30 Junie 2013 Patensie
Die Here is by ons te midde van
eensaamheid
Psalm 102
Psalm 102 is
die gebed van ‘n eensame persoon toe dit met hom sleg gegaan het en sy hart
uitgestort het. Dit is ‘n aangrypende en hartroerende Psalm. Dit is ‘n Psalm
waarmee baie van ons kan identifiseer. Hierdie Psalm het vir elkeen van ons ‘n
dudielike boodskap.
In verse 2-3
vind ons die noodkreet van iemand wat swaar gely het. “Here, luister tog na my
gebed, hoor tog my geroep om hulp! Moet U tog nie afsydig van my hou noudat ek
in nood is nie. Luister tog na my wanneer ek U aanroep, verhoor tog gou my
gebed.” Hoor ons die dringendheid in hierdie noodkreet? Waarom smeek die digter
so ernstig dat die Here op hom ag sal gee?
In verse
4-12 gee hy beskrywing van sy situasie. Hy is ernstig siek. Hy is seker daarvan
dat sy einde baie naby is. Sy dae is besig om te verdwyn soos rook. Ons weet
mos hoe gou rook in die lug verdwyn en mens dit nie meer kan sien nie. So is sy
lewe ook besig om vinnig te verdwyn en dan sal daar niks meer sigbaar wees van
sy lewe nie. Alle tekens dat hy hier was, sal dan weg wees. Is dit nie soos ons
ook soms voel nie? Nie meer lank nie, dan is ek nie meer hier nie en sal ek
vergeet word en sal niks oorbly van my lewe nie. Soos rook in die lug, sal my
lewe en die herhinnering aan my bestaan verdwyn.
Die digter
sê dit omdat hy ernstig siek was. Hy het hoë koors gehad. Sy liggam het gebrand
soos vuur. Hy was uitgedroog soos gras. Sy eetlus het verdwyn en hy kon nie
meer eet nie. Kos het vir hom soos as geproe. Hy het uitgeteer en was nog net
vel en been. Daarby het hy verskriklikke pyn gehad. As hy iets wou drink het,
het sy trane in die beker geval, en het dit wat hy gedrink het na trane geproe. Sy fisiese lyding was
baie erg. As gevolg van sy siekte, was hy eensaam. Sy emosionele lyding was net
so erg gewees. Hy was baie eensaam. Hy voel soos ‘n pelikaan in die woestyn en
soos ‘n uil tussen murasies. Nou is ‘n woestyn en murasie nie van die mooiste
plekke op aarde nie. Dit versimboliseer mos dood en verwoesting, en dis juis
daar waar die digter homself sien, en dan nog as’n eensame pelikaan en uil. Of
as hy wakker word, voel hy soos ‘n eensmae voël op ‘n huis se dak. Is dit nie soms
die ergste ervaring nie: om juis in tye van ernstige siekte nog eensaam ook te
wees nie? In die Bybelse tyd is siekte soms gesien as die straf van die Here op
sonde. Daarom is siektes dikwels verwerp.
In ons tyd
met die suksessindroom wat so sterk is, word siekte soms gesien as mislukking
en word siektes vermy. Baie siekes word eensaam omdat hulle mense se programme
so vol gejaag na wind is dat hulle nie tyd het vir hulle wat siek is nie. Of ons
weet nie wat om te sê of wat om te doen nie en voel selfbewus en vermy die
siekes. Laat ons dit maar erken: baie mense wat siek is bitter eensaam. Die ervaring
word versterk deur die feit dat die ernstige sieke se lewensruimte beperk word
tot die siekbed en sy horisonne tot die kamer se mure. Uit die gejaag van die
lewe, ervaar baie siekes ook tyd veel anders; minute voel soos ure en die dae
baie lank. Vir die ernstig sieke is die emosionele lyding wat deur die
afwesigheid van sy geliefdes veroorsaak word, soms net so erg as die fisiese
lyding.
Geloof in
die Here is geen warborg dat jy nie ook eensaam sal wees nie. Hoe baie mense is
daar nie in die Kerk wat ook eensaam is nie? Die eensaamheid van die mense wat
tussen ander is, is veel groter as die eensaamheid van iemand wat alleen is.
Hoeveel is daar nie wat vandag moet uitroep: “Ek het niemand nie! Daar is
niemand wat vir my omgee nie. Vriende het ek nie, my familie is te besig en het
my eenkant toe geskuif. My bure wil my nie ken nie!” Dink maar aan al die
eensames in ons gemeenskap: bejaardes, enkelouers, alleenlopers, kinders in
kinderhuise, mense wat deur ‘n trauma in hulle dop gekruip het en so baie
ander. Daar is mense wat eensaam is as gevolg van omstandighede soos die
verlies van ‘n lewensmaat of egskeiding. Daar is eensames wat in eensaamheid
verval het vanweë hulle persoonlikheid of hulle persepsie oor hullself. Mense
wat nie maklik kommunikeer nie. Mense wat dink hulle is nie mooi of goed genoeg
nie. Mense wat bang is om seer te kry. Mense wat hulle vertroue in ander
verloor het. Mense wat deur ander verstoot en verwerp is. Daar is so baie mense
in ons gemeenskap!
Die
Psalmdigter ervaar nog ‘n dieper lyding: en dit op geestelike vlak. Hy voel dat
God hom verwerp en weggegooi het. Dit is die dieptepunt van lyding. Hoe baie
siekes voel nie ook so nie? Die Here het sy rug op my gedraai. Hy stel nie meer
in my belang nie. Hy het my afgeskryf. Namate my kragte afneem en mense my
verwerp, lyk dit mos asof die Here my verwerp en weggooi. Dit is ‘n
verskriklikke belewenis!
Die Psalmis
sê dat sy dae verdwyn soos rook. Sy dae is sinloos en leeg, en dit gaan sommer
net verby. Hy sê ook dat die einde van sy lewe naby is, soos ‘n sakduwee wat lank
geword het. Ons weet mos as skaduwees lank word, is dit ‘n teken van die
naderende einde van die dag, en so voel hy ook. Hy is lewensmoeg, en sy lewe
voel leeg en sinloos. Waarom lewe hy nog? Kan dit nie maar tot ‘n einde kom
nie?
Is dit nie
soos eensames baie keer voel nie? Waarom lewe ek? Wat is die sin en betekenis
van my lewe? Ja, eensames sny hulle dikwels af van ander en onttrek hulself.
Dit lei nie net tot ‘n verlies aan selfvertroue en ‘n negatiewe selfbeeld nie,
maar ook tot apatie. Die eensame word apaties en het nie meer die drang om te
leef en dinge te doen nie. Die eensame word passief en wil nie betrokke raak
nie. Dit kan lei tot erge depressie.
Dit gebeur
dat sommige eensames uit hulle eensaamheid probeer ontvlug deur hulle toevlug
tot drank of dwelms te neem of deur losbandige verhoudings aan te knoop. Daar
is ook ander wat dit probeer ontkom deur die najaag van sukses. Hulle werp
hulle hart en siel in hulle werk en wil ten alle koste presteer om so hulle
eensaamheid te oorbrug. Daar is ander wat altyd tussen mense wil wees om maar
net te vind dat ook dit nie werk nie. Hulle woon al wat ‘n partytjie is by en
jaag van die een plek na nie ander om maar net nie alleen te wil wees nie. Dit
werk nie, maar vererger net die eensaamheid.
Wat kan ek
doen? Die eerste stap wat geneem kan word, is om jou eensaamheid as gegewe te
aanvaar. Maak vrede met jou eensaamheid. Nie in die sin dat jy dit as
permanente gegewe aanvaar nie, maar dat jy aanvaar dat dit nou so is en dat jy
iets daaraan kan doen. Jy bly tog in beheer en kan die situasie verander. Reik
dan uit na ander. Werk aan jou kommunikasie vaardighede, kommunikeer met ander.
Praat met mense. Dit mag aan die begin moeilik wees, maar met tyd word dit beter
en makliker. Reik uit, nie om iets te kry nie, maar om iets te gee. Raak
betrokke by ‘n groep. Hoe minder aktief mens is, hoe meer eensaam word jy.
Die Psalmis
het in sy eensaamheid hom tot die Here gewend. Hy praat met die Here. Hy vestig
sy hoop op die Here. Opvallend is dat die Psalmis sy hoop op die Here plaas vir
die toekoms. Hy glo die Here het ‘n toekoms vir Sy volk en alle mense. Hierin
stel hy vir ons ‘n voorbeeld: wend jou tot die Here in jou eensaamheid. Praat
met Hom, Hy sal jou nooit alleen laat nie. Was Jesus dan nie van God verlate en
totaal eensaam sodat ons tot God geneem om
nooit deur Hom verlaat te word nie? Eintlik is die gelowige nooit
heeltemal eensaam nie. Die Here is altyd by ons. Met Hom kan ons die toekoms
ingaan met vertroue. Dan het ons ‘n toekomsperspektief. Hy is by ons en sal
altyd by ons wees. Omdat ons aan Hom behoort, en deel is van Sy kerk, is ons saam
met ander. Ons het baie broers en susters. Ons is deel van ‘n wêreldwye skare
van gelowiges wat almal die Here aanbid. Eintlik behoort daar dan mos nie
eensames onder ons te wees nie...