdaadbekamping, gevangenebedienning, opheffingsprogramme, jeugprogramme, voorkoming van drank en dwelmisbruik, voorkoming van vigs en so aan. Bou die mure van Jerusalem en moet jou nie laat afsit deur ongegronde praatjies nie.

Nog gooi Sanballat nie tou op nie. Hierdie keer koop hy Semaja om om Nehemia in ‘n lokval te lei. Ja omkopery is ‘n euwel wat byna so oud is soos die mensdom is.  Semaja sluit homself in sy huis toe. Hy is ‘n regte lafaard. Geen wonder dat hy die ideale omkoopteiken was nie. Mense wat omgekoop word, het mos gewoonlik maar een of ander ernstige swakheid in hulle persoonlikheid. Wat Semaja se optrede selfs meer laakbaar maak, is dat  hy nog ewe vroom vir Nehemia sê: “Kom ons ontmoet mekaar in die huis van God, binne in die tempel, en laat ons dan die deure van die tempel sluit, want daar kom mense om jou dood te maak, hulle kom vannag om jou dood te maak (Neh. 6:10).

Dis laakbaar want hy wil nog die tempel gebruik as plek waar Nehemia om die lewe gebring sou word. Nog meer laakbaar is die feit dat hy hier as profeet voorgehou word! Sy woorde word in die vorm van ‘n gedig aangebied, een van die kenmerke van profetiese uitsprake van daardie tyd. So onder die skyn van godsdiens word gepoog om Nehemia te laat afsien van die werk waartoe die Here hom geroep het! In sy slotgebed verwys Nehemia dan ook na Noadja en die ander profete wat hom wou bangmaak.

Mens kan nog verstaan dat Sanballat en sy handlangers Nehemia wou laat afsien van die heropbouprojek, maar dat daar profete was wat dit ook gedoen het, is onderstaanbaar. Hoe kan kerkleiers tog so dom wees. Hoe verskriklik is dit as die kerk en kerkleiers en kerksmense onder die dekmantel van godsdiens eie belange wil bevorder en eie gesag en mag en eer nastreef. Omkoopgeskenke aanvaar, ampsdraers navolg en die regering gedienstig napraat...dan verloor die profete hulle profetiese taak. Hoe tragies dat dit vandag nog voorkom.

Onverskrokke antwoord Nehemia dat hy nie sal vlug of wegkruip nie. Hy het geweet dat dit wat Semaja gesê het nie die waarheid is nie en dat ook hy ‘n verskuilde agenda gehad het. Dis asof Nehemia nie eers genoeg tyd gehad het om Semaja se valsheid uit te wys en met hom in gesprek te tree hieroor nie. Hy sê sommer net baie kort en duidelik dat hy dit nie sal doen nie. Dit help nie om met mense wat godsdiens as dekmantel gebruik te redeneer nie. Moet jou nie deur hulle laat afsit nie. Gaan aan met jou werk...

Die Woord van die Here leer ons in Nehemia 6:1-14 dat gelowiges teenstand kan verwag. Dit nie net eenmaal nie, maar herhaaldelik. Die teenstand kan verskillende vorme aaneem. Dit kan ons seermaak en bangmaak. Elke gelowige word opgeroep om te volhard in die roeping waartoe die Here jou geroep het. Elke gelowige moet betrokke wees by die heropbou van die mure, by die heropbou van ons gemeenskap. Dit kan op so baie maniere en terreine gedoen word. Elke gelowige sal weet wat sy of haar roeping in die verband is en waar die Here ons talente wil inspan om te bou en nie net aan die heropbou van ons gemeenskap nie, maar daardeur juis aan die heropbou van die koninkryk van God!


Elke gelowige word dan vanoggend opgeroep om volhardend aan te hou werk. Moenie ophou nie, al is die teenstand ook hoe groot. Hou aan werk met die bede van Nehemia 6:9 voortdurend op die lippe: “Sterk tog my hande, o God!”
0 Kommentaar: so far: