21 April 2013
Patensie
Jesus kom na mense
wat swaarkry
Johannes 21:1-14
Ons
het nogal ‘n paar baie interessante visstories in die Bybel. Vissermanne kan
nogal sulke stories vertel, maar dan is dit dikwels van die grote wat weggekom
het of ‘n storie wat regtig nie geglo kan word nie.
Hier is dit egter nie ‘n vissermanstorie nie.
Dit gaan ook om baie meer as ‘n wonderlike visvangs. Dit gaan om Jesus wat as die Onbekende kom, die onmoontlike
moontlik maak en voorsien in die basiese behoeftes van mense.
Hier
lees ons hoe die lewe, na die opstanding van Jesus stadig maar seker begin
terugkeer het na die normale. Petrus neem, soos so dikwels, die leiding en sê
dat hy gaan visvang. So keer hy terug na sy ou beroep; doen dit wat hy gedoen
het voor Jesus hom geroep het om Hom te volg. Die ander besluit om hom te volg.
Dit wil amper voorkom asof alles verby is en die lewe nou weer sy verloop gaan
neem soos voor Jesus op die toneel verskyn het. Ongelukkig verloop alles nie so
vlot nie. Hulle probeer die hele nag, maar vang nie ‘n enkele vis nie. Miskien
het hulle al te veel van hulle ou beroep verleer. In elk geval, hulle arbeid is
vergeefs.
Maar
dan verskyn Jesus inderdaad weer op die toneel, die keer as ‘n Onbekende.
Terwyl hulle nog aan die roei is, vra Hy of hulle iets gevang het. As hulle
neagtief antwoord, gee Hy vir hulle ‘n snaakse opdrag: Hy sê hulle moet die net
aan die regterkant van die boot uitgooi. Nou klink dit nie na ‘n baie
aanloklike oplossing vir hulle probleem nie. Die vissersbootjie was nie baie groot
nie en wat sou dit tog in elk geval verskil maak as die net net aan die ander
kant van die bootje gegooi word. Hulle
gehoorsaam egter en is verbaas as die onmoontlike moontlik gemaak word en hulle
verskriklik baie vis vang – meer as wat hulle in hulle skuit kan kry.
Jesus
maak nie net die onmootlike moontlik nie, maar voed hulle ook. As hulle op die
strand kom, het Hy die vuur gereed en is daar ook brood sodat hulle spoedig kan
aansit vir ‘n heerlike maal. Hoe vinnig het alles nie verander nie. Nou-nou nog
het hulle met leë hande gestaan, nou het hulle baie kos. Net-nou het hulle nie
geweet wat hulle sal eet nie en nou is ‘n koningsmaal gereed.
Hiermee
word egter besonder baie gesê. Laat dit ons nie dink aan Genesis 18 nie? Op ‘n
dag het Abraham onder die groot bome by Mamre gesit. Toe hy opkyk, sien hy drie
mans daar staan. Abrham nooi hulle vir ete en tydens die gesprek oor sy
nakomeling ontdek hy dat dit die Here is wat na hom gekom en saam met hom
ge-eet het. Wat ‘n ontdekking het hy gemaak: die Here was hier! Hierdie
belydenis kom dwarsdeur die Bybel na vore: “God is hier teenwoordig.” Dit is
die blye boodskap ook vir ons: God is hier. En dan nie net in die kerk nie,
maar juis daarbuite in die alledaagse lewe.
In
die Ou testament word ook beklemtoon dat niks vir God onmoontlik is nie. Dit
word dikwels beklemtoon dat God dan ook die onmoontlike moontlik gemaak het. So
kan mens net dink aan die uittog en die
intog. Profete soos Jesaja het beklemtoon dat geloof is om te glo dat God die
onmoontlik moontlik kan maak. As dieselfde nou van Jesus gesê word, dan word
daarmee ook gesê dat Jesus God is. Dit word versterk deur die feit dat Jesus
die dissipels voed. Soos Hy ook voor Sy kruisiging die skare gevoed het en in
die basiese behoefte van mense voorsien het. So sê die Ou-testament ook dat God
voorsien in die behoeftes van sy kinders. So het Hy die volk op pad van Egipte
na die beloofde land gevoed met kwartels en manna. Hy het vir hulle gegee wat
nodig was. Soos ‘n vader sorg vir sy kinders, sorg God vir Sy volk en Jesus vir
die wat Hom volg.
Dit
is dan volkome in lyn met die prediking van Johannes. Van die begin tot die
einde van sy Evangelie bely hy dat Jesus waarlik God is wat mens geword het. Hy
beklemtoon dat Jesus God by ons is, al
gebruik hy nie die naam Immanuel nie. Geloof, so sê Johannes, is om Jesus te
herken as die teenwoordige God.
Tog
bly dit interessant dat die ou tipiese optrede van die dissipels nog steeds na
vore kom. Johannes is die eerste wat vermoed dat die Onbekende Jesus is, as
daar iets wonderliks gebeur. Petrus bly die wispelturige wat sommer uit die
skuit spring as hy hoor wat Johannes sê, om dan weer in die skuit te klim en
die net strand toe te sleep.
Is
dit nie wat vandag nog gebeur nie? In tye van verandering raak mens nogal gou
gewoond aan veranderinge. En word daar nie gesê hoe meer dinge verander hoe
meer bly dinge maar dieselfde nie? Aanvanklink is almal verbaas en bang, maar
gou gou keer alles terug soos wat dit maar vroeër was. Dan gaan mense maar weer
aan met hulle werk en tree hulle maar weer op soos vroeër. Dit lyk my dit is
ook soos dit nou hier by ons gaan. En dit nie net op sosiopolitieke vlak nie,
maar ook in die kerklike lewe. Wat vir my ‘n knelpunt is, is die feit dat ons ook so deur die kerklike jaarprogram
gaan en eintlik nie diep daardeur geraak word nie. Dit was nie lank gelede dat
ons die kruisiging en die opstanding herdenk het nie en tog lyk dit nie asof
mense nou anders leef as voor die tyd nie. Ons gaan maar net aan en aan...
Kom
Jesus nie vandag nog na ons toe as die Onbekende wat ons pad kruis nie? Het Hy
nie eenmaal gesê dat dit wat ons aan
ander doen ons aan Hom doen nie? Moet ons nie weer ‘n keer die bekende Matteus
25:31-46 rustig en aandagtig lees nie? Dit was tog sekerlik nie waar net vir
daardie tyd nie? Kom Jesus nie ook vandag na ons as die Onbekende nie? Sien ons
Hom in die vreemdeling wat ons pad kruis, in die bedelaar, in die verworpene,
in die kollega en noem maar op?
Jesus
kan die onmoontlike moontlik maak. Tog is dit opvallend dat Jesus hier van die
dissipels verwag het om self iets te doen. Hulle moes die net uitgooi en
visvang. Jesus verwag ook van ons om iets te doen. Ons mag nie maar net sit en
wag nie.
Het
ons nie ook verskriklik rasioneel geword nie? Ons wil alles met ons verstand
uitredeneer en verklaar. Ons glo tot sover as wat dit strook met ons denke. En
nie veel meer nie. Ons dink ook dat wondertekens iets is wat sonder ons wete of
verwagting of handeling gebeur. Dit mag so wees, maar hier lees ons dat die
dissipels ook iets moet doen. Hulle gewone optrede het gelei tot die
buitengewone, tot die wonder. God kan vandag nog die onmoontlike moontlik maak.
Ook vir ons in ons gesinslewe, in ons beroepslewe of besigheid of watter terrein
ook al.
Hierdie
deel wil ook vir ons sê dat God in ons daaglikse behoeftes wil voorsien.
Vertrou ons Hom hiervoor of dink ons dat ons self kan en Hy kan of wil nie? As
ons werklik glo in die opgestane Jesus sal ons ook vertrou dat Hy in al ons
behoeftes sal voorsien. Natuurlik beteken dit nie dat ons niks hoef te doen
nie. Maar dit wil diegene in moeilike situasies troos en ons bemoedig: God
voorsien vandag nog.
Post a Comment