POSTED BY Steven Sass on 20:48 under
10 Augustus 2014 Patensie
Nehemia 3
Wat die 10 poort vir jou en my beteken!
Kan dit wees dat die planne van die Here, en hoe Hy dit destyds aan Nehemia gegee het om  Jerusalem te herbou ook vir jou en my ingesluit het. Dat God eintlik toe al ook aan ons, aan jou en my gedink het! Hoe moet ’n mens dit verstaan?

Wanneer ’n mens Nehemia 3 van naderby gaan bekyk, maak jy die ontdekking dat die 10 poorte in ou-Jerusalem se mure, ’n prentjiesbeeld is van die kernmomente van die Here God se werk in elke gelowige se lewe.

 Dié poorte was nie sommer maar net gewone stadspoorte soos wat enige ander stad in daardie tyd gehad het nie. Dit was só deur die Here gegee en daarom – nadat die volk uit die ballingskap na Jerusalem teruggekeer het – moes die poorte weer herstel word soos dit voorheen was. Dit was wat Nehemia gedoen het. Maar, wanneer ons na hierdie 10 poorte gaan kyk binne die raamwerk van die hele Bybel, sien ’n mens dat dit ’n wonderlike tekening is van die manier waarop die Here in ’n gelowige se lewe werk – deur alle eeue. Die poorte vorm ’n prentebeeld van Jesus en Sy werk in ons lewens.

1. SKAAPSPOORT
Die eerste poort. Dit was die poort waardeur die offerdiere na die tempel geneem is. Let op die tempel se posisie digby die Skaapspoort. Waarom is die offerdiere na die tempel geneem? Hulle was geoffer. Waarom geoffer? Die Here het daardeur versoening bewerkstellig. Lees Lev. 16. Vergifnis en vryspraak deur plaasvervangende dood. Hebr. 9:22 – sonder bloedvergieting geen vergifnis OF TE WEL: deur bloedvergieting besliste vergifnis. Die offerdiere het gesterf in die plek van die ménse sodat die mense versoend met die Here kon lewe.

Dit is waar die Here Sy werk in ’n gelowige se lewe begin. Dit begin by die offer. Dit begin by die versoening/vryspraak wat ons in Jesus se offer ontvang. Dit begin by ons ewige redding wat op die offerkruis bewerk is. Dit begin by ’n oorplasing van die hel/dood na die hemel/lewe – deur offerbloed. Die mens wat dít persoonlik glo, IS volledig versoen met God – tot in ewigheid. Rom. 5:1

2. VISPOORT
Die poort wat ná die Skaapspoort herstel is. Die poort waardeur vis vanaf die See van Galilea gebring is. Ná die Skaapspoort, die Vispoort. Nádat ’n mens deur die geloof in die plaasvervangende offer van Jesus, vrede by God ontvang het, word jy ’n visser van mense. Matteus 4:18: “Ek sal julle vissers van mense maak.” ’n Mens wat versoening met God ontvang het, IS ’n sendeling. ’n Visser van mense. Sien jy die onlosmaaklike koppeling tussen die versoening-deur-die-offerbloed en sendeling-wees. Om ’n hart te hê vir ’n verloregaande wêreld. Dit is ’n koppeling wat God self maak. Dit is nie ’n “sendingvisie” wat ek moontlik sal ontvang nadat ek ’n naweekseminaar deurloop het nie. Nee, ek IS ’n visser van mense. En dit bring nie altyd vir ’n gelowige medaljes in die sak nie. Let op die naam van die persoon wat hierdie poort herstel het: “Senaä” – dit beteken “veragte”. Die mens wat deur die geloof in Jesus se offer met God versoen is EN ’n visser van mense geword het, kry nie ’n klop op die skouer nie, maar kry teenstand en vervolging. Dit is soms ’n moeilike pad. Geen wonder dat die Griekse woord vir “getuie” letterlike “martelaar” beteken nie (marturos).

3. OU POORT
Die 3de poort was die poort wat tussen die ou en nuwe muur geposisioneer was. Sien die kaart: die Oupoort was geleë presies op die aansluiting van Salomo en Manasse se mure. Dit is werklik ’n prentjiesbeeld van die magtige werk van God in ons lewens waarvan Paulus praat in 2 Kor 5:17…. Wie in Christus is, is ’n NUWE skepsel. Die OU dinge het verbygegaan, die NUWE het gekom.

4. DALPOORT
Die 4de poort was geografies die laagste geleë. Geleë in ’n laagtetjie. Die groot kenmerk van ’n gelowige se lewe: nederigheid/ootmoed/gebrokenheid. Lewe net uit genade. ’n Mens wat geleer het wat God se genade beteken EN geleer het om uit die genade te lewe, word ’n nederige mens. NIKS OM OP TE ROEM NIE. Rom 3:27. Die roem is uitgesluit. Die man wat hierdie poort herstel het se naam: Hanun – beteken “begunstigde”.

5. VULLISPOORT
Die 5de poort was die poort waardeur die stad se vullis en afval uitgedra en verwyder is. Dit strook met Johannes die Doper se woorde in Matt 3: 11-12: “Die Gees doop met vuur en maak die dorsvloer skoon en verbrand die kaf.” Reinigingswerk waarmee die Gees voortgaande in ’n gelowige se lewe besig is. Voortdurend is Hy besig om die vullis en puin uit die gelowige se lewe uit wys en uit te roei. Proses van heiligmaking. MALKIA: Die Here is my Koning.

6. FONTEINPOORT
Hierdie poort was geleë digby die Bad van Siloam. Die stad se drinkwater is deur hierdie poort vervoer. Dit was by hierdie bad wat Jesus gestaan het en die woorde van Joh. 7: 37-39 uitgespreek het. “Strome lewende water sal vloei uit die binneste van die mens wat in My glo. Daarmee het Hy na die Gees verwys.” Fontein van die Gees in ons lewens. Die absolute WONDER van die Heilige Gees se direkte werk in die gelowige se lewe. Die primêre manier waarop die Gees in ons lewens werk is deur die Woord. Dit sien ons by die volgende Poort.

7. WATERPOORT
Deur hierdie poort was die water na die tempel gedra vir gebruik in die wassingsrituele by die koperwaskom. Die betekenis van hierdie waterwassinge is baie duidelik uit die res van die Bybel. Dit dui nie op die doop nie, maar op die reinigende wassende effek wat voortgaande omgang met die WOORD v GOD op ons lewens het. Efesiërs 5:26: Gereinig deur die waterbad van die Woord. Johannes 15:3: Julle is rein deur die Woord wat Ek tot julle gespreek het. Daar is geen plaasvervanger vir die behoorlike lees en studie van die Woord nie. Dit is ’n dinamietkrag van God. Ons behoort geen steen onaangeroer te laat om te sorg dát daar ’n geleentheid in die gemeente geskep word waar die Woord stelselmatig uitgelê word. Dit is die kern van gesonde kerkwees.

8. PERDEPOORT
Die poort waardeur die soldate uitgegaan het vir oorlog. Stryd is deel van ’n lewe met die Here. Nie omdat daar groot fout met jou en my is nie, maar omdat stryd ’n Godgegewe déél is van ’n lewe met Hom. Lees: Matteus 10:34, Galas 5:17, Rom 7: 15-24, Efes 6: 10ev. Wees dankbaar indien u iets van hierdie stryd ken. Dit is ’n teken van lewe.

9. OOSPOORT
Die poort was geleë digby die Olyfberg. Die mooiste poort. Die Jode het altyd geglo dat die Messias die stad deur die Oospoort sal binnekom. Toe messel die Turke hom toe in die 16e eeu. Opvallend egter: dat Sag. 14 sê dat Jesus se voet op die Olyfberg sal staan tydens Sy wederkoms. Dieselfde berg vanwaar Hy opgevaar het. Die Olyfberg en die Oospoort is die simbool van ’n VERWAGTING. ’n Uitsien na Jesus se koms. Dus: Al bestaan die poort nie meer nie, was dit ’n profesie van Christus se finale koms na die wêreld. Dit is die poort van VERWAGTING/ AFWAGTING. Die HOOP wat die Gees altyd lewend hou in die gelowige se lewe. Die hoop van Sy koms wat ’n mens drá deur moeilike tye. “Miskien vandag.” “Maranata”. (1 Kor 16:22)

10. INSPEKSIEPOORT
Wanneer die soldate teruggekeer het ná die oorlog, het hulle deur hierdie poort ingekom en is hulle hier geïnspekteer en het hulle loon of bestraffing ontvang. Dit is die laaste poort. Dit is ook die finale verwagting wat die kind vd Here het – om vrygespreek te word op die groot Gradedag. Gelowiges sal nie veroordeel word en in die vervloeking van God val nie – Rom 8:1, Joh 5:24. Geen veroordeling. Jesus is voor Pontius Pilatus veroordeel. Openb 20:12 - Voor alle mense wat ooit gelewe het, sal die kind vd Here se naam uitgelees word. Naam staan in Boek vd Lewe. DIT is ons lewende HOOP. Ons hoop is nie beperk slegs tot hierdie lewe nie, maar ons het die SEKERE verwagting dat miljarde mense sal sien hoe ons vrygespreek word omdat ons hoop op Jesus was, wat in ons plek veroordeel is.

Ná die inspeksiepoort – weer die Skaapspoort. Terug by die offer. By die kruis. Die versoeningswerk van Christus OMRAAM letterlik die totale lewe van die gelowige. 
0 Kommentaar: so far: