POSTED BY Steven Sass on 06:13 under

2 Maart Patensie 2013-02-26
Sagmoedigheid
Esegiël 36:24-28, Petrus 3:1-7
Ons almal het maar ons skerpkantjies. Die rivierklippe wat ek laat aanry het hier na die kerk se tuin toe het my nogal baie laat dink. Dis almal sulke mooi klippe wat mooi rond geskuur is teen mekaar deur die Gaamtoosrivier. So is hulle skerpkantjies afgeskuur en is dit glad en mooi geskuur. In baie van die klippe sien mens die pragtigste kleure, wat juis na vore gekom het deurdat die onaansienlike buitekant weggeskuur is.

Diamante is mos ook eintlik klippe met skerp kante, maar as dit geslyp is, het dit baie kante of fasette en skitter dit behoorlik. So gaan dit ook soms met mense. Yster slyp yster, so slyp die een mens die ander. Omstandighede kan mense hard maak, maar kan mense ook skuur en slyp en poleer.

Soos klippe is baie mense ook hard. Hiervan lees ons onder andere in die boek Esegiël. Die profeet Esegiël het net voor die destydse Babiloniese ballingskap opgetree Dit was ‘n groot krisistyd in die geskiedenis van oud Israel. Die laaste jare voor die val van Jerusalem was ‘n aantal swak konings aan bewind. In 597vC het die eerste wegvoering plaasgevind toe die koning en die toplaag van die bevolking weggevoer is. Esegiël was een van die persone wat toe in ballingskap weggevoer is. In 586vC. Het Jersualem geval en is diegene wat nie vroeër weggevoer is of gevlug het nie, in ballingskap weggevoer.

Ons moet onthou dat die ballingskap vir die Israeliete ‘n baie moeilike tyd was. Hulle het alles verloor: hulle vryheid, hulle huise, hulle plase, alles. Nou bly hulle in ‘n vreemde land waar hulle geen regte het nie. Hulle word mishandel en uitgebuit. Hulle situasie was ondraaglik en onmenslik. Kan ons hulle kwalik neem as hulle in hierdie omstandighede bitter geword het? Baie van hulle het hulself verhard. Hulle het kliphard geword en het harte van klip gekry.

In die tyd het die gelowiges met baie vrae geworstel, soos: “Waar is God? Hoe kan mens dit wat gebeur het, verklaar? Wat is die sin van die lewe?” Dit is op hierdie vrae dat Esegiël antwoorde wou verskaf. Bo-al wou hy die lesers tot die besef bring dat die Here God is. In Esegiël 36:24-32 lees ons van die belofte wat die Here aan hierdie mense wat platgeslaan, moedeloos en selfs verbitterd was en hard geword het, gemaak het: “Ek sal julle tussen die nasies wegvat, julle uit al die lande bymekaarmaak en julle na julle land toe bring. Ek sal reinigingswater oor julle uitgooi sodat julle rein kan word. Ek sal julle reinig van al julle onreinheid en van al julle afgodery. Ek sal julle ‘n nuwe hart en ‘n nuwe gees gee, Ek sal die kliphart uit julle liggaam uithaal en julle ‘n hart van vleis gee. Ek sal My Gees in julle gee en Ek sal maak dat julle volgens My voorskrifte leef en my bepalinge gehoorsaam en nakom. Julle sal in die land woon wat Ek aan julle voorvaders gegee het, julle sal ook My volk wees en Ek sal julle God wees” (Eseg. 36:24-28). Is dit nie ‘n wonderlike reeks beloftes wat die Here hier maak nie?

In die middel van die reeks beloftes beloof die Here: “Ek sal julle ‘n nuwe hart en ‘n nuwe gees gee, Ek sal die kliphart uit julle liggaam uithaal en julle ‘n hart van vleis gee”. Die hart is destyds gesien as setel van denke, gevoel en wil terwyl die gees gedui het op gesindheid. Vir hulle wat hart van hart geword het, beloof die Here ‘n sagte hart, ‘n hart van vleis sodat hulle nie meer hard en verbitterd wou wees nie, maar sagmoedig en saggeaard.

Is dit nie so dat baie mense vandag hard en verbitterd geword het nie? Ons omstandighede het ‘n impak en die onaanvaarbaar hoë misdaadsyfer, die baie geweld, die verlies aan werk, die agteruitgang in infrastruktuur en dienste, maak baie hard van hart. Nou sê die Here dat Hy verstaan. Maar dis nie soos dit behoort te wees nie. Hy wil ook vir ons ‘n sagte hart gee. Hy wil dat ons sagmoedig en saggeaard sal wees ten spyte van ons omstandighede.

Jesus het ook hierin vir ons die volmaakte voorbeeld gestel. Toe Hy in die tuin van Getsamane gevange geneem is, het Hy nie in opstand gekom nie, maar het Hy as sagmoedige en saggeaarde opgetree en self vir Petrus wat na die swaard gegryp het, aangespreek. Tydens Sy onregverdige verhoor en te midde van die spot van die kerkleiers en skare, het Hy steeds as die sagmoedige en saggeaarde opgetree. Nooit het Hy Sy humeur verloor, Hom opgeruk en of op enige wyse ‘n harde kant gewys nie. Hy was Sy lewe lank die sagmoedige en saggeaarde.

Ons kan ook aan ander persone dink wat in die Bybel vir ons voorgehou word as sagmoedig en saggeaard. Dink maar aan Isak, Boas en Johannes. Van Moses lees ons in Numeri 12:3: “Moses was ‘n uiters  sagmoedige man, meer as enigiemand anders.”Ons is deesdae geneig om te dink dat mans nie sagmoedig en saggeaard is of selfs behoort te wees nie. Sommige het die idée dat manlikheid nie te rym is met sagmoedigheid nie. So asof ‘n sagmoedige man ruggraatloos is, ‘n slappe is wat niks kan of sal bereik nie. “n Man, so dink baie, moet hard wees om sterk te wees en iets te bereik. Dis ‘n wanpresepsie wat gewoon nie waar is nie. Van die mans wat die meeste bereik het, was juis sagmoedig en saggeaard. Ek dink nie iemand sou met oortuiging kan sê dat Isak, Boas, Moses en Johannes nie mans was wat besonderse diep spore getrap het nie. En Jesus het immers die volmaakte voorbeeld  vir alle mans gestel. Wat ons nodig het, is mans wat sagmoedig en saggeaard is. Dis die mans wat ‘n gemeenskap bou en nie dinge afbreek en vernietig nie. Dis gelowiges wat leef na die eis van die Woord en die voorbeeld van Jesus.

Nou is dit ook so dat ons baie keer dink dat vrouens sagmoedig en saggeaard is. Hoeveel keer hoor ons nie mense praat van hul oumas wat byvoorbeeld sagmoedig en saggeaard was nie? Dis waar, maar daar is netso baie vroue wat nie so was of is nie. Daarom is dit nodig dat ons weer mooi luister na wat Petrus skryf. In 1 Petrus3:1-7 skryf hy oor die gedrag van man en vrou teenoor mekaar. Vir vroue skryf hy onder andere: “Julle skoonheid moet nie bestaan  in uiterlike dinge soos haarkapsels juwele en sierlike klere nie. Nee, julle skoonheid moet die van die innerlike mense wees, blywende beskeidenheid en kalmte van gees. Dit het by God groot waarde” (1Petrus 3:3-4). Blywende beskeidenheid en kalmte van gees dui op sagmoedigheid en saggeaardeheid. Is dit nie waar nie? Niks is mooier as blywender mooi as ‘n vrou wat nie deur uiterlike vertoon haar skoonheid vertoon nie, maar deur sagmoedigheid en saggeaardheid. ‘n Sagmoedige vrou word lewenslank bewonder. Ons hoef nie hierdie teks te beperk asof dit slegs van toepassing is op vroue nie. Geld dit dan nie ook netso vir mans nie?

Hoe is dit dan dat sagmoedigheid so min vandag voorkom? Miskien is dit nodig dat ons na onsself kyk. Baie mense sê dat hulle nou eenmaal nie ‘n sagmoedige geaardheid het nie. Is dit nie maar ‘n flou verskoning nie? Ek is nie oortuig dat hardvogtigheid, arrogansie, hooghartigheid en al die ander eienskappe wat teenoor sagmoedigheid staan, so in ons gene is dat ons nie sagmoedig kan wees nie.Is dit nie maar verskonings om nie te breek met ons ou sondige natuur nie?

In Esegiël het die Here beloof dat Hy die klipharte sal uithaal en vir Sy kinders sagte harte sal gee. Dit is dan mos ‘n genadegawe. Die Here wil dit vir ons doen. Hy wil ook in hierdie opsig vir ons alles nuut maak. Hy kan en wil die hardste mens ‘n liefdevolle en sagte persoon maak.

As ons ons lewens aan die Here wy, maak Hy alles vir ons nuut en vervang Hy ons hooghartigheid, arrogansie, selfverheffing en harde harte met ‘n sagte hart en sagmoedige gees. Nou rus die verantwoordelikheid op ons om dit uit te leef en oor te dra aan ons kinders sodat hulle ook sagmoedig en sageaard kan wees. Ons moet onthou dat sagmoedigheid nie net ‘n mooi karaktertrek is nie. Paulus noem dit ook as een van die kenmerke van die lewe van ‘n ware gelowige (Kol. 3:12-13). Hoe anders sal ons gemeenskap en samelewing nie wees as ons hierdie kenmerk van die lewe van gelowiges werklik uitleef nie.
0 Kommentaar: so far: