12 Augustus 2012 Patensie
Seën ons kindertjies
Matteus 19:13-15
Jesus was baie lief vir kindertjies. Hieroor kan daar nie
twyfel wees nie. Dit was ook geen geheim nie. Die mense het dit almal geweet.
Ons lees op verskillende plekke hiervan. Sy optrede teenoor kindertjies staan
nog meer uit as mens dit sien teen die agtergrond van die tyd waarin Jesus
geleef het.
Dit is so dat kinders in Bybelse tye gesien is as ‘n
besonderse seen van die Here. Dit is die Here wat aan die ouers kinders skenk.
Kinders is Sy genadegawe aan die ouers. Tog het kinders nie juis ‘n belangrike
plek in die sosiale lewe beklee nie. Hulle het ‘n ondergeskikte plek in die
sosiale rangorde beklee, darem net bokant die slawe van destyds.
Kinders het destyds nie in die middelpunt gestaan soos vandag,
en al die aandag gekry nie. Hulle was nie die spil waarom ‘n geselskap of die
gesinslewe gedraai het nie. Kinders was maar eintlik op die agtergrond, hulle
moes gesien maar nie gehoor word nie. Hulle mag nie inbreuk gemaak het op die
werk en sosiale lewe van die ouers en veral die pa nie.
Nou lees ons hier dat die mense hulle kindertjies na Jesus
gebring het sodat Hy hulle die hande moes oplê en vir hulle moes bid.
Dit sluit aan by ‘n baie ou gebruik. Dit was die gebruik dat ‘n rabbi sy hande
op die kindertjies gelê het en op hulle die seën van die Here afgebid het. Die
gebruik sluit weer aan by die gebruik van die bejaarde en sterwende pa om sy
hande op sy kinders te lê en hulle te seen. Hiervan het ons talle voorbeelde in
die Bybel, soos Isak en Jakob wat hulle seuns geseën het voor hulle dood.
Die oplê van die hande het
destyds veral daarop gedui dat iets van die een persoon na die ander gevloei
het. So het die krag of aansien of eer van die pa deur die handoplegging
oorgegaan na die kind. Dit kom byvoorbeeld baie duidelik na vore as die vrou
wat aan bloedvloeiing gely het, aan Jesus geraak het of die talle kere dat
Jesus siekes aangeraak en hulle gesond geword het. Sy genesende krag het van
Hom na hulle toe gevloei en ‘n verandering in hulle lewens tot gevolg gehad. As
die ouers dan hulle kindertjies na Jesus bring en vra dat Hy hulle aanraak, dan
vra hulle daarmee dat iets van Jesus se krag en liefde; ja iets van Homself
moet oorvloei in hulle kindertjies in.
Ons het nie vandag meer ‘n soortgelyke
gebruik nie. Dis jammer, want ons mis iets van die simboliek van hierdie
handeling. Veral omdat ons vandag nogal telkens kennis neem van studies wat
aantoon hoe belangrik aanraking in en vir die ontwikkeling van kindertjies is. Babas
wat baie en met liefde aangeraak word,
ontwikkel vinniger en is rustiger en meer tevrede babas was die wat min
aangeraak word. Om aan te raak, is teken van liefde. Dit maak die kindertjies
geborge en laat hulle veilig voel.
Miskien moet ons meer hiervan
maak- ook in ons huise. Ons moet ons kindertjies aanraak en hulle ook veilig
laat voel. Ons moet hulle leer dat Jesus hulle deur ons aanraak en dat Sy
liefde deur ons na hulle vloei sodat hulle kan weet dat hulle veilig is in Sy
hande.
Die ouers het hulle kindertjies
na Jesus toe gebring met die versoek dat Hy vir hulle moet bid. Hiermee het die
ouers Jesus as Rabbi of leermeester of godsdienstige leier erken. Hulle vra dat
Hy die seen van die Here op hulle
kindertjies sal afbid.
Dit wil voorkom dat ons hieruit
kan leer dat ons ons kindertjies ook moet bring sodat die seën van die Here oor
hulle ook afgebid kan word. Dit behoort een van die primêre take van ‘n
godsdienstige leier, hetsy dominee, ouderling of wie ook al, te wees om die seen
van die Here af te bid op die kindertjies. Dit behoort natuurlik juis ook die
roeping van elke ouer te wees om die seen van God aft e bid op jou eie kinders.
Want sonder die seen van God is daar nie lewe nie, soos ons, is hulle volkome
afhanklik van die seen van God om sinvol te kan leef.
Die vraag is, of ons genoeg bid
vir ons kinders? Bid jy daagliks die seen van God af op jou kinders? Bring ons
hulle elke dag in gebed na Jesus en vra dat Hy die seen van die Vader op hulle
sal afbid en laat kom?
IN die volgende vers lees ons
dat die dissipels met die ouers geraas het. Hoe kan julle Jesus hiermee lasting
val? Julle kan mos sien dat Hy besig is. Die mense put Hom uit, moet Hom nie
nou nog met kindertjies belas nie. Die kindertjies is tog nie so belangrik nie.
Hulle is nie belangrik genoeg om aanspraak te maak op die tyd van Jesus nie.
Dis baie tragies. Maar gebeur dit nie vandag nog ook dikwels nie? Ons
eredienste is gerig op die volwassenes met so af en toe ‘n kinderdiens of so ‘n
klein tydjie wat darem aan die kinders afgestaan word. Ons dink die kindertjies
sal dit tog in elk geval nie verstaan nie. Daar is mos nog baie tyd vir hulle.
As hulle groot is, kan hulle ook hierin deel.
Die dissipels raas met die
ouers, maar Jesus raas met hulle. “Laat staan die kindertjies en moet hulle nie
verhinder om na My toe te kom nie, want die koninkryk van die hemel is juis vir
mense soos hulle.” In die Markusevangelie word hier bygevoeg: “Dit verseker Ek
julle: Wie die koninkryk van die God nie soos ‘n kindjie ontvang nie, sal daar
nooit ingaan nie”(Markus 10:15).
By ‘n nader geleentheid het
Jesus ‘n kindjie geneem en vir die dissipels gesê dat kindertjies die grootste
in die koninkryk van God is. Wat bedoel Jesus hiermee? Is die koninkryk van God
dan net vir kinders? Word volwassenes dan uit die koninkryk van God uitgesluit?
Nee, wat Jesus hier beklemtoon, is die kinderlike geloof. ‘n Kind glo
onvoorwaardelik. ‘n Kind glo met oorgawe. ‘n Kind glo opreg. Nie soos
volwassenes wat dikwels voorwaardelik glo nie. As die Here dit doen, dan sal ek
glo. As dit of dat gebeur of bewys of beantwoord kan word, dan sal ek glo. As....
dan.... Dis nie geloof nie. Teenoor die kinderlike geloof met oorgawe, vind ons
mos die geloof sonder passie en oorgawe. Die louwarm geloof van so baie
volwassenes. Die geloof wat net vir die noodgeval daar is, maar nie my lewe
bepaal en beinvloed nie. Teenoor die opregte kinderlike geloof, staan die
onegte geloof. Die geloof wat niks anders is as ‘n assuransiepolis is nie. Dit
is daar vir die ongeluksdag of as ek self nie kan nie, maar andersins laat ons
dit gerieflikheidshalwe tuis.
Ek het so ‘n idee dat ons weer ‘n
slag ernstig moet kyk hoe kinders glo en hoe hulle die Here dien. Dan sal ons
weer besef wat Jesus van ons vra. Al klink dit baie vreemd, is dit nodig dat
volwassenes en ouers by kindertjies moet leer hoe om te glo, en die Here te dien.
Die ouers het hulle kindertjies
na Jesus gebring sodat Hy hulle die hande kon oplê en vir hulle kon bid. Nou
ontvang hulle ook baie. Hulle leer hoe om Jesus te dien en te volg. Hulle leer
nou wie die belangrikste in die koninkryk van God is. Hulle leer wat die
prioriteite in die koninkryk van God is. Dis iets wat elke gelowige ouer ook
mos telkens ervaar. As ons kinders na Jesus bring, dan ontvang ons ook baie.
Ons deel in die seen van die Here wat ons afbid oor ons kinders.
Jesus het Sy hande op die
kindertjies gelê en hulle geseën. Hy laat hulle vol en ryk van Hom af weggaan.
Jesus stuur kinders nooit met leë hande en harte weg nie!
Post a Comment