POSTED BY Steven Sass on 21:04 under

19 Augsutus 2012 Patensie
Kinderplesier en uitdagings
Psalm 127

Psalm 127 is seker een van die mooiste Psalms. ‘n Psalm wat ons baie goed ken. In hierdie Psalm val die klem op die noodsaaklikheid van die teenwoordigheid en betrokkenheid van die Here by die lewe van die gelowige, met die klem op die betrokkenheid van die Here by die gesinslewe van die gelowige.

Die Psalm val in twee hoofdele uiteen. Maar dis eintlik twee kante van dieselfde muntstuk. In die skadukant word die saak op negatiewe wyse belig en aan die ligkant word dit op positiewe wyse belig. Dit is in ooreenstemming met ‘n ou Hebreeuse gebruik, naamlik om eers iets negatief te stel ten einde die positiewe sterk te belig.

Lees mens die eerste vers, dan wonder jy of die Psalmis sê dat alles tevergeefs is. Dit is nie die geval nie, Nee, hy sê dat alles sonder God tevergeefs is. Sonder God kan ons nie ‘n huis bou of ‘n stad beskerm nie, en is dit tevergeefs dat ons van vroeg tot laat hard werk. Sonder God is die lewe sinloos. Hy sê dat ons hele lewe en elke aspek van ons lewe sinloos is as God nie betrokke is by elke ding wat ons doen en by ons hele lewe nie.

Dit beteken dat as ons kla dat alles wat ons doen tevergeefs is, dan beteken dit dat God nie met ons is nie. Dit ruk ons tot nadenke oor ons lewe en veral oor ons klagtes en siening van ons situasie.

“As die Here die huis nie bou nie, swoeg die wat daaraan werk tevergeefs”. Hier gaan dit om die letterlike bou van die huis, maar ook om die figuurlike bou van ‘n huis. Letterlik is die werk van die bouers wat saam met die Here werk en in verhouding tot en vertroue op God bou nie, tevergeefs.

Maar dit gaan ook oor die figuurlike bou van die huis. Dit gaan oor persone wat in die huwelik tree en die paartjie wat ‘n gesin begin en so bou aan ‘n huisgesin. As ons nie ons huwelik ingaan saam met die Here nie en as die Here nie elke dag saam met ons in die huis is en die Hoof van ons huis is nie, dan is alles tevergeefs.

Tevergeefs sal ons met allerlei slim en goeie maniere probeer om ‘n gelukkige en gesonde huislike lewe te bou as ons nie die Here innooi en saam met Hom bou aan ons huislike lewe nie. Kyk ons na die verval in ons gesinslewens en hoor ons hoe huise uitmekaar spat, dan kom die vraag al sterker: het ons nog nie geluister na Psalm 127 nie? Sal ons dan nie juis nou erns maak met hierdie teks en die Here vra om te help bou aan ons huis nie?

As die Here die stad nie beskerm nie, waak die wat beskerm tevergeefs. Nie net by die opbou van iets het ons die hulp van die Here nodig nie, maar ook by die beskerming daarvan. Hier word die beeld van ‘n stad en die beskerming daarvan gebruik.

Weereens dui die stad nie net op die gebou nie. Hoeveel ryke het nie al geval vanweë morele verval en interne spanning en struwelinge nie? As die Here ons nie beskerm nie, dan is al ons pogings tevergeefs. Ons mag nie op al ons sekuriteitmaatreëls staatmaak en die Here vergeet nie. Dit beteken nie dat die stad nie beskerm moet word en dat ons nie sekuriteitmaatreëls moet tref nie. Net dat ons die Here nie moet uitlaat nie. Hy is immers die Here wat alles beheer en wat ons beskerm. Sonder Sy beskerming is daar vir ons geen hoop of toekoms nie.

Die Psalmis gaan voort en sê dat al ons harde werk tevergeefs is sonder die Here. Dis verniet dat ons vroeg opstaan en tot laat werk as ons dit sonder God doen. Dan sal ons nie vrug op ons arbeid pluk nie. Nou kan ons dink dat dit nie waar is nie, want daar is mos baie ryk mense wat glad nie in die Here glo nie. Maar is al hulle werk en bymekaarmaak van skate nie tevergeefs nie, want wat sal al hulle skate hulle baat as hulle die dag tot sterwe kom? Sonder God kan daar geen sprake van ware sin in die harde werk wees nie.

Om dit te beklemtoon, sê die digter: “Vir die wat Hy liefhet, gee die Here dit in hulle slaap.” Dit is nogal moeilik om die vers te vertaal en te verklaar. Dit kan weergegee word met: Vir die wat Hy liefhet, gee die Here slaap. Om rustig te kan slap, is dan ‘n gawe van God. Die gelowige wat nie bekommerd is oor sy lewe en die lewe nie, kan rustig slaap.

Maar dit kan ook beteken dat die Here in die rustige slaap van die gelowige vir hom aantoon wat van hom verwag word en wat hy/sy moet doen. Staan ons nie soms op met die duidelike wete van wat ons moet doen nie? Ons moet net nie dink hierdie teks sê dat die gelowige maar net moet slaap en niks hoef te doen nie, want omdat die Here ons liefhet, sal Hy alles vir ons gee, selfs allerlei luukse en onnodige dinge nie. Dis beslis nie wat hier staan nie en rym nie met wat die Bybel vir ons leer nie.

Dit lyk my die mees waarskynlike is dat die teks op hierdie treffende manier net vir ons sê dat die Here onverdiend vir Sy kinders gee wat hulle nodig het. As jy slaap, doen jy mos niks en kan jy dus ook niks verwag nie. So gee die Here onverdiend aan ons uit Sy grote liefde.

Dit lyk asf die digter dan vanaf vers 3 met ‘n heel nuwe gedagte na vore kom. Sommige het al gesê dat ons hier twee Psalms het wat saamgevoeg is. Maar dis nie so nie. Die Psalm vorm ‘n eenheid met woorde wat dwarsdeur gebruik word. Eintlik word die boodskap van die eerste verse hier net op ‘n ander manier beklemtoon. Die Hebreeuse woorde vir bou (bana) en seuns (baniem) lyk en klink nogal baie na mekaar. Ons het dan hier ‘n uitbouing van die eerste gedagte, naamlik die bou van ‘n huis.

Dit word gedoen by wyse van ‘n seënbede. Seuns is geskenke van die Here; kinders word deur Hom gegee. In die Ou-Testamentiese tyd is dit absoluut geglo. Dis dan geen wonder dat die Here in Jesaja 7:14 vir Agas sê dat sy vrou ‘n seun sal hê en dat die seuntjie die teken van God se teenwoordigheid is nie. Kinders is nie net geskenke van God nie, maar moet ons elke dag ook herhinder aan die teenwoordigheid van die Here. Hulle herhinder ons aan die Here wat hulle aan ons gegee het.

Elke gelowige glo mos dat ons kinders geskenke van God is. Nou is dit so dat kinders vanaf geboorte  nie net ‘n besonderse plek in mens se hart inneem nie, maar dat ouers se lewens vandag nog tot ‘n groot mate sentreer om hulle kinders. En dis reg. Geniet julle kinders! Hulle is geskenke wat wardeer en geniet moet word. Die skatlike babatjie. Die sprankelende ogies. Elke treetjie wat op die ontwikkelingspad gegee word. Die babageluide, die eerste woordjies...

Dis nie net in hulle kinderjare dat hulle ‘n geskenk van God is nie. Ook in die tienerjare bly hulle gekskenke van God. Al gaan hulle deur moeilike fases en is daar tye wanneer ouers sê dat hulle nie van die kinders hou nie, al het hulle hulle lief. Al is daar pa’s wat tienerseuns wil offer soos Abrahm Isak wou offer. Tog is hulle dan ook geskenke van die Here.

As ons mooi daaroor dink, is daar selfs dan baie kosbare tye. Hulle kan so kostelik wees met hulle redenasies. Dis so lekker om hulle te sien grootword en meer verantwoordelikheid neem en meer selfstandig word. Ja, ook in hulle studentejare en jongmensjare en nog heel later bly kinders ‘n wonderlike en groot geskenk van die Here.

Miskien moet ons dit baie meer beklemtoon. Dit sal ons verhouding tot ons kinders bepaal. As ouers moet ons ons kinders wardeer as geskenke van God. Hulle is daarom kosbaar en moet met liefde behandel word. Met liefde versorg en beskerm word. Met liefde en wardering moet ons die pad saam met hulle loop. Hoe eensaam kan ‘n pad sonder kinders nie wees nie.

Maar voordat ons kinders dink dis net vir die ouers. Hier lees ons dat seuns soos pyle in die hand  van die krygsman is en dat die man wat seuns het, met vrymoedigheid in die stadspoort met die vyand onderhandel. Hier word twee dinge gesê: seuns maak hulle ouers sterk en seuns beskerm of sien om na hulle ouers.

Ouers kan kragtig optree, want hulle kinders ondersteun hulle. Kinders maak ouers sterk en kragtig. Krag kom nie altyd van binne af nie. Soms voel mens kragteloos en dan kyk jy weg van jouself en kry jy skielik krag. Die pa wat sy kinders sien, word sommer sterk. As hy moedeloos word en wil tou opgooi, dan is die kinders daar en weet hy dat hy sterk moet wees vir hulle. Hy moet aangaan want hulle maak staat op hom.

Kindes wat positief is, beur hulle ouers op en maak dat hulle ouers sommer kans sien vir baie. Die teenoorgestelde is ongelukkig ook waar. Kinders kan ouers afbreek en tot die dood toe moeg maak. Elke kind het dan die verantwoordelikheid om sy ouers sterk te maak en aan te moedig en om vir hulle iets te gee om na uit te sien en voor te leef.

Die digter van Psalm 127 sê hy tree kragitg en sterk op omdat sy seuns rondom hom staan om hom te beskerm. Kinders het dus die taak om hulle ouers te beskerm! Om na hulle ouers om te sien. Is dit nie iets waaraan elkeen van ons wat die voorreg het om ouers te hê ernstig moet aandag skenk en dit prakties moet uitleef nie?

Psalm 127 sê dat as die Here saam met ons aan ons huise bou, dan sal ouers kinders behandel as geskenke van God en sal kinders die belange van hulle ouers voorop stel. Dan word daar nie tevergeefs gebou nie.

Psalm 127 vra dat die hoorder sy eie lewe onder die soeklig plaas. Hoe bou ek aan my huis? Hoe beskerm ek wat aan my behoort? Hoe werk ek? Sonder God is alles tevergeefs en sinloos. As die Here met ons is, kry alles nuwe betekenis en het alles sin. Dan word die lewe ‘n fees. Dan is my gesninslewe ‘n fees en is ons kinders ‘n plesier....
0 Kommentaar: so far: