POSTED BY Steven Sass on 21:50 under

24 Februarie 2013 Patensie
Hoe antwoord God op ons klagtes?
Habakuk 1:5-17; 2:1-20
Hoe anders is die antwoord van God dikwels nie. So anders as wat ons verwag. Soms wil ons uitroep: “Nie so nie Here! Nee dis nie die antwoord wat ons wil hoor nie.” Soms dink ons mos dat God glad nie gehoor het wat ons klagtes of vrae was nie. So asof Hy nie mooi verstaan het wat ons probeer sê het nie. Soms dink ons Hy antwoord glad nie omdat ons die antwoord wat Hy wel gee, nie wil aanvaar nie. Ja, God se antwoord is dikwels so anders, selfs skokkend en onbegryplik. Dit het Habakuk ook ervaar.

Habakuk het ernstig met die Here gepraat omdat wat hy beleef het, nie gerym het met wat hy geglo het nie. As hy so byna rasend en verwytend met God praat, ignoreer die Here hom nie. Hy raas ook nie met Habakuk nie. Die Here antwoord hom. Hy tree in gesprek met Habakuk...

Uit die eerste antwoord van die Here kom veral drie aspekte na vore. Die eerste is dat die antwoord van die Here inderdaad soms radikaal verskil van wat ons verwag.

 Habakuk het gekla oor die feit dat dit met die goddelose goed gaan en dat dit met die gelowiges sleg gaan. Hy het immers verwag dat die Here sal sê dat die goddelose  vernietig sal word en dat dit dan met die gelowiges sal goed gaan. Maar wat sê die Here? Hy sê dat die Galdeërs sal kom en die goddelose koning sal vernietig . Die ondergang van Jojakim was in lyn met die verwagting, maar die oorheersing van die Galdeërs pas nie. Hoe kan dit dan met die gelowiges goed gaan? Die Gladeërs ken God glad nie. Watter oplossing bied dit as een goddelose mag deur ‘n ander vervang word? En as hierdie goddelose mag nog ‘n vreemde volk is wat ander gode aanbid en bekend is vir sy wreedheid, onderdrukking, en godsdienstige onverdraagsaamheid, dan is dit mos nie ‘n aanvaarbare antwoord nie. In elk geval nie ‘n verwagte antwoord nie.

Dat God nie ‘n fout gemaak het in Sy antwoord nie is duidelik uit die gedetaileerde beskrywing van die optrede van die Galdeërs. Nee, God bedoel dit. Die Galdeërs sal kom, die koning uit die kussing lig, die land en stad verower en die inwoners onderwerp en in ballingskap wegvoer. Radikaal anders as wat verwag is en waarop gehoop is, is die antwoord van die Here.

Baie van ons sal kan saamstem dat die antwoorde wat die Here gee, soms radikaal anders is as wat ons verwag het of waarop ons gehoop het. Soms is dit so radikaal anders dat ons dit nie eens gehoor het as antwoorde van die Here nie.

Die tweede aspek wat hier na vore kom, is dat die Here in beheer is van die ganse geskiedenis. Destyds het die gelowiges gedink dat God veral met hulle besig is...Israel is die volk van God.Hy is besig met Sy volk en Sy land en Sy kinders. Nou sê die Here dat Hy die Galdeërs sal stuur, Hy is in beheer van die Galdeërs en al die magte en volke.

 Ons erken dit nie maklik nie, maar soms dink ons maar so. God is besig met ons. So asof Hy nie in beheer is van die hele wêreld is nie. Miskien dink ons dat die Here in beheer is van al die Christen volke, maar nie eintlik van die heidenvolke wat ander gode dien nie. Nee, Hy is in beheer van die hele aarde en ganse skepping. Niks staan buite Sy magsgebied nie.

Derdens is dit hier duidelik dat die antwoord van die Here onbegryplik is. Die Here antwoord Habakuk dat Hy die Galdeërs sal stuur en sê van hulle: “Vir hierdie sondige nasie is sy eie mag sy god (Hab. 1:11). Hoe kan God hulle gebruik om die ongelowige koning van sy volk te straf en die gelowiges te onderwerp en onderdruk? Habakuk en die gelowiges van sy tyd kon dit net nie verstaan nie. Vir ons is die antwoorde van die Here ook maar soms onbegryplik. Ons kan dit net nie verstaan nie. Dit maak nie vir ons sin nie. Dit sluit nie aan by wat ons glo nie. Ja, God se antwoorde is soms onbegryplik.

Nadat dit wat die Here geantwoord het, ‘n werklikheid geword het en die Galdeërs die volk met mag en geweld oorwin en onderwerp het, worstel Habakuk weer met God. Sy worsteling het dieselfde basis as die vorige keer, maar dis net soveel dieper. Die ellende is groter. Nou rym dit wat hy beleef nog minder met wat hy oor God geken en bely het.

 Habakuk bly egter die gelowige. Hy maak hom klaar vir die antwoord van die Here. Soos ‘n soldaat op die wagpos is hy gereed vir die antwoord. Habakuk 2:1 beklemtoon vir ons die verantwoordelikheid om ons voor te berei vir en in te stel op die antwoord van die Here.

Die tweede antwoord van die Here is minder skokkend as die eerste. Maar weer beantwoord die Here nie Habakuk se vrae direk en op die wyse wat hy sou verwag nie. Habakuk kry eers die opdrag om die antwoord van die Here neer te skryf. Dit moet hy groot doen sodat mense dit sommer in die verbygaan kan lees. Soos ‘n advertensiebord langs ‘n snelweg. Hierop staan die kernboodskap; “Wie nie reg gesind is nie, sal sy verdiende loon kry, maar wie reg doen, sal lewe omdat hy getrou bly(Hab.2:4). Paulus het dit later so verwoord: “die goddelose sal sekerlik sterf, maar die regverdige sal deur die geloof lewe.”

Dit word uitgestippel in die verse wat volg. In vers 5-8 wys die Here op die nutteloosheod van hoogmoed en rykdom. ‘n Hooghartige mens wat hom laat mislei deur sy rykdom sal nie in sy doel slaag nie. Die een wat dink hy is beter as ander, wat sy lewe daarop instel om skatte bymekaar te maak, sal diep ontnugter word. Dis mos die mense wat nooit genoeg kry nie en so gulsig soos die dood is. Hoe dikwels word dit nie in die bybel herhaal nie. Het Jesus nie self by herhaling teen hoogmoed en die bymekaarmaak van skatte gewaarsku nie? Hoe tragies dat dit vandag nog een van die kenmerke van ons gemeenskap is.Ons weet mos dat dit geen heil inhou nie en nie blywende geluk tot gevolg het nie. Tog is ons so hooghartig. Ons meet mekaar in besittings.

In verse 15-17 word die vergeefsheid van magsmisbruik skerp veroordeel. In Sy antwoord wys die Here daarop dat magsmisbruik lei tot val. Die heerser het volgens hierdie verse nie net mense nie, maar ook die natuur, omgewing en selfs diereryk uitgebuit, mishandel en msibruik. Dit het gelei tot sy diepe val en skandelike en eerlose ondergang.

Laastens antwoord die Here dat afgodediens vergeefs is. Daar is maar een God, die Here. Wie iets anders tot god verhef, skep self ‘n god wat nie bestaan nie. So ‘n handeling is sinloos. So ‘n god bestaan nie,en kan niks doen nie. Is dit nie iets wat ons moet leer nie? Ons skep so baie gode en rig ons lewens op hulle. Ons stel so baie dinge, en veral die materiële in die sentrum van ons lewe. Hier leer ons dat dit tevergeefs is.

Die antwoord van die Here word afgesluit met die woorde: “ Die Here is in Sy heilige tempel: almal op aarde moet in Sy teenwoordigheid stil wees!”(Habakuk2:20). God is daar. Hy leef. Hy regeer. Hy is in beheer! Almal moet stil wees voor Hom. In stille verwondering voor Hom staan. In stille verwondering leef...
1 Kommentaar: so far:
    KOBUS FERREIRA 2/25/2013 05:57:00 am , said...

    BAIE DANKIE EK HET GISTER GETUIG VAN SY LIEFDE EN OORGEE IN MY LEWE.EK WIL HOM DIEN MET MY HELE HART.DIE HERE GEBRUIK JOU OP N BESONDERE MANIER.HY IS IN BEHEER PRYS SY NAAM.