POSTED BY Steven Sass on 06:11 under


Jesus kom na mense wat twyfel en onseker is
Johannes 20:19-31
As mens die inleidingswoorde van hierdie gedeelte lees, wil mens amper wonder of die kerk nie maar van die begin af altyd agter geslote deure geleef het nie. Die dissipels het op hierdie  tyd alreeds kennis gedra van die opstanding van Jesus. Die vroue het dit aan hulle vertel; die Emmausgangers het dit bevestig en sommige van die dissipels het ook vertel dat hulle by die graf was en dat dit leeg is. Hulle het dit nog nie mooi verwerk nie, en sommige van hulle het nog nie geglo dat Jesus uit die dood uit opgestaan het nie.

Om dinge selfs nog meer te problematiseer, het hulle begin kennis neem van gerugte dat iemand van hulle die liggaam van Jesus gesteel het. Indien hierdie gerugte die ore van die owerheid sou bereik, kon dit groot probleme veroorsaak het. Hulle kon maklik van poging tot opstand en omverwerping van die regering beskuldig word. Hulle was dus in ‘n baie moeilike situasie. Aan die een kant was daar hulle eie onsekerheid en aan die ander kant die vrees vir die Jode en die owerheid oor hulle aandeel in die verdwyning van die liggaam van Jesus. Geen wonder dat dat hulle vreesbevange en verward was en die deure gesluit het nie.

Die geslote deure het egter nie verhinder dat Jesus aan hulle verskyn het nie. Toe hulle weer sien, staan Jesus tussen hulle. Hy groet hulle en stel Homself dadelik aan hulle bekend deur aan hulle Sy hande en Sy sy te wys. Dit is opvallend dat Jesus Homself elke keer op ‘n ander wyse aan mense na die kruisiging bekend gestel het. Maria Magdalena herken Hom as Hy die brood breek by die maaltyd. Hier wys Hy Sy hande en hulle herken Hom.

Die wyse waarop Jesus Hom bekend stel, mag verskil, maar die reaksie daarop bly dieselfde: hulle was bly toe hulle Hom sien. Blydskap is die eerste en oorweldigende reaksie as Jesus herken word. Sy teenwoordigheid bring vreugde – ware lewensvreugde.

Jesus blaas dan op hulle en sê: “Ontvang die Heilige Gees!” (Johannes 20:22). Hierdie simboliese handeling laat mens dadelik dink aan Genesis 2:7 waar ons lees dat God lewensasem in die mens se neus ingeblaas het. Soos die Here aan die begin dit moontlik gemaak het dat die mens kan lewe deur asem in sy neus te blaas, maak Jesus die nuwe lewe moontlik deur op hulle te blaas en hulle so die Heilige Gees ontvang wat die nuwe lewe moontlik maak...


Die nuwe lewe, so lyk dit vir my, word veral gekenmerk deur sondevergifnis. Jesus verwys naamlik hier, pas na die simboliese handeling van die ontvangs van die Heilige Gees, na die feit dat hulle die mense hulle oortredinge moet vergewe. Dit sou dan as die vrug van die Heilige Gees en die kenmerk by uitnemendheid van die lewe van die gelowige bestempel kan word.

Een van die dissipels, Tomas, was egter nie teenwoordig nie. As hulle hom vertel wat gebeur het, maak hy dit baie duidelik dat hy nie sal glo nie tensy dat hy nie alleen sien nie, maar ook aan Jesus vat. Hy wil sigbare en tasbare getuienis hê voor hy glo. Nou moet ons hom nie te maklik veroordeel nie. Die ander dissipels het eintlik ook dieselfde pad geloop alhoewel hulle dit nie so duidelik verwoord het nie. Toe die vroue aan hulle vertel het dat Jesus opgestaan het, het hulle nie geglo nie en dit het vir hulle na onsinnige praatjies geklink.

‘n Week later verskyn Jesus weer aan die dissipels as Tomas saam met hulle is. Dit lyk vir my asof Jesus spesiaal na Tomas toe gekom het. Hy skryf hom nie af as hy nie dadelik glo nie. Inteendeel, Hy maak besondere moeite met en vir hom. Jesus nooi Tomas uit om sy vingers in sy hand en sy hand in Sy sy te steek en hom so te oortuig dat dit wel Jesus is wat met hom praat. Tomas antwoord egter dat dit nie nodig is nie. Hy is nou oortuig, al het hy nog net sigbare en hoorbare getuienis.

Tomas uiter hier dan sy bekende en seker een van die diepste belydenisse: “My Here en my God!” (Joh. 20.28).

Die eerste deel van die belydenis sluit nou aan by die van Maria (Raboeni) maar dan gaan hy veel verder, ja as die belydenis van Petrus. Dit is dan ook een van die min geleenthede in die Nuwe Testament dat Jesus direk Here en God genoem word. Hiermee erken en bely Tomas die wesenseenheid tussen die Vader en die Seun en vat hy die kern van ons belydenisse saam. Hierdie belyedenis van Tomas vorm die dieptepunt in die belydenisse oor Jesus in die Johannesevangelie soos die belydenis van Petrus die dieptepunt in die Lukasevangelie vorm.

Tomas was die vorige week op dieselfde vlak as alle ander Christene, die eerste dissipels uitgesonderd. Net hulle het die opgestane Jesus gesien. Die ander, en Tomas aan die begin, het net gehoor dat Jesus opgestaan het. So word Tomas die voorbeeld van alle ander Christene. Daarom sê Jesus, en wel in die vorm van ‘n saligspreking, dat almal gelukkig is wat Hom nie gesien het nie en tog wel glo. Gelukkig is die wat nie sigbare getuienis het nie, maar tog tot geloofsaanvaarding kom. Johannes sê dan dat dit juis die doel van die Evangelie is: om te vertel sodat ander kan glo dat Jesus die Christus is en sodat hulle deur te glo, in Sy Naam die lewe kan hê.

Wat is die betekenis van hierdie gedeelte vir ons? Dit lyk my hier word ‘n paar sake aangespreek. Eerstens word beklemtoon dat die teenwoordigheid van die opgestane Here Jesus blydskap bring. Dit is so ten spyte van  haglike omstandighede. Al lyk ons situasie hoe moeilik, as ons besef dat Jesus leef en dat Hy teenwoordig is, dan moet dit mos die ellende tot ‘n mate verdryf. Nou moet ons nie dink dat alle probleme dadelik sal verdwyn en dat alles voor die wind sal gaan nie. Dit word glad nie belowe nie. Dit beteken egter dat dat die lewe nie heeltemal sy sin en betekenis sal verloor nie. Jesus is by ons. Hy sal ons in die donkerste uur nie in die steek laat nie. Ons leef en niks en niemand kan ons uit Sy hand uit ruk nie. Dit bring tog, ten spyte van alles vreugde en blydskap.

Verder is daar ‘n direkte verband tussen die teenwoordigheid van die opgestane Jesus en die Heilge Gees. Dit versterk die gedagtes van die vorige paragraaf. Al sou ons Jesus dan  nie altyd kan sien nie, is die Heilige Gees met ons. Ondersteun en versterk Hy ons in alle opsigte. Hy lei ons om in vertroue te leef en te werk.

Hierby word die teenwoordigheid van die opgestane Jesus en die ontvangs van die Heilige Gees direk verbind met sondevergifnis. Die ou dinge het verbygegaan en alles het nuut geword. Ons kan lewe in die wete dat die breuk tussen ons en die Vader herstel is. Met geloof en vertroue kan ons nou voortgaan: die sondes is vergewe.

Hierdie gedeelte beklemtoon verder dat Jesus nie die wat dadelik glo nie, afskryf nie. Inteendeel, soos tydens Sy hele aardse optrede, skenk Hy besonderse aandag aan die swakkes en die uitgeworpenes. Jesus doen moeite vir hulle wat Hom nodig het. Die gedeelte wil ook beklemtoon dat daar min was wat die voorreg gehad het om die opgestane Jesus persoonlik  te sien, maar dat dit alles beskryf is sodat almal kan glo en dat die wat glo al was hulle nie ooggetuies nie, gelukkig is.

Twyfel is nie ‘n onvergeeflike sonde nie. Inteendeel, hoe dikwels lees ons nie van mense wat getwyfel en met God geworstel het nie. Om sekerheid te soek en vrae te vra, is nie verkeerd en sondig nie. God het baie simpatie met die twyfelendes. Jesus reik juis na hulle uit en wil sekerheid bied. By Hom vind ons die antwoorde en rus en vrede. Sy teenwoordigheid bring ons by die punt van belydenis: “My Here en my God!”
0 Kommentaar: so far: