POSTED BY Steven Sass on 05:44 under


29 Julie 2012 Patensie

Eksodus 20:12
Teen hierdie tyd weet ons hopelik almal dat die Tien Gebooie alleen te verstaan is in die lig van die opskrif of inleiding van die Tien Gebooie: “Ek is die Here jou God wat jou verlos het.” Ook hierdie gebod wat handel oor die eer van die ouers, moet in die lig van hierdie selfbekendstelling van die Here verstaan word.

Die verlossing raak nie alleen deel van ons lewe nie, maar ons hele lewe. God doen nie halwe werk nie. Hy verlos nie net die siel van die mens nie, maar die mens in die totaliteit van ons menswees. Die verloste kind van God staan daarom nie net in ‘n nuwe verhouding tot God nie, die kind van God staan ook in ‘n nuwe verhouding tot sy/haar familie, gemeenskap en staat. Alles het nuut geword.

As die Here ons verlos het, dan word alles nuut en moet die nuwe lewe sigbaar word op alle terreine.

In die Tien Gebooie word die nuwe verhouding tot God eerstens uitgespel in die eerste vier gebooie. Dit moet egter ook op alle ander terreine sigbaar word.

 Die tweede tafel van die tien Gebooie, wat handel oor ons verhouding tot ander mense, begin by ons verhoudings in die huisgesin. Daar moet die verlossing eerste gesien word. Daar moet ons getuienis eerste uitgedra word.

Dit is jammer dat woorde soms hulle betekenis verloor. Ons gebruik soms woorde wat so mooi klink sonder dat ons dink aan die betekenis daarvan. Een so ‘n woord is eer. Wat beteken die woord eer? As ons dit moet omskryf, sukkel ons mos maar dikwels. In Hebreeus hang dit saam met respek en ontsag vir wat swaar of gewigtig is.

In die Ou-Testamentiese tyd het eer en skande ‘n verskriklik belangrike plek ingeneem. Dit kan met reg gesê word dat eer die basis van die samelewing gevorm het. Hierop is die hele samelewing gebou. Die eer van die familie het bo alles gestaan. Alle handelinge en woorde was daarop ingestel om die eer van die familie uit te bou en in stand te hou.

Ons kan maar deur die Ou Testament blaai en dit kom eintlik so baie keer voor dat alles daarop ingestel was om die eer van die familie uit te bou en te beskerm. Wie so opgetree het dat die eer van die familie in gedrang gekom het, is swaar gestraf. Trouens ons sou sover kon gaan om te beweer dat alle bepalings oor verhoudings en die optrede van mense daarop ingestel was om eer te bou en te beskerm. In hierdie lig moet ons ook hierdie gebod sien.

Die ouers was dan juis die persone in wie die eer gesetel was. Hulle was die primêre draers van die familie eer. Hulle status het die eer van die familie en gesin bepaal. Hulle posisie moes nie net in ere gehou word nie, maar daar moes so opgetree word dat hulle posisie verbeter en uitgebou word.

Dit is so jammer dat ons dit vandag dikwels vergeet. Geen samelewing kan voortbestaan as daar nie respek en eer is nie. Ons moet mekaar eer en respekteer. Is dit nie die basiese probleem van ons tyd nie? Dat daar so min respek is? So min eer wat gegee word.

Dit begin in die huis. Ouers is die setel van die familie tradisies. Hulle moet die naam van die familie in ere hou. Ons moet so leef dat die eer van die familie in stand gehou word. Dit lê dan ‘n besondere verantwoordelikheid op elke ouer.

Dit lê ook ‘n besondere verantwoordelikheid op elke kind. Ons moet so leef dat alles wat ons doen die eer van ons ouers hoog hou. Ons kan nie ons ouers kies nie. Ons liefde vir ons ouers mag dan ook nie voorwaardelik wees nie. Namate ons ouer word, moet ons dan juis hulle hoog hou en eer.

Dit is dan voor die hand liggend dat ons die gesag van ons ouers sal aanvaar, en dit nie net passief nie. Nie maar net dinge doen omdat ons ouers so sê nie, dit ook, maar ons moet dit aktief doen. En dis belangrik: die versorging en onderhouding van ons ouers. Dit sluit nie net byvoorbeeld die versorging van ons bejaarde ouers in nie, maar die uitreik na ons ouers.

 Weet en besef ons altyd hoe ons ouers daarna uitsien en verlang dat ons as kinders sal uitreik na hulle? Soos kinders verlang na aandag en ondersteuning van hulle ouers, so verlang elke ouer na die ondersteuning van hulle kinders. Ons as ouers wil ook hê dat ons kinders na ons toe moet kom, saam met ons dinge doen, moet belangstel in wat ons doen en tyd moet hê vir ons.

As ons na hierdie gebod luister, pas dit ook ons om te dink aan die posisie van bejaardes in ons gemeenskap. Bejaardes voel so dikwels vergete en uitgestote. Dink hulle is in die pad. Daarom het baie bejaardes nie ‘n lewensverwagting nie, maar ‘n doodsverwagting. Die posisie het verander: eers huis, werk, verantwoordelikhede. Nou is talle bejaardes nie meer daartoe in staat nie. Talle is verswak. Baie van hiulle tydgenote sterf. Baie voel alleen. Kinders verstaan dit dikwels nie. Bejaardes se lewensruimte krimp. Die dae word lank. Hulle verlang so na ‘n oproep en om net met die kinders en kleinkinders te praat.Hulle is so bang vir verstoting en verwerping.

Wat vra ons bejaardes? Hulle vra nie veel nie. Hulle vra ‘n oor wat luister; ‘n hand wat help. “n Familie, volk of gemeente wat sy bejaardes vergeet, is ‘n familie, volk of gemeente wat sy herkoms vergeet en daarom ook geen toekoms het nie. Maar meer nog: wie bejaardes vergeet, vergeet ook dat die Here hulle verlos het!

Sal ons nie weer gaan luister na hierdie gebod nie? Sal ons nie erns maak, tyd inruim en ons bejaardes eer en op die hande dra nie? Die wyse waarop ons in die praktiese lewe aandag en respek en eer gee aan ons ouers, weerkaats ons verhouding tot die Here.

Waarom eis die Here eerbied vir ons vader/moeder? Ten diepste gaan dit nie om die sosiale orde wat gehandhaaf word nie! Ons is ouers slegs deur die genade van God, want God is die Een wat ouerskap gee! Ouers is die verteenwoordigers van die Here. Ons kan daarom nie werlik ouers wees soos God dit bedoel het, as ons nie in verbondenheid aan God ouers is nie!

Ons  ouers het by die Here gepleit om ons aan hulle te gee. God leen ons net vir ‘n tyd aan mekaar. As ons ons vader/moeder wat ons sien nie eer nie, hoe kan ons dan aan God gehoorsaam wees en Hom dien en eer! Juis omdat dit gaan om ouers as verteenwoordigers van God wat namens God en ter wille van God gesag dra en uitoefen:daarom moet ons hulle eer en respekteer.

Dis belangrik dat ons hier moet outhou dat vader en moeder op presies dieselfde vlak staan. Daar word nie onderskeid getref nie. Vader en moeder moet dieselfde respek en eer ontvang. Beide verlang na ons nabyheid, ondersteuning, belangstelling en liefde. Beide vra dat ons hulle laste sal help dra. Beide smag na ons liefde.

Die vraag kom dan ook na elkeen van ons toe: “Wat is my verhouding tot my pa en my ma? Hoe tree ek elke dag op? Is daar voortdurend konflik? Maak ek as kind die lewe so moeilik dat my pa dalk ook sê dat Abraham vir Isak wou offer omdat hy ook ‘n probleemkind gehad het. Of moet my pa of ma hulle voortdurend vir my skaam? Of kan hulle vandag trots wees op my? Dankbaar vir wat ek doen en hoe ek leef?

Ons verhouding  met ons ouers weerkaats ons verhouding met ons Hemelse Vader. Hierdie gebod roep ons op om weer te gaan nadink oor ons verhouding met ons ouers. Om die saak reg te maak en elke dag  in die liefde te leef. Om respek en eer te bring te alle tye.
0 Kommentaar: so far: