POSTED BY Steven Sass on 20:44 under

7 April 2013 Patensie
Die Bruid van Christus: My verantwoordelikheid?
Hosea 5:15- 6:1-11
Die laaste woorde van die 5 de hoofstuk gee ons hoop! Dit gee ons hoop dat God en Sy mense, ek en jy, kan weer na alles, tog met mekaar versoen word, desnieteenstaande ons sonde en ongehoorsaamheid en God se toorn. Dat ons Sy aangesig sal opsoek en dat Hy weer in ons lewens gereflekteer sal word...


Verse 1-3:  Die woorde van hierdie verse kan gesien word as die woorde van die profeet aan die volk, waarin hy hulle aanmoedig en oproep om hulleself te verootmoedig voor God, of as die woorde van die mense aan mekaar om weer terug te keer na God toe en hulself te verootmoedig voor Hom en Sy genade  op te soek waarin hulle mekaar opgewonde maak en aanmoedig....

God het gesê dat : “In hulle nood sal hulle my hulp kom vra.” En nou terwyl die yster warm is en God dit gesê het wil die profeet en die goeie gelowiges juis mekaar en veral hulle bure wat tans onder die toorn van God swaarkry, mekaar aanmoedig om hulle rug op die wêreld te draai en die aangesig van God op te soek! En hulle wat wel besig is om dit juis te doen, wil nou mekaar opgewonde maak en aanmoedig en “opbou” om saam met hulle Sy genade op te soek!

Hulle wat die besluit gemaak het om terug te draai na God toe en Hom weer te gaan opsoek, dis juis hulle wat opgewonde ook hulle vriende, familie, kennisse en sommer vreemdelinge ook moet aanmoedig in opgewondenheid, om dieselfde te doen...

Die vraag is nou of ons, nou wel besig is hiermee? Waarmee is jy besig op hieride oomblik in jou gedagtes? Waarmee is jy besig in jou lewe?

Ons het mos laas Sondag die feit gevier dat die graf van Jesus leeg is. Dat die moeder van Jesus Hom gaan opsoek het en gevind het dat  die graf leeg is! Hulle het toe mos die dissipels gaan roep om te bevestig dat dit wat hulle (op die tweede dag) met hulle eie oë gesien het waar is. En dit was waar, en ja daar heers nou vandag nog steeds nog ‘n opgewondenheid want ons Here het die dood oorwin en ons hoef niks meer te vrees nie! Niks meer nie want dit wat seker die ergste is in die lewe, die mees vreesaanjaende ding wat met jou kan gebeur, die dood... dié dood se angel is nou deur ons Jesus uitgehaal.

 Hoofstuk 6 vers 1 praat van ‘n opgewondende aanmoediging om terug te keer na die Here toe, dat Hy ons weer kan gesond maak. Maar jy kan dalk vanoggend hier sit en dink dat jy nie siek is nie: “Ek hoef nie gesond gemaak te word nie, ek is nie siek nie”.

 Jy is dalk nie eers bewus van hoe siek jy regtig is nie... Nie siek van verkoue of griep of so iets nie, maar siek in jou denke! Jou fokus is verkeerd. Jy het al so oortuig geword van jou manier van dink dat jy die punt heeltemal mis. Dat jy in ‘n groot mate eintlik die hele opstanding van Jesus mis!

Jy soek die Here, maar kry Hom nie! Jy soek Hom in ons kerk, maar jy kry Hom nie, jy soek Hom in ‘n ander kerk, of op die televisie, maar  jy kry Hom nie, jy soek Hom soos Sy moeder en die dissipels in die graf en jy kry Hom nie! Jy mis die punt! Christus is hier!!!!! Hy is by ons! Hy is by jou hart en klop aan jou hart se deur! Dis die rede hoekom jy nie opgewonde is nie, hoekom jy teneergedruk is, hoekom jy ongelukkig is met ons kerk met jouself met die mense wat rondom jou sit, want jy mis Jesus.

Jy is so vol van die wêreld, so vol van allerhande leerstellings dat jy Jesus hier by jou, by ons mis! Daarom ontbreek die opgewondenheid van vers 1 in hoostul 6 van Hosea in jou lewe, in jou geestelike lewe! Daarom ontbreek die toekomsvisie van ves 3 ook in jou lewe: “Die Here sal verskyn, so seker as die son opkom, Hy sal na ons toe kom ....Hy sal ons verkwik....” Dis omdat jy te besig ius om Hom op allerhande plekke te wil soek.

Dalk is jy ook soos so baie mense uitgelewer aan die wêreld se gedagte om te gaan waar dit lekker is, om te soek na ‘n “kick”, na waar almal mooi gesigte opsit en mooi koekies vir mekaar bak. Jy sal God nie daaar kry nie! Hier in ons kerk gaan dit rof, hier volgens die pers weet ons kerk nie meer wat sonde is en wat die waarheid is nie. As ons alles moet glo wat in die koerante en Time magazine staan dan moet ons maar ons kerk se deure sluit en almal maar oorloop na een of ander kerk of instelling waar daar nie so baie sogenaamde onsekerhede is nie.

Maar vir wie wil jy dan nou glo? Hoor jy dan nie wat God vanoggend vir jou hier in die NGkerk kom sê nie? Hoor jy dan nie Sy stem nie? Vers 4en5: “Wat moet Ek met jou doen Efraim? Wat moet Ek met jou doen, Juda? Julle liefde is soos ‘n môrewolkie: dit verdwyn so vinnig soos dou, Dit is waarom Ek julle met my profete gestriem het, julle met My woorde vernietig het.... want Ek verwag liefde eerder as offers....” God kom sê dit vir jou vanoggend.

Ek wil dit vergelyk met die verhouding tussen ‘n man en sy vrou. Ek glo dat as jy eendag voor God gaan staan gaan Hy vir jou vra wat jy met jou vrou gemaak het op aarde. Die vrou wat Hy vir jou gegee het, die een wat net reg vir jou en by jou pas. Hy gaan by jou wil weet wat jy met daai vrou wat hy vir jou gegeee het gemaak het.  En as ons die Bybel reg verstaan dan vergelyk God dan ook die kerk met Sy Bruid (die kerk....in ons geval die NGKerk) met wie ons getroud is, in ‘n verhoudinbg is.... Hy gaaan vir jou vra wat jy met  Sy bruid  gemaak het. Wat gaan jy vir God antwoord? Wat gaan jy sê?

Gaan jy jou kop in skaamte laat sak en sê Here, ek het daai vrou gelos, ek het my rug op U Bruid gedraai, ek het Haar versaak, ek het gaan soek na ander plekke! Na ander dinge. Ek het sommer net weggebly.

Of gaan jy steeds opgewonde en uitasem vir die Here kan vertel dat jy met groot opgewondenheid steeds besig is om jou mede broers en susters aan te moedig om terug te draai na God toe en Sy aangesig opnuut op te soek! Dat jy jou hart steeds na alles oop het vir Sy werk en tot Sy beskikking!

Dis  jou besluit... Die Here ken jou hart, Hy ken alles van jou. Hy ken jou sonde, ook die sonde van onvergenoegsaamheid, van “i couldn’t care less”-houding teenoor ons kerk! Hy ken dit... maar steeds klop Hy aan jou hart se deur en hoop dat jy jou hart vir Hom sal oopmaak met vreugde, en liefde, sodat jou vreugde en liefde werklik Hom sal weerspieël en aansteeklik sal wees vir mekaar!
0 Kommentaar: so far: