POSTED BY Steven Sass on 06:27 under

24 Maart 2013 Patensie
Mense se houding teenoor Jesus
Johannes 18:12-14 en 19-24
In hierdie gedeelte vind ons die optrede van drie groepe teen Jesus, wat teenoor Jesus staan. Daar is die owerpriesters en die skrifgeleerdes: die Kerkleiers wat Jesus na Pilatus neem en Hom aankla. Daar is Pilatus, wat Jesus verhoor. En daar is die volk wat ‘n keuse oor Jesus moet maak! Kom ons kyk na elk van hierdie groepe en kyk of ons onsself in elkeen van hierdie groepe raaksien.
Die Skeinheiligheid van die Kerkmense
Die owerstes van die Jode, die Skrifgeleerdes en die Kerkleiers neem Jesus na Pilatus en gaan om ‘n aanklag teen Hom te lê. Ja, hulle gaan om te vra dat Jesus doodgemaak en gekruisig moet word. Ons weet dat hulle Jesus vals beskuldig het en dat die aanklag teen Hom eintlik net ‘n rookskerm was. Hulle het Jesus gehaat en wou Hom uit die weg sien, omdat hulle eie populariteit deur Sy optrede in die gedrang geplaas is. Die mense het eerder na Jesus as na hulle geluister. Deur die optrede van Jesus het hulle eie valsheid en oppervlakkigheid aan die lig gekom. Nou soek hulle verskonings om Hom dood te maak. Hulle verdraai Sy woorde om ‘n klag teen Hom te lê.

Hulle skeinheiligheid kom na vore in vers 28 waar ons lees: “Hulle het self nie in die ampswoning ingegaan nie, sodat hulle nie onrein sou word nie”. Hoe absurd. Hulle wil nie onrein word deur in die huis van ‘n heiden in te gaan nie sodat hulle die aand vroom die pasga kon vier en tempel toe kan gaan. Maar hulle voel hulleself nie verontreinig deur hulle optrede waardeur hulle die onskuldige Jesus doodmaak net om Hom uit die pad uit te kry nie.

Hulle skeinheiligheid kom ook uit hulle aanklag, naamlik dat Jesus die Koning sou wees en so hoogverraad sou gepleeg het. Hulle het telkens teen die staat in opstand gekom. Hulle het die staat gehaat. Nou speel hulle die vroom rol van die beskermers van die Romeinse staatsbelange.

Hoe dikwels tref ons hierdie houding nie by die Kerk vandag aan nie. So bekommerd oor klein dinge, onbelangrike gebruike. Terwyl die werklik essensiële by ons verbygaan. Dit vind ons by kerkvergaderinge van die hoogste tot die laagste vlak. Dit vind ons ook in die lewe van tallose Christene. Baie mense klou krampagtig vas aan ou gebruike terwyl Jesus gekruisig word deur die lewenswyses van dieselfde mense.

Pilatus tree op teen sy beterwete as gevolg van druk
Uit hierdie gedeelte en ook uit Johannes 19:1-16 blyk duidelik dat Pilatus diep bewus was van die onskuld van Jesus. Hy sê dan ook in 18:38: “Ek vind geen skuld in Hom nie” en in 19:4 word hierdie woorde weer herhaal. Nie minder nie as drie keer probeer Pilatus om Jesus vry te laat (18:38, 19:4, 12). Volgens Matteus het Pialtus dan ook sy hande gewas toe hy Jesus oorgelewer het om gekruisig te word en gesê: “Ek is onskuldig aan die dood van hierdie man”. Pilatus het geweet: “Jesus is onskuldig!”

Pilatus was nie ‘n man wat by sy beginsels kon staan en val nie. Nee. Hy glo een ding: doen ‘n ander. Hy is oortuig van Jesus se onskuld, maar is so bang vir sy onderdane dat hy nie die moed van sy oortuiging het om dit waarvan hy oortuig is, deur te voer nie.

Dit is een van die grootste probleme van ons tyd. Mense en leiers kan skynbaar nie besluite neem en daarby bly nie. Ons hoor so dikwels dat mense terugdeins. “Ek glo dit, maar dit kan aanstoot gee.” “Ek wil nie doen wat ek eintlik behoort te doen nie, omdat ander nie daarvan sal hou nie.” Kan ons nog standpunt inneem? Of het ons maar ‘n patetiese groep slappelinge geword?

Nou pleit ons nie vir onversetlike en ongevoelige optrede of hardvogtigheid en onverdraagsaamheid nie. Nee, maar wel dat ons sal staan by dit waarin ons glo. Dat ons nie soos riete in die wind rondgeslinger sal word nie, maar standpunt kan inneem. Hierdie Pilatus gesindheid van gee maar toe voor daar konfrontasie en opstand is, verwoes daagliks lewens netsoos Pilatuss se optrede Jesus se lewe op aarde beëindig het.

Die volk kies ‘n verlosser
Pilatus het die gebruik gehad om met Paasfees een gevangene vry te laat. Nou probeer hy hierdie gebruik aanwend om Jesus vrygelaat te kry. Hy stel egter ‘n defnitiewe beperking sodat die volk nie sommer net enigiemand kon kies nie. Die volk moes juis kies tussen Jesus en Barabbas.

Wie was hierdie Barabbas? In Matteus vind ons sy volle naam: Jesus Barabbas. Die naam Barabbas beteken letterlik: “Seun van ‘n vader. Dit is die naam wat soms aan ‘n buite egtelike kind gegee is. Johannes verwys na hom as ‘n rower. ‘n Ander tradisie dui daarop dat hy ‘n politieke leiersfiguur was, wat in opstand gekom het teen die owerheid. Hy was moontlik selfs een van die selfaangestelde messiasse.

Pilatus stel hulle teenoor mekaar: Jesus Christus teenoor Jesus Barabbas, Jesus Seun van die Vader, teenoor Jesus seun van ‘n vader. Jesus, die Messias van God teenoor Jesus, ‘n aardse selfaangestelde messias.

Die volk moes kies: Jesus Christus, of Jesus Barabbas.

Barabbas tree met sy gelykheid in benaming en eenheid in strewe te voorskyn as voorafskaduwing van die antichris.

Die mens het  deur die eeue nog altyd voor ‘n keuse gestaan. So het Josua die volk voor die keuse gestel: kies nou wie julle wil dien: die gode van die ander volke of die Here. Elia vra: “Hoe lank hink julle op twee gedagtes? As die Here God is, volg Hom.” Jesus sê: “Julle kan nie twee Here dien nie.”

Ons staan elke dag voor talle keuses. Ons moet elke dag kies tussen God en die sonde, Jesus en Barabbas, Christus en die Antichris. Wie kies jy vanoggend?

Hierdie gedeelte het nie net ten doel om maar net vir ons te sê hoe mense lank gelede teenoor Jesus opgetree het nie. Natuurlik kom dit hier baie duidelik na vore. Natuurlik het die kerkleiers van destyds en Pilatus en die volk so opgetree, daarvan lees ons hier baie duidelik. Dit baat ons egter niks om hierdie gedeelte net te lees as historiese berig nie.

Hierdie gedeelte wil onsself oproep tot selfondersoek. Hoe tree ons op en wat is ons houding teenoor Jesus? Kom ons stel dit duidelik: elkeen van ons het minstens op een of ander tyd dieselfde gesindheid as die kerkleiers van destyds, of Pilatus of die volk geopenbaar. Die vraaag is nou: Hoe tree jy nou teenoor Jesus op? Hoe gaan ons môre teenoor Hom optree? Dis maklik om onsself van hierdie groepe te distansieer, maar wat gebeur in die praktyk? Kyk ons na wat in die werklikheid van die daaglikse lewe aangaan, kan ons nie anders as om die optrede van hierdie groepe weer en weer raak te sien nie.
0 Kommentaar: so far: