POSTED BY Steven Sass on 06:01 under

17 Maart 2012 Patensie
Skulderkenning
Psalm 51
Dis tog snaaks hoe diep mens dikwels beinvloed word deur persepsies. Iemand het eenmaal gesê dat persepsies die moeilikste ding is om te vernader. Dit is baie waar ook van ons lees van Psalm 51. In die opskrif van hierdie Psalm lees ons dat dit betrekking het op Dawid nadat hy nie alleen owerspel nie, maar boonop moord gepleeg het. Dan luister ons so met ‘n halwe oor verder want ons het mos nie owerspel en moord gepleeg nie. Dan dink ons: dis pragtig, maar nie heeltemal van toepassing op my nie. So mis ons die boodskap van hierdie Psalm vir ons.

Psalm 51 is nie net vir Dawid geskryf nie. Miskien gaan dit terug op ‘n lied van Dawid. In vers 20 word egter na die vervalle mure van Jerusalem verwys. Dit was beslis nie die geval in die tyd van Dawid nie, maar verwys na ‘n situasie minstens tydens die ballingskap. Ook ander uitdrukkings in die Psalm kan verwys na ander situasies, soos die verlossingsdaad (vers16) wat dikwels verwys na verlossing uit die mag van die vyand. Ons sou dus uit die Psalm self kon aflei dat latere lesers ten minste dit van toepassing gemaak het op hulle eie situasie deur toevoegings of aanpassings te maak.
Ons kan dus nie rustig angteroor sit nie, maar moet besef dat hierdie Psalm ook oor onsself gaan. Ons moet ons eie situasie hierin sien. Ons moet saam deel hê aan hierdie Psalm, saam bely, saam om genade smeek en saam jubel oor ons vergifnis.

Die tema van hierdie Psalm vind ons in die eerste sin: Wees my genadig, o God, in U troue liefde. Dit is ten diepste ‘n smeekgebed om genade. Die digter pleit om die genade van die Here. Dit doen hy nie op grond van sy belydenis of sy verdienste nie. Dit doen hy slegs op grond van die liefde van God.

Hy verdien dit nie, en hy kan niks doen om daarvoor te vergoed nie.Om genade van God te ontvang, kan slegs geskied deur die genade van God. God alleen kan Sy genade gee. Dit word in die volgende sin herhaal, en kom telkens in hierdie Psalm na vore. Nie op grond van ons verdienste nie, nie op grond van wie ons is of wat ons gedoen het nie, nie op grond van ons nie, maar slegs op grond van God self. Hy alleen kan Sy genade gee. Ons kan nie eens na al die tekste waarin dit duidelik uitgespel word in die loop van ‘n uur verwys nie. Daar is te veel, die Bybel is vol daarvan.

Dit beteken ook dat ons dit nie eens kan vra op grond van ons skuldbelydenis, so asof ons skuldbelydenisse ‘n goeie daad is wat ons verrig nie. Daar is geen grond vir ons pleit om genade van die Here nie.

Dit beteken nou nie dat ons nie ons skuld moet bely nie. Psaml 51 leer ons juis dat ons ons skuld moet bely. Die Psalm gaan ook dan voort met talle skuldbeleydenisse. Met herhaling verwys hy na sy sonde, en gebruik hy talle woorde om sy skuld en sonde en oortredinge te bely. Hy bely dat sy hele lewe besaai is met sonde. Dat sy sonde nie van vandag af kom nie, maar van sy geboorte af. Ja van die oomblik van sy geboorte af, was hy met sonde belaai. Hy is in ‘n sondige wêreld gebore en sondig self van vroeg af.

Die vraag kom dan: wat is sonde? Hier word nie na ‘n spesifieke daad verwys nie. Die naaste wat hy daaraan kom, is om te sê dat hy gedoen het wat verkeerd is in die oë van die Here. Sonde is ten diepste om nie te luister na die Here nie. As ons weer na die verhaal van Genesis 3 kyk, dan sien ons dat die mens soos God wou wees. Die mens wou gelyk aan God wees en self die plek beklee wat God beklee. Sonde is dan om God uit jou lewe te ban en self die plek van God te wil inneem. Alles wat ons dus nie in verbondenheid aan God tot eer van God doen nie, is sonde. Sonde hoef dus nie net lelike dade te wees nie. Dis alles wat nie in verbondenheid aan God, saam met die Here gedoen word nie.

Deur die sonde word die band met God verbreek. Daarom beroof die sonde ons van die diepste wese van menswees, want om mens te wees beteken mos om aan God verbonde te wees. Om sy skaduwee te wees. Sonde maak ons dood, dit breek die band met God en beroof ons van die sin en die doel van ons bestaan. Dit is wat Psalm 51 so duidelik uitspel. Die lewe sonder God het geen sin nie, en die sonde beroof ons van die sin en doel van ons lewe. Dit bring net ongeluk en smart.

In Psalm 51 pleit die digter dat die Here die sonde sal uitwis, dat Hy dit sal wegneem sodat dit nie meer daar is nie. Dat Hy dit sal wegwas sodat alles weer skoon sal wees, dat Hy dit sal wegneem dat dit glad nie meer sal bestaan nie. Hy pleit om genade sodat die verhouding met die Here weer volkome sal wees en daar niks meer sal wees wat skeidining bring tussen hom en God nie.

Terselfdertyd worstel die Psalmdigter met die vraag wat die Here van ons verwag. Telkens kom hy met die antwoord dat die Here nie van ons offers verwag nie. Wat Hy eerder vra is opregtigheid, verootmoediging en ‘n hart vol oormoed en berou. Dit gaan dus primer om ‘n gesindheid, ‘n gesindheid wat getuig van nederigheid, liefde en oorgawe. Die Here vra nie groot en baie offers nie. Nie uiterlike handelinge en vertoon nie. Nie groot en opsraakwekkende openbare handelinge nie. Al wat God vra is opregtheid. Dat ons eerlik en opreg sal leef. Eerlik sal wees teenoor Hom, onsself en ander mense.

In alle opsigte moet ons saam met die Here leef en werk; in noue verbintenis met Hom. Tot Sy eer moet ons leef en werk. Sy beeld moet uit ons lewens uit straal.

Uit die Psalm word dit duidelik dat die digter die vaste geloof het dat as die Here die sonde vergewe, dit lei tot die totale verandering van die belewenis van die werklikheid. Alles verander en word nuut. Blydskap vul die lewe. Weg is die wroeging, die kommer die ongeluk. In die plek daarvan beleef die digter vreugde, en kan hy sing, jubel en juig. ‘n Rein hart, ‘n skoongewaste lewe, ‘n Geesvervulde lewe – dit is die genadegawe van die Here...Hy maaak alles nuut. Hy vul die mens met Sy Gees. Hy reinig die mens. Hy maak alles nuut. Geen wonder dat dit nie anders kan as dat die digter kan sing en die Here prys nie.

Is dit nie juis waaraan elkeen van ons so ‘n diep behoefte het nie? Wie wil nie nuut begin nie? Met al die sonde en lelike dinge uitgewis nie? Psalm 51 gee aan ons die riglyne hiervoor: pleit net om genade by God op grond van Sy liefde. En aanvaar wat Hy in liefde aan ons gee.

Op grond van die erns waarmee die digter pleit en die toon van die hele Psalm, is dit duidelik dat dit nie ‘n ligtelike speel met woorde is nie. Hy is baie ernstig. Die pleitstem kom diep uit sy hart. Hy weet baie goed dat die pleit nie beteken dat ons weer kan aangaan en in sonde leef nie. Nee, as God ons nuut gemaak het deur Sy genade, moet ons as nuwe mense elke dag in noue gemeenskap en verbondenheid en toewyding aan Hom leef. Dan moet ons die ou dinge agterlaat.

Hierdie Psalm wil vir ons vanoggend oproep om ons foute te erken, ons sondes te bely en om genade te smeek. Dit wil ons oproep om ons ook ons kinders te leer dat dit belangrik is om ons foute te erken. Om te erken dat ons ander deur ons optredes seer gemaak en ander in die steek laat. Om te erken dat ons nie altyd reg is nie en dat ons soms ‘n alte hoë dink van onsself het. Om te erken dat hoogmoed tot val lei en dat selfverheffing lei tot selfvernietiging. Erken jou foute ook teenoor ander. Bely jou liefdeloosheid en selfsug. As ons dit doen, kan ons ook sing van die bevryding en nuwe lewe in Jesus!
0 Kommentaar: so far: